Ranger kry eindelik ook enkel- en superkajuitmodelle

Deur Martin Pretorius

Ford se nuwe Ranger is aanvanklik slegs as dubbelkajuit beskikbaar gestel. Ford het nou ʼn totaal van 10 enkelkajuit- en superkajuitmodelle by die reeks gevoeg, wat kopers se keuse in die Ranger-reeks tot 24 verskillende variante uitbrei.

Die enkelkajuitreeks bestaan uit vier modelle, almal met die XL-spesifikasievlak toegerus en met dieselfde 2.0 liter‑enkelturbo‑dieselenjin wat 125 kW en 405 Nm lewer. Kopers kan kies tussen outomatiese of handratkaste, albei met ses gange, en 4×2- of 4×4-aandryfstelsels is beskikbaar met albei ratkaste. Intreevlaksuperkajuitmodelle word ook aangebied in XL-spesifikasie, en bied die meeste van die enkelkajuit se aandryfstelsels, behalwe dat die 4×4-weergawe uitsluitlik outomaties is.

Die superkajuitbakvorm bied egter ook twee beter toegeruste modelle. In hierdie gewaad is die luukser XLT beskikbaar met die enkelturbo-enjin, 6-spoed‑ outomatiese ratkas en 4×2-aandryfstelsel, sowel as ʼn 4×4 met die 2.0 liter‑dubbelturbodiesel en ʼn 10-spoed‑ outomatiese ratkas. Die dubbelturbodiesel en 4×4-stelsel is ook die enigste keuse in die nuwe Wildtrak-superkajuit, en bied 154 kW en 500 Nm in albei modelle.

Ons het meestal tyd met die outomatiese XL‑superkajuitmodel deurgebring tydens die drie dae lange bekendstellingsrit, waar die kombinasie van sy gladde ratkas en die wye verspreiding van wringkrag uit die enkelturbo-enjin indrukwekkend was. Die werkverrigting voel heelwat lewendiger as wat die syfers jou laat verwag, en hy is ook verbasend gretig om uit die blokke te spring.

Verbysteekversnelling is heeltemal voldoende met die ligste enjin, en dis maklik om te sien hoe ʼn XL meer as vinnig genoeg vir die meeste kopers sal wees. Hy is ook verbasend ekonomies, en die meeste eienaars behoort gemiddeld minder as 8,5 ℓ/100 km te gebruik.

Die dubbelturbo‑XLT is egter in ʼn heel ander liga, en sy verrigtingsvoordeel is duidelik onder alle omstandighede. Soos ons in vorige verslae vermeld het, sorg die 10-spoed‑ outomatiese ratkas se nuwe programmering vir ʼn groot verbetering in vergelyking met sy voorganger, en hy is lekker wakker as daar ʼn verbysteekgeleentheid kom. ʼn Mens sou dalk kon wonder hoekom die Wildtrak nie soos sy dubbelkajuitboetie met die turbodiesel-V6 spog nie, maar die meganies-identiese XLT se gewillige verrigting dui daarop dat die groter enjin nie werklik nodig is nie.

Rygerief is ook bogemiddeld vir bakkies in hierdie klas, en die finesse waarmee hulle grondpaaie hanteer, is eersteklas. Op teerpaaie is daar steeds effense vibrasies deur die stuurwiel en sitplekke, maar dis ʼn kenmerk van hierdie soort bakkie en kan nie teen die Ranger gehou word nie. Padhouvermoë is ook goed vir ʼn bakkie, en die stuurstelsel gee genoeg terugvoer van die padoppervlak sonder om steurend te word. Kajuitgeraas is goed gedemp, en selfs die Ranger XL verskaf ʼn gemaklike, kalm omgewing om lang afstande mee kort te maak.

Daar is egter een gebied waar die XL en XLT nie heeltemal so goed afgerond soos die Wildtrak (of Raptor) is nie, en dis in hulle kajuite. Die luukse Wildtrak gebruik sagte plastiek op sy instrumentpaneel en deurpanele, terwyl die XL en XLT harde plastiek orals het. Daar is geen gerammel van die plastiekpanele in die laerspesifikasie‑modelle nie, maar die aanvanklike gevoel van gehalte verdwyn sodra jy aan die deurpaneel, middelkonsole of stuurkolom raak.

Hierdie effek kom na vore omdat die enigste sagte oppervlakke in die twee laervlak-modelle die armleunings en sitplekke is, wat effens teleurstellend is in voertuie met intreevlakpryse digby ʼn halfmiljoen rand. Die XL se plastiekstuurwielraam voel ook maar goor, maar die XLT se leeroorgetrekte stuurwiel gee darem ʼn heelwat bevredigender sensasie deur die vingers. Dit beteken dat die laer vlak Rangers inderwaarheid goedkoper voel in hulle kajuite as wat jy sou verwag, veral aangesien hulle andersins so beskaaf is.

Buiten hul subjektiewe laerklas‑kajuitafwerking, is daar min om te kritiseer aan die nuwe enkel- en superkajuit‑Rangers. Die twee enjinopsies is albei werklik indrukwekkend, hulle het genoeg standaardtoerusting om die meeste kopers se behoeftes te bevredig, en hul pryse vergelyk goed met hul kompetisie. ʼn Waarborg vir vier jaar of 120 000 km behoort genoeg gemoedsrus aan sakemense te gee, en opsionele diens- of onderhoudsplanne vir tot agt jaar of 165 000 km sal private kopers ook lok.

Die enkelkajuitreeks lyk só:

Ford Ranger 2.0 SiT XL 4×2 handratR464 200
Ford Ranger 2.0 SiT XL 4×2 outoR477 800
Ford Ranger 2.0 SiT XL 4×4 handratR531 300
Ford Ranger 2.0 SiT XL 4×4 outoR545 000

Die superkajuitreeks lyk só:

Ford Ranger 2.0 SiT XL 4×2 handratR485 400
Ford Ranger 2.0 SiT XL 4×2 outoR499 900
Ford Ranger 2.0 SiT XL 4×4 outoR542 900
Ford Ranger 2.0 SiT XLT 4×2 outoR547 100
Ford Ranger 2.0 BiT XLT 4×4 outoR688 900
Ford Ranger 2.0 BiT Wildtrak 4×4 outoR772 800

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.