Sagtebagasie-oplossing vir motorfiets-avonturiers

Michnus en Elsebie Olivier

Ek volg nou al geruime tyd die wel en wee van Michnus en Elsebie Olivier. Hulle is twee Suid-Afrikaanse avonturiers wat nou al vir meer as ses jaar op hul motorfietse reis en meer as 100 000 km afgelê het.

Ek het hulle die eerste keer in 2018 ontmoet en sedertdien gereeld in kontak gebly. Ek verwonder my gereeld aan die pragtige foto’s en stories op hul webwerf. Nou het die twee hul eie bagasie-oplossing ontwikkel, en ek het gaan inloer tydens die bekendstelling van hul jongste produk, die MadMules- raklose sakke.

Die storie van die sakke is egter ’n storie op sy eie. Een aand, op ’n strand in Mexiko, het hulle gesels met ’n ander paartjie wat ook besig was om die wêreld te deurkruis, Peter en Leonie. Die gesprek het later gegaan oor die koste en die gebrek aan funksionaliteit van motorfietsbagasie. Net daar is die saadjie geplant om hulle eie modulêre bagasie te ontwikkel. Omdat hulle al duisende kere bagasie in- en uitgepak het en al ’n paar keer hul fietse laat val het, het hulle ’n baie goeie idee gehad van die vereistes van die bagasie. Saam met Piet Human, ’n Suid-Afrikaner wat tans in die VSA woon, het hulle begin ontwikkel aan Turkana Gear.

Die Duffalo

Hulle het begin met die basiese konfigurasie vir motorfietsbagasie: twee kantsakke en ’n los sak wat bo-op die fiets monteer is. Die name van die sakke is woordspelings op Afrika-diere. Die kantsakke staan bekend as HippoHips, en die bo-sak staan bekend as die Duffalo. Die sakke is uiters goed uitgedink en is natuurlik 100%-waterdig. Die hoofeienskap van al die sakke is dat dit versoenbaar is met die internasionale MOLLE (Modular Lightweight Load-carrying Equipment)-stelsel. Dit bestaan uit swaardiensbandjies aan die buitekant van die sakke wat jou toelaat om ander MOLLE-produkte daaraan vas te maak. Jagters en vissermanne sal bekend wees met sulke produkte.

Turkana bied ook twee kleiner sakkies, die Oxpacker en die BushBaby, wat deel uitmaak van hulle produkreeks. Die Oxpacker is gemaak vir ’n silindriese houer soos ʼn koffiefles en die BushBaby is ’n klein, vierkantige houer vir items wat jy maklik wil kan bereik, sonder om jou kantsakke oop te maak.

Nog ’n nuttige produk is die PelliPouch wat jy aan jou motorfiets se handvatsels vasmaak. Hier kan jy jou los items stoor waar dit maklik bereikbaar sal wees, soos jou foon of beursie.

Hul jongste produk is die MadMules. Hierdie stelsel het sy naam gekry van die donkies in Suid-Amerika wat altyd volgepak rondloop. Die konsep is eenvoudig: jy het geen rame of bykomende hegstukke nodig om die MadMules te monteer nie. Dit is ten volle verstelbaar en pas ook op feitlik enige fiets. Hoewel dit hoofsaaklik onwikkel is vir die avontuurmark, het ek ’n stel op my Ducati Supersport monteer en dit maak pas! Ek het dit ook al met min moeite op Suzuki se GSX-S 1000 GT en Kawasaki se Ninja 1000 SX gemonteer.

Al Turkana se produkte word plaaslik vervaardig en die meeste van die materiaal word ook plaaslik verskaf. Dit bied werkgeleenthede vir heelwat mense. Een area wat egter nie onderhandelbaar is nie, is die naverkoopdiens. Turkana bied ’n volledige waarborg, en sou daar iets skeefloop wat nie hulle skuld is nie, sal hulle steeds uit hul pad gaan om te help waar hulle kan. Een van die sakke het selfs ’n komiese etiket waarop daar staan: “Do not handle with care.” Dit spreek van die vertroue wat hulle in hulle produk het. So, as jy op soek is na duursame sagte bagasie, kry dit plaaslik, en by mense wat verstaan hoe bagasie moet werk as jy reis.

Gaan loer gerus op hul webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SjN ·

Vertoon goed en prakties, daar word gemeld van waterdig maar is hul ook stof dig soos die staal panniers?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.