Liewe graad 11-ouer

Stefanie Minnaar het die volgende stuk reeds in Januarie 2022 geskryf en dit versprei nou weer soos ʼn veldbrand op sosiale media. Dit word met haar vergunning gepubliseer.

In November 2020 neem ʼn begaafde 17-jarige, wat ʼn neurochirurg wou word, haar eie lewe. Dit is slegs 48 uur na ʼn ander 17-jarige, by dieselfde skool, ook haar eie lewe geneem het. (Rapport 22 November 2020)

Ek het in 2021 met my graad 11-tiener gesien watter onnatuurlike druk daar op graad 11’s is. Van die eerste skooldag in graad 11 hoor die kinders: “Graad 11 is maak of breek vir keuring!”.

Nou kry jy die gedissiplineerde, hardwerkende tieners (wat nog altyd goed akademies presteer) wat nog meer druk op hulself sit. Dan kom een slegte fisiese toets en die 17-jarige dink haar toekoms is vernietig.

Hoekom beleef tieners dit so intens? Want tieners leef vanuit hul limbiese gedeelte waar die emosies sit, terwyl die prefrontale korteks, wat rasionele denke insluit, eers volwasse raak hier vanaf 25 jaar.

In die begaafde 17-jarige se selfdoodbrief het sy geskryf:

“Die belangrikste ding is dat hierdie niemand se skuld is nie. Ek was net nooit bedoel om oud te word nie. My brein is al teen my gekant vandat ek gebore is, ek’s gewire om iewers uit te brand. Ek het lank probeer baklei maar daar kom ʼn punt waar die struggle die award outweigh. Ek is net moeg baklei teen myself. Wat is die punt van enigiets. Ons skryf toetse en leer dinge en worry oor puntlose goed, vir watse rede nou eintlik?! Skool het die laaste bietjie uit my uitgevat. Ek’s moeg daarvoor om te voel asof ek dom is en niks gaan bereik nie…”

Hoe absoluut tragies dat ʼn jong begaafde kind, met ʼn hele toekoms voor haar, so kan voel?

Ek het in 2021 kort-kort die onderhoud met die meisie se pa, in die Rapport, uitgehaal en gelees en gewonder wat ek daaruit kan leer.

Een ding wat ek later die jaar begin doen het (soos wat die stresvlakke net hoër en hoër geraak het), was om glad nie meer akademiese vrae vir my dogter te vra nie.

Vrae soos:

“Wanneer skryf jy…?”

“Wanneer begin jy leer?”

“Hoe was die toets/ eksamen?”

Ek het na ʼn toets/ eksamen eerder begin vra:

“Hoe voel jy?”

Cope jy?”

Die waardevolste ding wat die artikel my geleer het, is dat GEEN punte belangriker is as jou kind se geestesgesondheid nie.

Ek wil uit my hart uit dankie sê vir Zara Malherbe se ouers wat dele van Zara se brief publiek gemaak het.

Zara se woorde het my in 2021 telkens gedwing om na die “groter prentjie” te kyk eerder as net die hier en nou van graad 11-punte.

Ek het nie vir Zara persoonlik geken nie, maar glo dat haar laaste woorde in baie ouers se harte sal inspreek.

RIV liefste Zara.

  • Stefanie Minnaar is ʼn pastorale narratiewe terapeut wat spesialiseer in die neurowetenskap van ouerskap en verhoudings tussen ouers en kinders. Sy is ʼn ma van twee.

Sluit gerus by Minnaar se Facebook-groep, Ouer-Tiener Harmonie, aan vir meer oor ouerskap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Andre ·

As 71jarige bring dit trane in my oë om te dink dat jongmense hulle eie lewe neem omdat skole en ouers soveel druk op hulle plaas. Is ons nie daar om te ondersteun en te help nie. Is dit so belangrik vir ouers en skole dat prestasie die maatstaf is?

Christelle ·

My hart gaan uit na die mense. Ons wêreld het baie gekompliseerd geraak en sonder die Here is daar geen antwoorde meer nie. Mag hulle berusting vind op ‘n baie spesiale manier.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.