’n Toerfiets met superfietsgene

(Foto: Brian Cheyne)

Suzuki het onlangs sy opgedateerde GSX-S plaaslik bekend gestel en hierdie fiets se hooflig was seker die grootste gesprekspunt. Dit is twee LED-ligte wat op mekaar gestapel is en dit is nogal radikaal vir Suzuki. Nou het hulle die nuwe GSX-S1000GT bekend gestel, en dit is weer die voorkant wat die kollig steel.

Die nuwe GT se hoofligte is twee klein LED-eenhede wat op die uithoeke van die fiets sit, en bo dit sit die dagryliggies. Hierdie ontwerp is heel nuut vir Suzuki en herinner meer aan die Yamaha R1. Die groot skerm bied genoeg windbeskerming, maar is nie verstelbaar nie. Die enjin sit in ʼn swart allooiraam en tot by die voetruste het die fiets meganies onveranderd gebly. Daar is egter ’n splinternuwe subraam en ’n nuwe, herontwerpte agterkant. Die doel is om die ekstra lading van ’n passasier en bagasie te kan hanteer. Die passasiersitplek is betreklik hoog, en lyk op die oog af nie of dit baie ondersteuning sal bied vir ’n passasier nie.

Maar waar pas dié fiets in die reeks in? Voor die GT was daar die GSX-S1000F. Die F-weergawe was meganies dieselfde fiets as die kaalfiets GSX-S1000, maar met kantpanele en ’n skerm om ’n meer gemaklike ryervaring te bied. Die GT vervang nou die F-model en lyk heelwat skerper. Dit is oorlaai met die jongste elektronika, hoewel die meeste van die meganiese komponente oorgedra is van die F-model. Om die fiets behoorlik te kon toets het Suzuki my genooi na hul Weekend Away in Hazyview. Hierdie geleentheid vind elke jaar in die hartjie van die winter plaas. Nie net is die temperature heelwat meer aanvaarbaar in die Laeveld nie, maar dit het ook seker van Suid-Afrika se mooiste motorfietsroetes.

(Foto: Brian Cheyne)

Suzuki het wel kanttasse wat pas op die GT, maar omdat hulle nog nie beskikbaar was nie, moes ek my eie plan maak met bagasie vir die twee aande weg. Gelukkig het die vriendelike mense van Turkana Gear my uitgehelp met hul nuwe MadMules-sakke.

(Foto: Brian Cheyne)

Een groot verandering van hierdie model is die nuwe, volkleur instrumentasie. Suzuki het tot nou toe volstaan by eenvoudige vloeikristaleenhede, maar die nuwe 6,5” TFT-skerm lyk baie goed. Dit bied ook heelwat funksionaliteit as jy dit koppel aan jou foon. Met die Suzuki mySpin-app kan jy die hele skerm omskep in ’n navigasieskerm. Die instrumentasie is eenvoudig uiteengesit en maklik om te lees. Die fiets het verder ’n USB-sok op die instrumentepaneel. Die GT het spoedbeheer as standaard, maar ek het verhitte grepe gemis toe ek hier uit ’n bitter koue Gauteng vertrek het na Hazyview.

(Foto: Brian Cheyne)

Die enjin is steeds die 999 cc-eenheid wat sy oorsprong het in die 2005 K5-enjin. Dit lewer ’n skaflike 150 pk en op die oop pad voel die enjin glad nie asof jy hom enigsins vermoei nie. Die fiets trek sterk in enige rat, soveel so dat as jy eers in sesde rat is, kan jy hom net daar los. Dit is eintlik jammer, want die snelskakeling is nog een van die GT se pluspunte. Dit maak nie saak hoe vinnig of stadig jy ry nie, die skakeling is uiters glad, op en af. Dit is van die beste wat ek onlangs teëgekom het.

Ná Waterval-Boven op die N4 is die padoppervlak baie goed met lang vloeiende draaie. Hier was die GT in sy element, maar selfs die stamperige R539 tot by Sabie was geen probleem vir die Suzuki nie. In Sabie het ek gou koffie gedrink en omdat ek heelwat tyd tot my beskikking gehad het, het ek besluit om Long Tom-pas te gaan besoek. Ek het gedink die groot Suzuki gaan ’n handvol wees, maar ek was gelukkig verkeerd.

(Foto: Brian Cheyne)

Die laaste toets, vir my, was die 22 km uit Sabie uit in die rigting van Hazyview. Hier het ek die fiets baie geniet, sy grootte ten spyt. Die breë handvatsels het gesorg vir ’n fiets wat heerlik hanteer en waarmee ek die draaie met oorgawe kon aanpak. As jy ʼn bietjie oorywerig in ’n draai beland, sal die Brembo-remme sorg dat die fiets vinnig spoed verminder.

Die Saterdag het ons ’n sirkelroete gery via Kaapsehoop. Omdat daar geen haas was nie, kon ek die ander, rustiger sy van die GT ook waardeer en net die omgewing inneem. As ’n sporttoerfiets is die GT ideaal. Dit is ’n uiters gemaklike fiets vir elke dag se ry. Hy bied ’n gemaklike ryposisie en selfs bagasie, en as die pad begin kronkels maak, kan jy jouself steeds gate uit geniet. In die kol, Suzuki!

Die feite

Enjin999 cc viersilinder
Gewig (Nat)226 kg
Maksimum kraglewering150 pk
Saalhoogte81 cm
Tenkkapasiteit16 ℓ
PrysR249 900

Klik hier vir die produkblad.

Besoek Turkana Gear se webwerf hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.