Motoriste betaal weer meer by petrolpomp

(Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Suid-Afrikaners betaal van Woensdag weer meer vir petrol, maar minder vir diesel, paraffien en LP-gas.

Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie, het Maandag ʼn verhoging van 37 sent per liter in die prys van petrol aangekondig.

Gegrond op huidige plaaslike en internasionale faktore word die brandstofpryse soos volg aangepas:

  • alle grade petrol: styg met 37c per liter
  • diesel met 0,05% swael: daal met 30c per liter
  • diesel met 0,005% swael: daal met 36c per liter
  • paraffien (groothandel): daal met 19c per liter
  • LP-gas (handelsprys): daal met 46c per kg

Mantashe skryf die verhoging hoofsaaklik toe aan die prys van Brent-ruolie wat tydens die periode onder hersiening van $84,22 tot $88,10 gestyg het. Die minister verduidelik dat daar in hierdie tydperk baie wisselvalligheid in die mark was.

Die belangrikste bydraende faktor was sekerlik die toenemende geo-politieke spanning in die Midde-Ooste en volgehoue produksiebesnoeiings deur lid- en vennootlande van die organisasie van petroleumuitvoerlande.

Die prys van diesel, paraffien en LP-gas kon egter daal danksy seisoenale veranderinge en verminderde vraag daarna in die Noordelike Halfrond namate dit daar somer word.

Mantashe wys ook daarop dat die rand in die tydperk onder oorsig teenoor die Amerikaanse dollar (van R18,04 tot R18,90) verswak het.

Dit het gelei tot hoër bydraes tot die basiese brandstofpryse van alle produkte met sowat 2,50 sent per liter op alle produkte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Di ·

Danksy hierdie regering is ons besig om al hoe meer te verarm by die dag. Mense kan nie meer kop bo water hou met al die verhogings en belasting wat slegs n handtjie vol betaal om vir die massas te sorg.

domheks ·

Lekker. nou kan cANCer die mense nog verder verarm totdat almal toelaes moet kry. En die kaders leef in weelde!

bolletjie blom ·

Dit kan jy weer sê, die regering leef soos adelikes. Gewone mense kan nie meer kos op die tafel sit nie.

Barry ·

Jana ek stem saam jou
Dit kan nie so aangaan nie en hoekom is brandstof baie goedkoper in Botswana en dit kom van hier af?

Henker ·

Gwede praat bollie. Dis mos altyd die internasionale se skuld.
Dis jou vrotsige niks-werd monopolie papiergeld wat NOG verder getuimel het

Jacobus ·

Wat het geword van die ondersoek na die miljoene vate ruolie in die Langebaan bunkers van SA vat vir 28 Doller per vat deur oorlede Tina Jumat Pieterson verkoop is???

Manie ·

Barry, die groot sondebok is die staat se heffings. 28% van ‘n liter brandstof se prys gaan direk na die staat.

J. J. ·

Staatskarre en amptenare moet minder petrol mors en meer geld spaar daardeur, Dan sal ons nie nodig hê om do duur te betaal vir petrol nie.

Stofbakkies ·

Die olie prys was al veel hoër as nou toe het ons minder betaal vir brandstof as nou, so wat het die olieprys nou te doen met die styging in kostes?

Stofbakkies ·

Tipies van die Regering, druk die pryse op, laat kom dit bietjie af, druk dit weer die hoogte in, maar as dit afkom, kom dit nooit weer tot by die oorspronklike prys nie, hulle breinspoel mense sodat ons tog net te dankbaar is vir die paar sente wat dit ‘n slag afkom. Uitgeslape!!!

Cherokee ·

Ek dog Mantashe is al by die parlement weggejaag, oor al die klagtes teen hom.

Cherokee ·

Bolletjie Blom, ek frons altyd wanneer ek van ‘gewone mense’ lees. Ek is geen gewone mens. Ek is spesiaal. Wat maak mense ‘gewoon’? Die anc is die common mense.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.