Toyota GR-Beker sorg vir hope pret

Dit was die naweek die intreestryd in die GR-86 liga van die GR-Beker.

Ses motorjoernaliste meet kragte in die renvoorbereide Toyota GR-86 motors en ses jonges jaag in die GR Yaris-liga.

Ná ʼn puik kwalifiserende rondte het Maroela Media in die derde plek gestaan. Ek is erg trots op die dié posisie aangesien ek nog nooit voorheen in ʼn amptelike wedren deelgeneem het nie.

Die eerste wedren was goed vir ervaring opdoen. Daar was nie groot vuurwerk iewers in ons liga nie, behalwe vir die vinnige Thomas Falkiner (TimesLive) wat vinnig genoeg was om tussen die Yarisse te gaan rondkrap. Ek het aanvanklik gedink ek sal die simulator-renjaer Setshaba Matshigo (Asamm) dalk kan vang, maar sy talent is van só ʼn aard dat hy naderhand begin wegraak het. Die no. 3-motor met sy groot Maroela-embleem op die deur het uiteindelik ook derde geëindig!

Die tweede wedren was wel ʼn perd van ‘n ander kleur. Ons was meer opmekaar met die wegspring, en die ou hand Mark Jones van Citizen was dadelik op my. In draai twee op die eerste rondte vat hy my verby. Ek dink toe – moet nou nie gaan stampkarretjies speel nie, laat hy verbygaan en begin hom dadelik inkatrol – daar sal weer geleentheid kom. Uiteindelik is ek naby genoeg om behoorlike druk op hom te sit. In dieselfde draai is hy nét te laat op die remme, en ek duik binne en vat hom verby. Ons is wel langs mekaar die hele rondte in ʼn enorme geveg vanaf die draai tot oor die wenstreep! Jones is my net-net voor – en raap derde plek op vir resies twee.

Falkiner het sy talent in beide wedrenne gewys en nie ʼn voet verkeerd gesit nie. Mashigo was tweede in beide wedrenne. Chad Lückhoff van Auto Trader  het vyfde oor die eindstreep gejaag gevolg deur Reuben van Niekerk van News24.

Reuben en Chad het beide ʼn magdom ervaring en ek is oortuig hulle gaan nie agter in die veld bly nie… daar ís nog ses wedrenne vanjaar!

Ek weet min van die aksie in die GR Yaris-liga omdat hulle heelwat verder voor ons is op die baan. Die algehele posisies aan die einde van die dag is Taariq Adam in sesde plek, Ryan Naicker vyfde en Christopher Pretorius in die vierde plek.

Daar was glo ‘n verbete stryd tussen die Yaris-voorlopers en Nikki Vostanis (derde), Karah Hill (tweede) en Sa’aad Variawa (eerste) het hul jare se ervaring gewys. Van dié manne (en een vrou) jaag al vir baie jare, meestal in knortjorre – maar ek weet die roos tussen die dorings, Karah, het hope ervaring in die Polo Cup.

Van jongste na oudste is Sa’aad (14), Nikki (15), Ryan (15), Christopher (19), Taariq (21) en die roos, Karah (22)!

Dit gaan ʼn puik jaar wees!

Die volgende wedren is op Saterdag 18 Maart by Killarney in Kaapstad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.