Plaaslike motorsportsterre wil spiere bult in kragtige Ranger

(Foto: X/Ford South Africa)

Ford en Neil Woolridge Motorsport (NWM) loop so hand aan hand soos rugby en braaivleis of boeretroos en beskuit.

En as ʼn mens na die splinternuwe Ford Ranger kyk, kan dié vennootskap net hoër hoogtes tydens vanjaar se nasionale veldrenkampioenskap bereik.

Die span van NWM en Ford het ’n splinternuwe vuurwa by die motorvervaardiger se reuse-aanleg in Silverton bekendgestel.

Sommer met die eerste oogopslag kon jy sien dat dié veldrenmonster nie sommer enige stories van kabouters sal duld nie.

Dit is ʼn Ranger, maar met selfs meer spiere.

Die bakwerk lyk lekker aggressief, maar terselfdertyd ook hoogs funksioneel met aërodinamiese en verkoelingsverbeterings wat aangebring is.

“Ons kan nie wag vir die nuwe seisoen om momentum op te bou nie sodat ons kan wys wat ons Ranger kan doen nie,” het Neil Woolridge, spanbaas van NWM Ford Rally-Raid, gesê.

Oudergewoonte sal Gareth Woolridge en Boyd Dreyer weer met ʼn kragtige vertoning vorendag wil kom. Dié duo is die verdedigende veldrenkampioenspan en hulle het ook waardevolle ervaring by vanjaar se moordende Dakar-veldtydren opgedoen waar hulle sewende in die laaste skof klaargemaak het.

Volgens die spanhoof het ʼn spul vooraftoetse saam met die Dakar- en plaaslike veldrenervaring tot die Ranger-wenresep bygedra.

Hoewel dinge nie heeltemal volgens plan by die eerste kampioenskapaksie in Malelane verloop het nie, is die span oorgehaal om die oorblywende rondes onder die heel voorste deelnemers af te sluit.

“Ná al die werk wat ons vooraf gedoen het, was dit nie heeltemal die uitslag wat ons wou gehad het nie. Dit is egter hoe dit soms in motorsport gaan. Ons sal egter dinge na die beste van ons vermoë ontleed en  ʼn sterker vertoning in Vryheid lewer,” het Woolridge gesê.

Ondanks ʼn paar meganiese terugslae is die NWM-spanhoof in sy noppies met die vuurwaens se algehele vertoning.

“Dit het gelyk of Gareth en Boyd tweede sou geëindig het as hulle nie in die stof teruggehou is nie. Dan het Lance [Woolridge] en Kenny [Gilbert] hulself ook goed van hul taak gekwyt.”

  • Die Suid-Afrikaanse veldrenseisoen:

24-25 Mei: Die Vryheid 400 in Vryheid

21-23 Junie: TGRSA-marathonren in Thabazimbi

16-17 Augustus: Die Parys 400 in Parys

13-14 September: Die Vrystaat 400 in Welkom

8-9 November: Die Gauteng 400 in Rayton/Bronkhorstspruit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.