Suzuki-padskooldag ideale manier om jaar af te skop

(Foto: Brian Cheyne)

ThinkBike Marshals, die ThinkBike Road Safety Campaign en die Motorcycle Safety Institute is tans besig met ’n gesamentlike aksie om ’n bewusmakingsveldtog vir motorfietse van stapel te stuur. Die doel is om motorfietsry te bevorder as ’n leefstylkeuse en juis op padveiligheid klem te lê. Hulle beoog om die hele April af te staan vir dié doel. Hulle sal dan ook vanaf 28 tot 30 April by die African Bike Week aan die Suidkus teenwoordig wees.

Dit is ’n uiters belangrike saak om te ondersteun, want ons motorfietsryers het al die hulp nodig wat ons kan kry. Totdat daardie bewustheid nog nie gekweek en ingeburger is nie, moet ons ons opskerp om veilig op die pad te wees. Gelukkig hou Suzuki gereeld hul padskooldae by Red Star Raceway naby Delmas. Jy hoef ook nie ’n Suzuki te ry om deel te neem nie.

(Foto: Brian Cheyne)

Suzuki borg die hele dag –jou inskrywingsgeld van R300 is vir middagete en ook ’n donasie aan die Gidshondvereniging van Suid-Afrika. Hierdie dae word aangebied om nuwe ryers ’n kans te gee om in veiligheid om ’n baan te kan ry. As jy egter dink jy gaan kom oefen om jou tye om die baan te verbeter, dan is jy op die verkeerde plek.

Die verrigtinge het reeds vroeg afgeskop met registrasie wat al om 08:00 begin het. Daarna is ons almal na ’n klaskamer geneem waar Stuart Baker van Suzuki mooi die doel van die dag aan studente verduidelik het. Daar is heelwat praktiese voorbeelde genoem van hoe jy wat jy vandag op die baan gaan oefen, kan toepas op jou daaglikse pendel. Ek glo elke persoon in die groep, ongeag sy of haar vlak van vaardigheid, het daar weggestap met iets nuuts om oor te dink. Toe Stuart vra wie die heel eerste keer op ’n baan gaan wees, was ek baie bly om te sien hoeveel hande opgesteek is. Daar is soveel mense wat wil kom leer om veilig te wees. Dit is ook verblydend om te sien dat heelwat motorfietsklubs op die dag verteenwoordig is.

Al die ryers is tydens registrasie in klasse ingedeel, en om te bevestig dat hierdie nie ’n jaagdag is nie, was daar glad nie eers ’n klas A nie. Die klas B- en C-ryers het eerste onder die wakende oog van die instrukteurs uitgegaan. Dit was egter die beginnerklas D-ryers wat die meeste baat kon vind by hulle sessies. Die instrukteurs, in hul geel hemde, het die groepe uitgelei en mooi gaan wys waar en hoe om ’n draai te benader en veilig aan die anderkant uit te kom. Vir die wat opgelet het, was dit uiters waardevol. As daar iets spesifieks was wat jy wou vra of verbeter, kon jy ’n instrukteur vra om jou individueel by te staan en te help. Dit is ’n wonderlike leergeleentheid vir enige nuwe ryer.

Tydens middagete het Suzuki vir ons ’n visuele demonstrasie gegee dat ’n motor baie vinniger stop as wat ’n motorfiets kan. Die motor was Suzuki se S-Presso en die fiets was die Suzuki Hayabusa. Teen 60 km/h en teen 120 km/h het die voertuig beter gevaar omdat hy vier kontakoppervlakke het teenoor die fiets se twee. Daarna is ons gevra om te skat hoe lank dit die Hayabusa sou neem om van 160 km/h tot stilstand te kom. Die Hayabusa het teen 160 km/h ankers gegooi, en die meeste van die ryers was verbaas hoe ver hulle verkeerd was. Dit was net weereens ʼn visuele herinnering dat spoed nie altyd jou maat is nie.

Só ʼn dag is van onskatbare waarde. Elke minuut wat jy op ’n baan deurbring en net daarop kan konsentreer om jou eie vaardigheid te verbeter, verhoog jou kanse op oorlewing in die verkeer. Hou gerus Suzuki se Facebookblad dop vir meer inligting en wanneer die volgende baandag gaan plaasvind.

(Foto: Brian Cheyne)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.