Tuisblyma’s wat weer wil werk, trek aan kortste ent

(Argieffoto: Vitolda Klein/Unsplash)

Sakeondernemings kan tot 60% van hul vrouetalent verloor weens negatiewe opvattings oor die toewyding en bevoegdheid van vroue wat hul loopbane wil hervat ná ʼn tuisverblyf-tydperk saam met hul kinders in hul vormingsjare.

Vroue word “gestraf omdat hulle kinders het” en dié werkende ma’s kom dikwels slegs in aanmerking vir laevlakposte wat ʼn laer salaris bied as wat hulle voorheen verdien het.

Lunga Tukani, MBA-alumnus van die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool (USB) en bydraer tot die USB 2021 Vroueverslag, sê hierdie “straf” veroorsaak dat sommige vroue van werkgewers of loopbane verwissel, of dit selfs heeltemal laat vaar om te werk.

Die Vroueverslag plaas jaarliks die kollig op die lewe en werk van vroue in Suid-Afrika en word geborg deur die USB en die SA Board for People Practices (SABPP).

Tukani se navorsing het getoon dat bestuurders vrouewerknemers wat ná ʼn paar jaar wil terugkeer na die werkplek as minder toegewyd beskou, asook dat hulle nie hul volle aandag gee nie en dat hul vaardighede intussen verlore gegaan het.

“Hierdie vooroordele en negatiewe opvattings van bestuurders is nie net die grootste hindernis wat tuisblyma’s die hoof moet bied wanneer hulle hul loopbane wil hervat nie, maar stel ook organisasies in gevaar om agteruit te boer wat geslagsgelykheidsdoelwitte betref,” sê hy.

Vroue is reeds onderverteenwoordig in die Suid-Afrikaanse werkplek – hulle maak 51% van die bevolking uit, maar was slegs 44% van die algehele indiensnemingsyfer in die eerste kwartaal van 2021, veral in senior betrekkings waar minder as ʼn derde van die bestuurstake deur vroue verrig word.

“Om uitdagings in die arbeidsmark te pak nadat jy ʼn kind grootgemaak het, benadeel vroue en kniehalter pogings om gelykheid in die werkplek te bewerkstellig.

“Professionele, gekwalifiseerde vroue wat ʼn bydrae wil lewer in die werkplek word uiteindelik daarvoor gestraf dat hulle kinders het,” sê Tukani.

ʼn Studie in die VSA toon dat slegs 73% van hoogs gekwalifiseerde vroue terugkeer werk toe en dat slegs 40% daarin kon slaag om weer voltyds te werk of ʼn rol te vervul wat ooreenstem met dié voordat hulle kinders gehad het.

Tukani sê die potensiële verlies van vrouetalent behoort werkgewers te bekommer, gegewe dat vroue oor die algemeen beter gekwalifiseerd is as mans. In Suid-Afrika is die meeste hoëronderwys-gegradueerdes vroue, en maak ook ongeveer die helfte van die land se meesters- en doktorale gegradueerdes uit.

“Hoewel vroue mans verbysteek in kundigheid, gaan dié voordeel verlore weens die wanopvatting dat dit onversoenbaar is om ʼn ‘ideale werker’ en ʼn ma te wees. Dit is kommerwekkend dat die geslag wat die meeste belê in opvoeding beskou word as onwaardig vir hoër posisies en dat hul bydrae aan organisasies onderskat word bloot omdat hulle ʼn breuk in hul loopbaan geneem het om vir ʼn kind te sorg.”

Tukani het ʼn studie op ʼn groep Suid-Afrikaanse lynbestuurders gedoen om die invloed van die vooroordele van aanstellingsbestuurders rakende tuisblyma’s se pogings om weer te werk te toets.

“Die bevindings van hierdie studie toon dat bestuurders eerlike selfondersoek moet doen oor die vooroordele wat hul besluitneming beïnvloed tydens die aanstellingsproses. Hulle moet hulself daaraan toewy om ʼn werkomgewing en kultuur te skep wat gelykheid en verteenwoordiging in die werkplek bevorder.”

Terwyl dit ʼn positiewe aspek is dat bestuurders gunstige opvattings het oor die vaardighede en eienskappe van tuisblyma’s, veral wanneer dit kom by spanbou en samehorigheid, aangesien hulle beskou word as meer volwasse, geduldig en emosioneel intelligent, was die nadeel die laer posvlakke waarvoor hulle oorweeg word.

Die meeste bestuurders beperk vanself die soort posisies waarvoor ʼn tuisblyma in aanmerking kan kom. Hulle sê dat hulle “gedwing” sal moet word om buigsame werkure aan te bied, nie die vroue kan oorweeg vir posisies wat reis insluit nie, asook dat vroue in kantoorwerk- en administratiewe betrekkings geplaas sal word.

Bestuurders het aangedui dat hulle administratiewe werk met minder verantwoordelikhede aan tuisblyma’s sal toeken voordat hulle in bestuurs- of toesighoudende rolle geplaas sal word.

Hulle het egter ook aangedui dat tuisblyma’s positiewe houdings en sterkpunte het wat spanne verenig, asook die motivering om suksesvol te wees weens hul gesinsverantwoordelikhede.

“Hulle het ook verwys na die vroue se kreatiwiteit, innovering en doeltreffendheid en het gesê dat hulle geskik sal wees vir rolle wat hoë vlakke van spanwerk en konflikoplossingsvaardighede noodsaak. Dit is in teenstelling met die opvatting dat hulle beter in administratiewe poste sal vaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

VaalDonkie ·

As jy dink die “patriargie” is lelik met vroue, dan moet jy ‘n slag sien hoe hulle met mekaar in die werkplek is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.