Wêreld se eerste hiperluukse sportnuts opgeknap

Die nuwe Bentley Bentayga. (Foto: Verskaf)

Bentley het in 2015 hul nuwe Bentayga vir die wêreld gewys. Ek was aanvanklik nie oortuig deur die ontwerp nie – maar toe kom die Rolls Royce Cullinan. In vergelyking was die Bentayga pragtig. Die twee het nou die weg gebaan vir Lamborghini, Ferrari, Maserati en die res om ook in die kring te spring met hul sportnutsaanbiedings.

Sedert 2015 het Bentley ʼn indrukwekkende 20 000 Bentayga’s verkoop – meer as enige ander Bentley in die geskiedenis. Indrukwekkend. Adrian Hallmark, voorsitter en uitvoerende hoof van Bentley Motors, sê: “Die wêreld soek sportnutsvoertuie, dit is ons werk om dit vir hulle te gee en seker te maak dit is ʼn Bentley – ʼn pure grand tourer… soos elke Bentley voor dit.”

Die nuwe Bentley Bentayga. (Foto: Verskaf)

Die nuwe Bentayga is die eerste Bentley wat ná Bentley se Beyond100-sakeplan vervaardig word. Bentley het in 2019 ʼn honderd jaar oud geword. Bentley het verskeie aspekte geïdentifiseer waar hulle in die volgende jare moet ontwikkel om relevant te bly en vir die volgende 100 jaar aan die toppunt van die hiperluukse motormark te bly. Die fabriek is reeds koolstofneutraal. Fantasties.

Die Bentayga kry ʼn nuwe voor- en agterkant sowel as ʼn 20 mm breër spoor agter om hoëspoedstabiliteit te verbeter. Die nuwe voor- en agterkant pas nou in by die res van die Bentley-reeks se ontwerptaal.

Die nuwe Bentley Bentayga. (Foto: Verskaf)

Daar is nuwe materiale vir die manjifieke binneruim, sowel as nuwe tegnologiese vordering met nuwe skerms en so meer. Die eerste nuwe Bentayga sal deur hul asemrowende 4.0 V8-petrolenjin aangedryf word wat 404 kW en 770 Nm bied. Dit sal die enorme Bentayga na 100 km/h slinger in 4,5 sekondes en hy sal aanhou draf tot ʼn magtige 290 km/h.

Die Bentayga sal later van tyd beskikbaar wees in ʼn PHEV‑inprop‑ hibridiese model, die eerste tree na elektrifikasie vir Bentley, en daarna sal die Bentayga Speed beskikbaar gestel word. Die reeksleidende Bentayga met sy W12-enjin.

Die nuwe Bentley Bentayga. (Foto: Verskaf)

Volgens Hallmark maak elektriese krag en Bentley saam perfekte sin, maar ʼn Bentley is eerstens ʼn GT-motor en moet ʼn groot reikafstand hê. Totdat batterye dit kan bied, sal die beste oplossing ʼn PHEV wees – vir nou. Sodra batterye die reikafstand kan bied wat Bentley verwag, dan sal ons elektriese Bentleys sien. Elektriese motors het fantastiese verrigting en is tjoepstil; alles waarna Bentley streef.

Ons sal die nuwe Bentayga teen November in ons plaaslike vertoonlokale te sien kry. Indien jy meer wil sien en lees, kyk gerus hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.