Raad vir eiendomkopers

Foto ter illustrasie. (Foto: Tierra Mallorca/Unsplash)

Misdaadtendense, ontwikkelingspotensiaal, ononderbroke elektrisiteitstoevoer en uitmuntende veiligheid, dít is wat eiendomkopers in ag moet neem voordat hulle te diep in hul beursies grawe.

“Die eiendomsmark is wispelturig, maar laagtepunte is tydelik en ʼn eiendom se waarde groei oor die langtermyn,” sê Greg Dart, direkteur by High Street-veilings.

Dart meen ook dat tientalle beleggers slim met hul eiendom te werk gaan, aangesien hulle dit koop en opknap, wat die waarde van die eiendom outomaties verhoog.

Tesame daarmee, meen hy dat eiendom in Suid-Afrika, veral in die Wes-Kaap, aanloklik vir beleggers is.

“Die leefstyl van Kaapstad is wat mense lok. Veral die feit dat daar sowat 60% minder beurtkrag in dié omgewing is.”

Volgens Lightstone, wat inligting, waardasies en markintelligensie oor eiendomme in Suid-Afrika verskaf, strek Suid-Afrika se amptelike eiendomvoorraad oor sowat 6,8 miljoen eiendomme en is dit sowat R6,1 biljoen werd. “Eiendom in die Kaap is sowat 29% van die totale nasionale waarde werd, met slegs 18% van die voorraad,” verduidelik Dart.

Hy sê verder dat Kaapstad se eiendomspryse oor die afgelope paar jaar bly styg het, maar dat woonstelle onder R1 miljoen steeds hier en daar beskikbaar is. Tog is daar ook eiendomme wat kopers R100 miljoen uit die sak kan jaag.

Volgens New World Wealth, ‘n wêreldwye welvaartintelligensiefirma wat in Suid-Afrika gebaseer is, se 2023 Afrika-rykdomverslag wat deur Henley & Partners in Maart vanjaar uitgereik is, is vyf van Suid-Afrika se duurste eiendomme in Kaapstad. Hulle is in Bantrybaai, Clifton en Kampsbaai geleë.

Raad vir nuwe eiendomkopers

Nog voordat daar ʼn nuwe eiendom oorweeg word, stel Dart voor om na die volgende te kyk:

  1. Ononderbroke elektrisiteit

Om in ʼn onafhanklike elektriese stelsel te belê, is noodsaaklik, sê Dart.

“ʼn Onafhanklike kragsisteem sal ook drasties bydra tot die herverkoopwaarde van ʼn eiendom.”

  1. Topklassekuriteit

Die omgewing kan in een van die beste woonbuurte geleë wees, maar as die buurman se veiligheidstelsel beter is as jou eie, gaan sy huis meer werd wees.

  1. Misdaadkoerse in die omgewing

Een van die eerste dinge wat jy moet uitvind oor die omgewing waar jy oorweeg om te koop, sê Dart, is hoe hoog die misdaadkoerse in die area is. Dit kan jou óf in die rigting van ʼn ander woonbuurt stuur, óf ʼn paar bykomende sekuriteitsmaatreëls, soos kameras en alarms laat oorweeg.

  1. Ontwikkelingspotensiaal

Volgens Dart kan die ontwikkelingspotensiaal van ʼn eiendom die prys daarvan opstoot.

“Beslis iets om te oorweeg voordat jy die eiendom koop.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.