Luister: Giniel la’t wiel in woestyn

Suid-Afrika se Giniel de Villiers. Foto: MCH Photo/Toyota Gazoo Racing.

Gister se negende skof van die Dakar-veldtydren was ’n geskiedkundige dag vir die Toyota Gazoo Racing-span.

Nie net het Giniel de Villiers die skof gewen nie, maar met Henk Lategan tweede en Nasser al-Attiyah derde was dit omtrent ’n goeie dag om in ’n Suid-Afrikaans geboude Hilux T1+ rond te jaag.

Volgens De Villiers – wat in 2009 met die Dakar-louere weggery het – is hy in sy noppies met die 18de skofsege van sy loopbaan.

Die Suid-Afrikaner beklee nou die vyfde plek op die algehele punteleer.

“Ek is baie gelukkig; dit is altyd lekker om ’n Dakar-skof te wen. Dit was ’n goeie dag en dit is te danke aan die motorwerktuigkundiges wat deurnag gewerk het om die voertuig se skokbrekers reg te kry. Dit was eintlik ’n plesier om agter die stuur te wees,” het De Villiers gesê.

Dit was ook ’n goeie dag vir die Toyota Gazoo Racing-span. Foto: MCH Photo/Toyota Gazoo Racing.

Hy het in ’n onderhoud met AFP gesê hy is dankbaar dat die gesukkel van die eerste week iets van die verlede is.

“Daardie week is nie iets wat ek weer sal wil oordoen nie, maar ek is bly dit is nou verby. Ek weet nie waarom ons aanvanklik so gesukkel het nie en dit sal lekker wees as ons in die openingsweek ook goed kan vaar. Ons word net sterker en beter namate die tydren vorder; dalk moet dit oor drie weke beslis word!”

  • Jongste puntestand:
  1. Nasser al-Attiyah en Matthieu Baumel (Toyota Gazoo Racing): 30:15:04
  2. Sebastien Loeb en Fabian Lurquin (Bahrain Raid Xtreme): 30:49:09
  3. Yazeed al-Rajhi en Michael Orr (Overdrive Toyota): 31:08:48
  4. Orlando Terranova en Daniel Carreras (Bahrain Raid Xtreme): 31:46:13
  5. Giniel de Villiers en Dennis Murphy (Toyota Gazoo Racing): 31:55:05
  6. Jakub Przygonski en Timo Gottschalk (X-Raid Mini JCW Team): 31:56:08
  7. Vladimir Vasilyev en Oleg Uperenko (VRT Team): 31:58:37
  8. Martin Prokop en Viktor Chytka (Benzina Orlen Team): 32:14:32
  9. Sebastian Halpern en Bernardo Graue (X-Raid Mini JCW Team): 32:24:56
  10. Mathieu Serradori en Loic Minaudier (SRT Racing): 32:43:26.
  • Jeanette Kok-Kritzinger van Wiele2Wiele en Stephie Vetter van die Southern Africa Dakar Group hou ons op die hoogte van wat in die Dakar-tydren gebeur en hoe dit met ons Suider-Afrikaanse deelnemers gaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.