Foto’s: Kom ervaar die rustigheid van ou Waterval-Boven

(Foto: Jacques Marais)

Emgwenya, oftewel die plek van die krokodil, was voorheen bekend as Waterval-Boven. Deesdae is dié ou spoorwegdorp ʼn wegkomplek waar avontuurtoeriste van heinde en verre kom kuier, skryf Jacques Marais.

Om die dorp

Hier op die rand van die Hoëveld-plato wag daar ʼn hemelse speelplek op natuur- en buitelugliefhebbers. Ja, die verruklike kranse wat hier bokant die soel poele van die Elandsrivier toring, lok rotsklimmers van regoor die wêreld.

“Ja-nee, ʼn mens kan seker sê Boven is ʼn bier-drink-dorpie met ʼn klein klim- en forelhengel probleem,” skerts my ou pêl, Gustav Janse van Rensburg, terwyl ons een aand om die vuur aan ʼn koue bier teug. Hy sal weet, want sy avontuurmaatskappy, Roc ʼn Rope Adventures, is nou al vir meer as twee dekades in dié hoekie van Mpumalanga doenig.

Soos baie ander dorpies in Suid-Afrika trek Emgwenya deesdae noustrop, en die eens skilderagtige toeristebestemming se infrastruktuur byt in die stof. Dit is ʼn groot jammerte, veral wanneer jy sien hoe puik plekkies soos die munisipale kampeerterrein se ougat kothuise letterlik klip vir klip gesteel is.

Gelukkig is daar altyd iemand wat skouer aan die wiel gooi. Die Behr-familie is juis sulke mense en het besluit om so klompie jare gelede een van die plase buite Emgwenya te koop sodat die buitelug-klim-brigade steeds hierdie legendariese rotswande kan kom geniet.

(Foto: Jacques Marais)

Die Behrs se Tranquilitas-avontuurplaas – die naam is Spaans vir ‘Stilte’ – strek tot reg teenaan die asemrowende kranse, en bied veilige en bekostigbare toegang tot hierdie natuurlike klim-nirvana. Daar is ʼn lekker kampplek met genoeg bome om skadu oor jou tent te gooi wanneer die somerson warm bak, en ʼn swembad met ʼn mensgemaakte klim-krans waar jy jou lyf Fris Kris kan hou.

Tydens die yskoue winters is dit ʼn goeie idee om dalk liewers die plaashuis of een van hulle luukse eko-tente te bespreek, want die temperatuur kan dan tot onder vriespunt daal. Gelukkig hou die klomp van hulle koffie, en die barista by die hoofhek se kafeetjie kan toor met daai cappuccino-masjien.

Daar is dosyne dinge om in en om Emgwenya te ervaar, en alles is nie op adrenalien-vrate gemik nie. Gaan drink ʼn skemerkelkie terwyl jy kyk hoe die son oor die Elandsvallei sak; gryp jou vêrkyker om witkruisarende teen die kranse te soek; besoek die klip-sirkels wat deel vorm van die legendariese Adam se kalender of raak sommer net rustig.

Vir meer inligting besoek www.tranquilitas.com.

Vyf dinge om in Emgwenya te doen:

Fietsry: Goeie nuus vir dié met hoogtevrees is dat Tranquilitas die laaste paar jaar ontpop het as ʼn  paradys vir bergfietsryers. Die alombekende Glenn Harrison het 80 km se puik enkelspoor hier ontwerp en gebou, en daar is iets vir elke Jan Rap en sy maat. Die beste van alles is dat die roetes so ontwerp is dat jy ook na hartelus kan draf of stap terwyl jy kop skoonmaak hier in die natuur.

(Foto: Jacques Marais)

Rotsklim: Hierdie asemrowende kranse word verseker as die J-Bay van die rotsklimwêreld beskou. Die spyskaart by Tranquilitas Cracks en nabygeleë kranse soos The Restaurant, Waterfall, Triple Tier en Wonderland bied niks minder as ʼn 1 000-plus gemerkte roetes om te klim nie. Dit wissel van beginner- en sport-klim-opsies tot van die mees ekstreme roetes denkbaar. Gesels met Gus en Alex by Roc ʼn Rope: hul herberg vir rugsakreisigers spog met dieselfde styl as ʼn Franse ‘auberge’ en jy kan ook toerusting hier koop of huur. Besoek www.rocrope.com vir meer inligting.

(Foto: Jacques Marais)

‘Stone Circle’-museum: ʼn Antieke, sirkelvormige monolitiese klipkalender hier in Emgwenya dui daarop dat ʼn onbekende beskawing heel moontlik 75 000 jaar gelede hier al ʼn bestaan gemaak het. Dit is ouer as enige ander mensgemaakte struktuur wat tot dusver gevind is. Indien dit jou nuuskierig maak, gaan doen gerus ʼn dag-toer saam met www.stonecircletours.co.za.

(Foto: Jacques Marais)

4×4: Gaan gooi spore op een van Mpumalanga se uitstaande 4×4-roetes in die afgeleë en ongerepte Kwena-vallei. Die klem hier is op die natuur en die omgewing, met opleidingskursusse wat onder die vaandel van gekwalifiseerde instrukteurs aangebied word. Daar is ook hope agterpaaie waar jy kan gaan stof opskop. Besoek www.africaupclose.com vir nog inligting.

(Foto: Jacques Marais)

Milly’s kafee en restaurant: Hierdie lekkerbek eetplek is teenaan die N4-deurpad net buite Machado geleë. Trek gerus af indien jy op soek is na puik tuisgemaakte kos en gebak. Hier pryk vars- en gerookte forel, patees, piekels, konfyte, souse, vars brood, koeke, pasteie, geelvet-biltong en vars gemaalde koffie op die rakke. Vind meer uit by www.millys.co.za.

Veldstap: High-5 Hiking Trails, voorheen die Num-Num-staproete, bied verskeie staproetes vir mense wat graag beter met Moeder Natuur kennis wil maak. Kies tussen dag-uitstappies of meerdaagse roetes, met die meeste roetes wat op ʼn manier aanmekaar koppel. Langer wandelroetes strek oor enigiets van twee tot vyf dae of selfs meer, want daar is ʼn netwerk van byna 100 km op vier aangrensende eiendomme. Jy kan dus jou eie roete beplan, afhangende van hoe fiks jy is en hoe lank jy in die inheemse woude wil gaan kop skoonmaak. Besoek www.num-num.co.za vir meer inligting.

(Foto: Jacques Marais)

Hoe maak ʼn mens?

Waar om te bly: Daar is vier aardse chalets met slaapplek vir vier persone elk, ʼn lieflike plaashuis met slaapplek vir 12 mense, ses safari-tente en twee splinternuwe luukse tente met slaapplek vir twee mense elk. Die kampterrein en grasperk is rondom die groot swembad agter die chalets geleë. Besoek www.tranquilitas.com.

Wanneer om te gaan: Kom kuier reg deur die jaar, maar maak reg vir stowwerige winterdae indien die wind opsteek.

Hoe om daar te kom: Volg die N4 na Mbombela en draai dan regs na Emgwenya so 2 km na die Machado-tolhek. Ry deur die dorp en onder ʼn brug deur; by die derde stopstraat sal jy Roc ʼn Rope aan jou linkerkant sien; draai hier in of hou regs en volg die pad berg-op. Sodra dit ʼn grondpad word, weet jy dit is nog net 7 km tot by Tranquilitas. Ry maar stadig, die pad is redelik sleg.

Jacques Marais is ʼn fotograaf en skrywer van avontuurgidse soos Top MTB Trails en Doen-Dinge in ʼn Dorp – @jacqmaraisphoto of
www.jacquesmarais.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.