Video: 1 280 km met een tenk, dié sportnuts kan!

Die mu-X het hom sonder twyfel as ʼn ekonomiese en geldbesparende sportnutsvoertuig bewys. (Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

Suid-Afrikaners is weens die nimmereindigende verhoging in brandstofpryse voortdurend op soek na maniere om hul brandstofuitgawes beter te bestuur. Daarom word daar veral na ʼn voertuig se brandstofuitgawes gekyk wanneer dit by die aankoop van ʼn voertuig kom.

Isuzu Suid-Afrika het dus vanjaar vir ʼn tweede keer ʼn opwindende uitdaging gereël om aan mense te bewys hoe brandstofvriendelik sy voertuie is.

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

Die voertuigvervaardiger het in Maart verlede jaar gemaklik met sy sewendegenerasie-Isuzu-model, ʼn 1.9 ℓ-diesel-D-Max, vanaf Johannesburg tot in Kaapstad – met nét een tenk – gery.

Maroela Media het vroeër berig Grant McCleery, ʼn voormalige renjaer en direkteur van Driving Dynamics en gevorderde bestuursinstrukteur by Isuzu, het teen ʼn konstante spoed van 100 km/h dié 1 431 km afgelê en slegs 73,82 ℓ diesel gebruik.

Dit is ʼn ongelooflike 5,1 ℓ/100 km, amper 20 km per liter.

Vanjaar het Isuzu dit weer gedoen!

Altesame 14 deelnemers het agter die stuur van ses 1.9 ℓ-diesel-mu-X-sewesitplek-sportnutsvoertuie en een D-Max-bakkie geklim om die ekonomiese brandstofverbruik en geldbesparingsvermoë van dié voertuie te beproef.

Dié keer vanaf Midrand in Gauteng na Gqeberha, via Oos-Londen in die Oos-Kaap.

(Foto: Verskaf/Isuzu Suid-Afrika)

McCleery het vanuit die staanspoor benadruk dat hoewel die roete effe korter as verlede jaar sʼn is, “dit weens die talle opdraandes baie meer uitdagend gaan wees”.

Die uitdaging het oor drie dae gestrek. Maroela Media het self die pad saam met verskeie ander uitgesoekte mediaverteenwoordigers en onafhanklike beïnvloeders aangedurf, met net een doel voor oë: om die uitdaging te wen deur so min moontlik brandstof op die langpad te verbruik.

Janice du Plessis van Maroela Media en haar spanmaat vir die uitdaging, Jaco Roos. (Foto: Maroela Media)

Verskeie reëls het egter vir die uitdaging gegeld om seker te maak dat almal die eerlike, reguit pad loop.

Die voertuig was vooraf met Engen se “Dynamic Diesel” met “Pro Drive” opgevul, waarna die brandstofklep met gom verseël is om te verhoed dat enige deelnemers gedurende die uitdaging hul brandstoftenks opvul.

Deelnemers is ook nie toegelaat om stadiger as 80 km per uur te ry nie.

Om dié reël toe te pas, het ʼn beampte van Isuzu tydens die roete op ʼn konstante spoed van 80 km per uur agter deelnemers aangery.

Verskeie kontrolepunte is ook aan deelnemers verskaf en indien die beampte voor deelnemers by die kontrolepunte sou aankom, is deelnemers onmiddellik gediskwalifiseer.

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

Op die eerste dag het deelnemers die pad vanaf Isuzu se kantore in Midrand tot in Bloemfontein – meer as 420 km – aangepak.

En hoewel die geesdrif hoog was, moes ons mooi konsentreer om die petrolverbruik laag te hou.

Met brandstofbesparing aan die voorpunt, is deelnemers aanbeveel om te ry soos wat hulle met hul gesinslede sou ry. By Kroonvaal, die eerste kontrolepunt en ongeveer 200 km later, het die voertuig nog byna 1 600 km se diesel in sy tenk oorgehad.

(Foto: Verskaf/Isuzu Suid-Afrika)

By aankoms in Bloemfontein se Bali-boetiekhotel, die eerste oornagpunt, het die brandstofverbruik ongelooflik goed gelyk, met meer as 1 500 km se diesel oor om tot in Gqeberha te kom.

Deelnemers was op dag twee vroeg uit die vere om na Oos-Londen – meer as 560 km verder – te reis.

Hierdie pad was senutergend, met talle opdraandes wat deelnemers gedwing het om harder te fokus om petrolverbruik konstant te hou. Verskeie dele het padwerke gehad, wat deelnemers noodsaak om meer brandstof te verbruik as beplan. Die weersomstandighede – reënerig en koud – was egter ideaal, omdat voertuie meer brandstofvriendelik in koeler weer is.

Met ons aankom by die tweede oornagpunt, die Mpongo-privaatnatuurreservaat ongeveer 20 km voor Oos-Londen, het die voertuig se brandstofaanwyser aangedui dat ongeveer 960 km se diesel in die tenk oor is.

Met ʼn bietjie meer as 300 km tot by die eindbestemming was ons nie net oortuig dat ons dit met een tenk gaan maak nie, maar dat ons die uitdaging gaan wen.

Vroeg op dag drie het McCleery deelnemers se senuwees probeer kalmeer.

“Ons het voorheen ʼn toetsrit met dieselfde voertuie in baie moeiliker weersomstandighede gepak en ons het dit gemaak; as ek so na jul brandstofverbruik kyk, kan ek met ʼn geruste hart sê dat al sewe voertuie dit gemaklik tot by ons eindbestemming sal maak.”

(Foto: Verskaf/Grant McCleery)

Die oorblywende roete was egter senutergend. Die wind was lastig en deelnemers moes die een bult ná die ander pak.

Ons het geweet dat ons dit gemaklik tot in Gqeberha met een tenk gaan maak, maar of ons brandstofverbruik teenoor die ander voertuie sou uitstaan, het ons laat naels byt.

Met die aankoms by Isuzu se vervaardigingsaanleg in Gqeberha het talle werkers die sewe spanne met ʼn gejuig ingewag. Dit was verblydend om te weet dat elke voertuig dit suksesvol tot in Gqeberha – altesame 1 280 km verder – met nét een tenk diesel – gehaal het. En dít met ʼn sewesitplek-sportnutsvoertuig.

(Foto: Verskaf/Isuzu Suid-Afrika)

Boonop het ons voertuig se tenk byna 500 km se diesel oorgehad. Ons het dus altesame 5,2 ℓ per 100 km of 18,9 km per liter met dié voertuig gekry.

McCleery het tydens die aankondiging van die wenspan aangedui dat die wenner soos volg bepaal is: By die eindpuntbestemming is elke motor weer met dieselfde brandstof opgevul. Die motor wat die minste brandstof benodig het om vol te wees, is as wenner aangekondig.

“Die reis was nie maklik nie. Van uitdagende terrein tot strategiese beplanning, het die deelnemers dit alles seepglad hanteer, danksy hul ongelooflike spanwerk en ons vennootskap met Engen SA.”

Grant McCleery (Foto: Verskaf/Isuzu Suid-Afrika)

Die mu-X het hom sonder twyfel as ʼn ekonomiese en geldbesparende sportnutsvoertuig bewys.

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

Buiten sy uitsonderlike brandstofvriendelikheid het dit ook nie tydens die langpad voortdurend gevoel of jy wou stilhou om bene te strek nie. Die voertuig is buitengewoon gemaklik en boonop besonder netjies ook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.