Dit is geen geheim dat Porsche se 911 my droommotor is nie. Ons was onlangs in die pragtige Wes-Kaap vir die bekendstelling van twee Porsche’e: die Cayenne GTS en dan dié… die vinnigste produksievoertuig in Suid-Afrika… die Porsche 911 Turbo S.
Die Turbo S sit bo op die 911-troon as die vinnigste 911. Ek moet hier ook onderskeid tref tussen ʼn doodgewone 911 en dan die twee RS-modelle, die GT3 en GT2. In die regte hande sal die toekomstige 911 GT2 RS waarskynlik vinniger as die Turbo S wees, maar daar is ʼn reuseverskil tussen die twee.
Die Turbo S is ʼn luukse grand tourer wat net per toeval hipermotor-verrigting het. Hoekom hipermotor? Dis eenvoudig. Die Porsche 911 Turbo S versnel van 0-100 km/h in ʼn verstommende 2,7 sekondes, sê Porsche, maar daar is mense wat al 2,4 en 2,5 sekondes gehaal het. Hy sal ook 200 km/h in 8,9 sekondes haal en 330 km/h voluit. Die 911 Turbo S sal ook die kwartmyl in 10,2 sekondes aflê… iets waarop Dominic Toretto van The Fast and the Furious baie trots sou wees.
Ek hoor die mense nou al met hulle vrae: Wie wil nou só vinnig ry!? Duitsers, op die Autobahn – dis wie. Die voordeel daarvan is dat Porsche die 911 al sedert 1975 afrond, skaaf en verfyn om te verseker dat dit die toppunt van werkverrigting en veiligheid kan bied. Nie net kan hy soos ʼn vuurpyl versnel nie, maar die remme, bande en ander veiligheidstelsels verorber alles wat jy hulle kant toe gooi.
Op die pad is die Porsche 911 verbasend gemaklik. Dit ry soos ʼn klein gesinsbuksie, soos ʼn Polo of ʼn Golf. As mens net in die dorp rondploeter is die 8-spoed-PDK-dubbelkoppelaarratkas heeltemal in sy skik. ʼn Mens kan selfs mooi uit die 911 sien – voor, aan die kant én agter. Ek is oortuig dat geen ander supermotor met dieselfde gerief kan spog nie.
Dan is jy klaar in die dorp rondgeploeter en die pad maak oop. Soos jy jou voet nader aan die mat druk, begin die 911 Turbo S van karakter verander. Hy bly gemaklik terwyl die spoed asemrowend bou, en dís hoekom die 911 Turbo S bekendstaan as die “elke dag se supermotor”. Die Turbo S baklei nie met jou sintuie nie; dit is die GT3 RS se werk. Dit is verstommend vinnig sonder om mens te oordonder.
Ná die spoed gebou het, kan mens gerus wees met die wete dat die 420 mm-remskywe en 10-suier-remknyper 330 km/h tot stilstand kan bring. As mens in die Franschhoekpas die remme vir diens oproep, kom jy vinnig agter hoekom dié tipe verrigting veilig is. As die vastrap en stabiliteitsbeheer jou nie uit die moeilikheid hou nie, is daar ABS met EBD – en as dít nie werk nie, is daar ses lugsakke as ʼn laaste poging tot veiligheid.
Die 911 Turbo S is bitter maklik om op te som. Hoekom is hy daar? Want hy mag maar. Die 911 Turbo S bestaan vir die petrolkoppe wat goed genoeg vir hulself gedoen het dat hulle steeds elke dag kantoor toe en terug betower wil word, en maak nie saak wie hy of sy op die pad teëkom nie, hulle sal die pylvakren wen. Daar is egter een probleem met die 911 Turbo S ry en dis die feit dat alles daarna stadig voel omdat dit dié vinnigste kar is wat ek al ooit gery het.
Die reeks lyk só:
Porsche 911 Carrera PDK | 283 kW/450 Nm | 4,2 sek 293 km/h | 9 ℓ/100 km | R1 699 000 |
Porsche 911 Carrera Cabriolet PDK | 283 kW/450 Nm | 4,4 sek 291 km/h | 9,2 ℓ/100 km | R1 899 000 |
Porsche 911 Carrera S PDK | 331 kW/530 Nm | 3,7 sek 308 km/h | 8,9 ℓ/100 km | R1 999 000 |
Porsche 911 Targa 4 PDK | 283 kW/450 Nm | 4,4 sek 289 km/h | 9,8 ℓ/100 km | R2 009 000 |
Porsche 911 Carrera 4S PDK | 331 kW/530 Nm | 3,6 sek 306 km/h | 9 ℓ/100 km | R2 109 000 |
Porsche 911 Carrera S Cabriolet PDK | 331 kW/530 Nm | 3,9 sek 306 km/h | 9,1 ℓ/100 km | R2 199 000 |
Porsche 911 Carrera 4S Cabriolet PDK | 331 kW/530 Nm | 3,8 sek 304 km/h | 9 ℓ/100 km | R2 309 000 |
Porsche 911 Targa 4S PDK | 331 kW/530 Nm | 3,8 sek 304 km/h | 9,9 ℓ/100 km | R2 309 000 |
Porsche 911 Targa 4S PDK Heritage Design Edition | 331 kW/530 Nm | 3,6 sek 304 km/h | 9,9 ℓ/100 km | R2 819 000 |
Porsche 911 Turbo S PDK | 478 kW/800 Nm | 2,7 sek 330 km/h | 11,1 ℓ/100 km | R3 849 000 |
Porsche 911 Turbo S Cabriolet PDK | 478 kW/800 Nm | 2,7 sek 330 km/h | 11,3 ℓ/100 km | R4 049 000 |
Die reeks word deur ʼn 2 jaar/onbeperkte km-waarborg en 3 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan gedek.