Skoliere se padkaart na die #RSABegroting2023

Deur Mariaan Oschman en dr. Chris-Mari Le Hanie

(Argieffoto: Maroela Media)

Die nasionale begroting van Suid-Afrika word jaarliks in Februarie deur die minister van finansies bekend gemaak. In die begrotingsrede word die regering se planne en prioriteite vir die volgende drie jaar vir die besteding van publieke fondse uiteengesit.

Dit is belangrik dat skoliere kennis neem van die nasionale begroting, aangesien dit ʼn direkte impak op hulle het. Voorbeelde hiervan sluit die volgende in:

  • Die beskikbaarheid van hulpbronne, byvoorbeeld handboeke en tegnologie wat effektiewe leer- en onderrigpraktyke beïnvloed.
  • Die ontwikkeling van skoolinfrastruktuur, naamlik die bou en instandhouding van skole wat die leeromgewing beïnvloed.
  • Die salarisse van onderwysers, wat werkstevredenheid en motivering van onderwysers kan beïnvloed en diensooreenkomstig die gehalte van onderwys vir leerders.

In Ekonomiese Bestuurswetenskappe (EBW) vir die senior fase, graad 7 tot 9, word die grondslag gelê vir skoliere om die nasionale begroting te verstaan. Hierdie skoolvak is daarop gemik om skoliere se ekonomiese en finansiële geletterdheid te ontwikkel. Verder rus dit hulle toe om krities na te dink oor die komplekse ekonomiese landskap in Suid-Afrika.

Skoliere kan die begrotingsrede soos volg leer ontleed:

  • Stap 1: Vergewis jouself van die basiese konsepbeginsels van ʼn begroting soos geleer word in EBW.
  • Stap 2: Doen navorsing oor die begrotingsproses. Die proses sal jou help om te verstaan waarom sekere fondse geallokeer word aan bepaalde hulpbronne.
  • Stap 3: Luister na die begrotingsrede om ʼn oorsig te verkry van die regering se planne en prioriteite.
  • Stap 4: Bestudeer die begrotingsdokument met spesifieke verwysing na die verskillende kategorieë van besteding, byvoorbeeld vir onderwys, gesondheidsorg, ensovoorts.
  • Stap 5: Gebruik die kennis, vaardighede, houdings en waardes wat jy geleer het in EBW as ʼn verwysingsraamwerk om in gesprek te tree met maats, onderwysers, jou ouers en ander oor die begroting en die impak daarvan op die samelewing in geheel.
  • Stap 6: Reflekteer oor hoe die nasionale begroting jou daaglikse ekonomiese keuses beïnvloed.

Die padkaart en stappe sal jou help om die begrotingsrede aan die einde van Februarie en jou rol en verantwoordelikheid in die samelewing beter te verstaan!

  • Mariaan Oschman is ʼn dosent in besigheidstudies- en ekonomiese en bestuurswetenskappe-onderwys by Akademia en dr. Chris-Mari Le Hanie is ʼn senior dosent in opvoedkunde by Akademia.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.