Nissan se revolusionêre ysmeester

Dis nou al ʼn geruime tyd dat ons nie vreeslike groot ontwikkeling in motors sien nie. Elektriese voertuie is al amper 20 jaar ʼn ding en já, dit word beter, maar daar is nie iets geheel en al nuut nie. Daar is motors wat met waterstof ry – maar dis nog in die ontwikkelingsfase en ek self het nog nie met een gery nie.

Nissan het egter ʼn splinternuwe tipe dryfstelsel. Ons het die eerste keer in Stockholm in 2022 daarmee te doen gekry. ePower is die naam en vorentoe (of agtertoe) momentum word deur slegs elektriese motors bewerkstellig. Maar dit is nie noodwendig ʼn elektriese voertuig nie. Jy prop hom nie in nie, jy gooi brandstof in. Die brandstof is vir die 1.5-driesilinderturbopetrolenjin. Dié wek slegs krag vir die elektriese motors op.

Die X-Trail e-4ORCE bied 157 kW en 330 Nm op die voorste as, asook 195 Nm op die agterste as. Hy neem ʼn ratse sewe sekondes om na 100 km/h te snol van stilstand af. Nissan beweer ʼn gemiddelde brandstofverbruiksyfer van 6,3 ℓ/100 km … waarskynlik nie in die koue nie en ook nie op winterbande nie.

Dit is ʼn fantasties gekompliseerde stelsel, en ek is oortuig mense gaan wonder hoekom. Wel, daai deel is heel eenvoudig. Mens kry van die voordele van ʼn elektriese voertuig, maar geen van die nadele nie. Reikafstand en laai-infrastruktuur is glad nie meer ʼn probleem nie.

(Foto: Brendon Staniforth)

Van die voordele is die puik beheer wat mens nou het oor die voorste en agterste as. Om dit te illustreer vat Nissan ons Finland toe. In die winter. Dit is ys en sneeu so ver die oog kan sien. Ons ry van Helsinki drie uur noord op paaie met water, ys of ysmodder. Nêrens, nie een keer, sit die X-Trail ʼn voet verkeerd nie. Teen ʼn gemiddelde spoed van 100 km/h oor die 266 km handhaaf die X-Trail 7,9 ℓ/100 km – glad nie sleg vir die krag wat mens onder voet het nie.

Nissan se X-Trail is uiters gemaklik. Soveel só dat ek binne 10 minute gemaklik is met linkerhandstuur en die res van my vermoë kan gebruik om te konsentreer om aan die regterkant van die pad te ry en antikloksgewys óm ʼn sirkel te gaan.

Finland is pragtig. Mens is skoon bewoë oor hoe die mense in so ʼn gevriesde omgewing bly. By ons hotel vir die volgende twee dae is dit dadelik duidelik: Hier gaan gespeel word. Daar is ʼn baan, uitgekerf in die ys, op ʼn meer. Max Vatanen – die seun van Ari Vatanen, een van die mees gekroonde tydrenjaers van alle tye – is ons gasheer en hoofinstrukteur.

Mens is aanvanklik katvoet vir die ys, maar die knoppies op die bande, al is hulle hoe klein, is ʼn openbaring. Mens hoef geensins meer versigtig te wees vir ys as teer nie. Winterbande is wet hier in die verre noorde. Mens sou eenvoudig nie beweeg met somerbande nie.

Ek span my innerlike Mika Hakkinen in en begin my rondes om die baan. Dis werklik ʼn belewenis. Die elektriese viertrekstelsel kan presies die regte hoeveelheid wringkrag stuur na individuele wiele, nes hy wil. Dít, gepaard met die winterbande en hul knoppies maak ligte werk van ʼn ysmeer.

Die middag ry ons ʼn drie uur lange roete in en om die omgewing. Ons sweef oor ʼn ander meer. Altesaam 80% van die paaie is grondpaaie (onder die ys) en die res is teer. By tye ry ons ʼn billike 90 km/h – presies soos mens ʼn grondpad in Suid-Afrika sou aandurf, net die klimaatbeheer is gestel na 21 grade en dis -2 grade buite. Twee weke terug was dit ʼn verstommende -33 grade!

Tydens die rit terug van ons winterwonderland dink ek: Hier sit ons met ʼn sewesitplek-C-segment-sportnutsvoertuig. Hy vertoon werklik pragtig en is uiters luuks en gemaklik binne. Nissan is ʼn getroue handelsmerk in Suid-Afrika én sy onderdele is bekostigbaar. Die X-Trail kan selfs 1,8 ton sleep in die vyfsitplek-weergawe en 1,65 ton in die sewesitplek.

Daar is net een vlieg in die salf: Suid-Afrika is nie meer gewoond aan ware Europese produkte nie. Ons koop eerder goedkoop items van ʼn laer gehalte uit Indië of China.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Leon ·

Ongelukkig kan meeste van ons net die goedkoper items uit Indië of China bekostig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.