Nuwe Ford Ranger se pryse bekend

Ford het dié week amptelik sy nuutste Ranger aan die Suid-Afrikaanse media begin bekendstel. Slegs die dubbelkajuitmodelle vir eers – daar is ʼn intreemodel, XL, XLT en Wildtrak.

Die ontwerp is vir my werklik netjies. Mens sien duidelik die Ford Truck-ontwerptaal uit die VSA. Dis ʼn bitter mooi bakkie. Dit is egter aan die binneruim waar Ford nóg ʼn uitklophou slaan. Die binneruim is ergonomies uitgelê – daar is twee slim nuwe bekerhouers in die paneelbord voor die lugopenings sodat die lugreëling jou gemmerbier kan koud hou.

Ander oulike nuutjies is die maatband op die agterste klap met gaatjies waar mens klampe kan vasmaak – dus kan mens die bakkie se klap as werksoppervlak gebruik. Slim. Die trappie agter die agterste wiel gee ook ʼn puik plek om op te klim sodat mens iets agter uit die bak kan haal sonder om soos ʼn gestrande walvis te lyk.

Al die bakkies, van die intreemodel tot die Wildtrak, kry ʼn digitale instrumentskerm. Daar is ook ʼn reuseraakskerm wat Apple CarPlay of Android Auto bied, mét of sonder ʼn draad. Die knoppies is ook steeds daar om die volume te beheer en die temperatuur en waaier se spoed te stel. Dit werk puik.

Onder die kap is daar vele opsies beskikbaar. Die 2.0-enkelturbodiesel is beskikbaar met ʼn 6-spoed-handrat óf 6-spoed-outo. Dit is in die intreemodel, XL en XLT beskikbaar. Vanaf XLT-spesifikasie kan mens die dubbelturbodiesel met die 10-spoed-outo kry. Elke spesifikasie is beskikbaar met óf ʼn 4×2- of 4×4-dryfstelsel – almal met laestrek.

XLT is dus beskikbaar met enkel- of dubbelturbo. Wildtrak, die reeksleier, is beskikbaar met dubbelturbo óf V6 diesel. Die enkelturbo bied 125 kW en 405 Nm, die dubbelturbo bied 154 kW en 500 Nm, en die reeksleidende V6 bied 184 kW en 600 Nm. Die hele reeks kan 3,5 ton sleep.

Dit is wel op die pad waar mens sien dit is nie net enige Ford Ranger nie. Dié een is ʼn splinternuwe voertuig. Die ritgehalte is heelwat verbeter op die vorige model, maar die werklike openbaring is die nuwe programmering op die 10-spoed-ratkas. Daar is egalige versnelling sonder enige getrek of opwen van die wringkragomsitter. Dit verbeter ook wesenlik die BiTurbo se brandstofverbruik.

Die feit dat die hele reeks al die digitale skerms kry, en spoedkontrole beskikbaar is as ekstra op selfs die goedkoopste model, is puik. Dan pluk Ford nóg ʼn haas uit die hoed – daar is ses bybehorepakkette beskikbaar op elke model. Dan kan mens jou eie Ranger aanpas presies soos jy hom wil hê. Byvoorbeeld – kleiner of groter sierwiele kies, lugopenings agter vir die kinders, USB-poorte, aanpasbare spoedkontrole – ag, die lys is lank.

Die Ranger waarop ek my eie geld sou spandeer, is ʼn 2.0-enkelturbo-6-spoed-outo 4×4, met lugopenings agter, 16″-wiele met alleterreinbande en spoedkontrole … ek dink dit sal perfek wees – en waarskynlik so R650 000!

Die Silverton-aanleg se opgraderings is klaar. Ford kan nou vir die eerste keer die versneller in die mat begrawe en bakkies bou soos hulle weet hulle kan. Die gehalte en gemak van die nuwe Ranger is ongeëwenaar in die mark – dié Ranger gaan groot dinge doen.

Die reeks lyk só:

Ford Ranger 2.0 SiT dubbelkajuit 4×2 handrat125 kW/405 NmR486 000
Ford Ranger 2.0 SiT dubbelkajuit 4×4 handrat125 kW/405 NmR528 600
Ford Ranger 2.0 SiT dubbelkajuit XL 4×2 handrat125 kW/405 NmR529 900
Ford Ranger 2.0 SiT dubbelkajuit XL 4×2 outo125 kW/405 NmR544 400
Ford Ranger 2.0 SiT dubbelkajuit XL 4×4 handrat125 kW/405 NmR607 300
Ford Ranger 2.0 SiT dubbelkajuit XL 4×4 outo125 kW/405 NmR621 900
Ford Ranger 2.0 SiT dubbelkajuit XLT 4×2 outo125 kW/405 NmR592 700

 

Ford Ranger 2.0 SiT dubbelkajuit XLT 4×4 outo125 kW/405 NmR669 800
Ford Ranger 2.0 BiT dubbelkajuit XLT 4×2 10-spd outo154 kW/500 NmR702 300
Ford Ranger 2.0 BiT dubbelkajuit XLT 4×4 10-spd outo154 kW/500 NmR782 100
Ford Ranger 2.0 BiT dubbelkajuit Wildtrak 4×2 10-spd outo154 kW/500 NmR778 300
Ford Ranger 2.0 BiT dubbelkajuit Wildtrak 4×4 10-spd outo154 kW/500 NmR867 700
Ford Ranger 3.0 V6 dubbelkajuit Wildtrak 4WD 10-spd outo184 kW/600 NmR953 500

Die reeks word gedek deur ʼn 4 jaar/120 000 km-waarborg. Diensplanne is opsioneel beskikbaar.

Ons sal weer tyd met die Ranger deurbring en dan meer praat oor brandstofverbruik en hom teen sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

vuurvliegie ·

Ek sleep swaar skiboot en karavaan. Ek het baie fabrikate gery en hak al 5 jaar vas op die Ranger sonder GEEN probleme. Die Ranger is ‘n plesier om langpad te ry en bied ‘n gerieflike rit met genoeg krag. Sien baie uit na die V6 met 184kW en 600NM.

absoluut ·

Absoluut, geniet hom. Ek het die 2.0 Bi-turbo en geniet hom net elke keer meer en meer wanneer ek hom ry

vuurvliegie ·

Ek het tans ook die 2.0 Bi turbo waarme ek sleep. Ek het voor dit 3.2 ‘s gehad maar die klein 2.0L staan niks vir hulle terug nie. Die 10 spoed ratkas maar hom beter.

Koos 100 ·

Ford moes hard nommers kou om die bakkies teen die pryse beskikbaar te maak. Die kat is weer in die bakkie(duiwe) hok losgelaat. Ek reken die Ranger gaan goed verkoop, veral met die Toyota wat sukkel met sy voorraad ketting.

Wielspore ·

Opgewonde tye in die Bakkie mark, verbruikers kan nou ‘n topgehalte dubbel kajuit bakkie koop vir so min as R486K, afhangende van jou begroting kan jy dalk een duurder koop. Ek is seker van die ander Bakkie vervaardigers sit nou regop in hulle stoele want die nuwe Ranger gaan aanspraak maak op sy kwota in die Bakkie mark. Met so ‘n puik gehalte plaaslik vervaardigde Bakkie gaan dit pynlik wees en die bloed gaan loop. Sal ook wil sien wat is die pryse op die nuwe Amarok gaan wees as hulle bekend gestel word aangesien VW nog altyd heelwat duurder is.
Lekker ry!

JohanR ·

AS ek die geld gehad het sou dit ‘n moelike besluit wees tussen die Ranger, Hilux en VW Amarok. Ek hou eintlik van die Amarok.

piet ·

Ek betaal nie soveel vir ‘n kar nie. Sal tweedehandse twak ry vir die res van my lewe. Sien geen sin daarin om soveel te betaal op ‘n nuwe voertuig nie, belaglik. Wat wil jy in elk geval met so ‘n groot ding maak?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.