Foto’s: Kuier verder in Durbanville se wynvallei

Klein Roosboom se omskepte wynkuipe wat nou met keurige dekor en oulike name soos Die Spens, Rouge of Versailles spog. Die plaas spog nie verniet met die hutsmerk “capetownsbestkeptsecret” nie.

As jy in die land van sauvignon blanc – die Durbanville-wynvallei – wil gaan kuier, is die nuus van internasionale pryse natuurlik net daardie hupstootjie waarvoor jy gewag het, skryf Maryke Roberts.

Dis die aankondiging dat Durbanville Hills se The Tangram White Blend 2018 in die top 12 is van die Global Sauvignon Blanc Masters, waar wyne van Marlborough en Frankryk hul slag gewys het, wat net herbevestig dat ons by die regte plek is.

Maar Diemersdal is voor Durbanville in die alfabet, so ons kuier eers daar. Ons kom al baie jare met die plaas en met middagete wat elders wag, proe ons net ’n paar van die nuutste oesjare saam met Juandre Bruwer.

Die sewende geslag van Diemersdal se legendariese Louws word tans in die ou herehuis groot, waar die Louws in 1885 ingetrek het. Thys Louw, huidige keldermeester, se sauvignon blanc is iets om oor huis toe te skryf (en huis toe te neem) en hy het selfs al ’n wingerd in Marlborough Nieu-Seeland gevind waarvan hy wyn onder die Diemersdal-etiket gemaak het.

Delf jy in die plaasgeskiedenis, lees jy dat AA Meyburg van Diemersdal een van Durbanville-gemeente se eerste kerkraadslede was toe die Tygerberg-gemeente op 1 April 1825 gestig is.

Hoewel Thys as een van die land se sauvignon-kampioene uitgesonder kan word, is die pinotage en merlot net so liplekker. Gepraat van liplekker, as ons weer kom kuier, is The Farm Eatery deel van die beplanning, want dis die beste manier om ’n week af te sluit: in die somer onder die bome met ’n biefstuk en glas wyn, of in die winter binne-in die historiese skuur.

Durbanville Hills Tangram Restaurant is ons tweede aand se kuierplek. Al ons verwagtinge vir ’n bederfaand word hier oortref. Ons kom daar aan ná die proelokaal gesluit het, maar ons kelner het besluit ons gaan nie wegry voor ons nie ’n baie goeie oorsig van die bekroonde wyne het nie. Die Blanc de Blancs 2017 is yskoud en saam met die Weskus-oesters dans die borrels op ons tong.

Ons sit in die hoek van die glaskasrestaurant wat die mooiste sonsondergang oor Tafelberg het en waar gaste kort-kort op die boegagtige stoep vir foto’s uitstap (ons natuurlik ook …).

Die kos is gepasmaat met die wyne en die restaurantspan ken hul storie. Oral word raadgegee aan ander gaste en kort-kort is daar klein gilletjies of handeklap as die span weer die perfekte pasmaat voorgestel het.

My gunsteling is The Tangram 2016 rooi versnit, wat my beeshaas met rooiwyn jus en klein aartappeltjies op die tong laat smelt.

Voor ons groet is die Cape Honey Bee Noble Late Harvest ’n soete nagedagtenis op my tong, terwyl my geliefde hom aan die merlot potketel brandewyn verlustig – ’n rare fonds, want brandewyn word gewoonlik van chenin blanc of colombar gemaak.

Met tafels tussen die wingerde by Klein Roosboom kan jy regtig sien waar jou heerlike wyn vandaan kom!

Die eerste groot glimlag wat ons by die Groot Phesantekraal restaurant begroet, is nie van die gawe gasvryheidsbestuurder wat ons na ons tafel lei nie, maar eerder van die sommelier, Jeff Masanga, met wie ons al jare te doen het en ons al in die parkeerarea gewaar het. Hy en sjef Juan van Deventer is kop in een mus om ons met spys en drank te verlei.

Die dekor is luuks en fluweelryk, maar Juan sê dis bistro-styl met heilsaamheid as wagwoord wat uit sy kombuis bedien word. Juan is al sewe jaar hier en het onder groot geeste soos oorlede Bruce Robertson van The Showroom gewerk. “Lollie (Lorianne Heyns) was sy sous-sjef en vandag swaai sy die kombuissepter by Klein Roosboom,” vertel hy toe hy die serrano-ham met spanspek en geklopte feta-aïoli voor ons neersit, wat heerlik saam met die Blanc de Blanc Cap Classique afgly.

Die plaas is ook een van die geskiedkundiges uit die sewentiende eeu, en net soos destyds maak die Brink-familie hul lewe uit wyn, graan, bees, skaap en selfs wild. Geen “alle eiers in een mandjie” nie! Die Brinks woon vandag nog in die oorspronklike herehuis wat uit 1720 dateer en het in 2002 die deftige dame tot haar voormalige glorie restoureer.

Neffens die restaurant word die nuwe proelokaal gebou en ons sal beslis terugkom vir ’n volledige wynproe, maar vir nou is dit wyn per glas wat met elke dis gepasmaat word, ideaal vir ons wat nog moet ontgin en kuier.

Tussen die lekker eet deur sorg Jeff dat ons glase vol bly en as hy ’n wyn-aroma verduidelik, stap hy na die houtrak met flesse waarin daar enigiets van kaneelstokke, suurlemoenskil en lourierblare, tot potlode, patroondoppies en vanieljepeule is. Dit illustreer die plaas se wyne in die kol en was die handewerk van binnenshuise ontwerper en sjef, Jacques Erasmus van Hemelhuijs-faam. Ons het destyds by hom in die Kaap geëet toe hy opgewonde van die plaas vertel het waar hy met hierdie vindingryke projek werk. Hy het só gesukkel om hordes eenderse glasbottels te kry, wat die idee van ’n ou apteekrak sou versterk. Maar die geheimhouding en gesukkel destyds was die moeite werd!

Die gepluisde lamsvleis met fyngemaakte ertjies, komyn en sesam-groenbone en aartappel draai tiekie met die Berliet Limited Edition Pinotage, met ’n oulike sketsie van André Brink se geliefde 1927 Berliet (as Bear-lee-ay uitgespreek) vintage motor op. Die motor loop nog gereeld en as jy gelukkig is, gewaar jy die oranje vuurwa tussen die wingerde.

Klein Roosboom is die plek waar ons gereeld gaan kuier. Vriende van regoor die Kaapse Skiereiland kom daar bymekaar. Sommige het vroegoggend fietsgery, en ander het in die omskepte wynkuipe, wat nou met keurige dekor en oulike name soos Die Spens, Rouge of Versailles spog, ʼn wynproe gedoen. Die plaas spog nie verniet met die hutsmerk “capetownsbestkeptsecret” nie.

Karin de Villiers en haar drie kinders, Johan, Nicol en Marné, besit en bestuur die boetiek- wynplaas en maak voortreflike wyne. Karin se pittige kreatiwiteit het op 7 November verlede jaar ’n sosialemediastorm veroorsaak toe Nicol, wingerdboukundige, ter viering van Internasionale Merlotdag hemploos met ’n wynvat en bottel merlot in die wingerde poseer het. Ek glo dié foto wat hom soos ’n ware Dawid-beeldhouwerk uitgebeeld het, het baie vir merlot-verkope gedoen!

Karin de Villiers en haar dogter Marné klink ’n glasie in die wingerde by Klein Roosboom.

Die restaurant en deli laat jou toe om jou eie peuselgoed te koop en dan in die wingerdrye te gaan kuier, of binne-in die restaurant van die spyskaart af te bestel.

Die spyskaart verander maandeliks met interessante temas en ons tref dit gelukkig: Spaans is die tema vir die maand toe ons daar kuier. Ons smul aan knoffelgarnale, wit ansjovis, olywe, mossels, Spaanse rys en tamatiegegeurde eiervrug. En natuurlik moet ons ook die merlot bestel!

Die plaas is selfs naweke en na-ure ’n miernes van bedrywighede met tema-aande waar etes in die wingerde gehou word, staproetes aangebied word en vele meer.

Die boetiek landgoed se wyne is almal aan Karin se geliefdes opgedra: die Marné Brut MCC, die Nicol Merlot, die Johan Cabernet Sauvignon, Marianna Roos Rosé, Janét Shiraz en die Jéan Sauvignon Blanc, opgedra aan Karin se oorlede man. Jy kan dit enige plek proe en selfs jou hand waag aan sabrage – waar jy ’n bottel van die Marné Cap Classique vonkelwyn se kurk met ’n swaard afkap.

Dis ook hier waar ons die voorreg gehad het om tussen die wingerde te sit en die vrystelling van die The Master’s Vineyard Cabernet Sauvignon te geniet. Dié wyn is histories in meer as een opsig: Dit kom uit dieselfde wingerd as die 1966 GS Cabernet Sauvignon wat deur die Wine Spectator as “die een ware klassieke wyn wat ooit in Suid-Afrika produseer is” beskryf is, en in 2015 deur Jancis Robinson, bekroonde wynbeoordelaar, ’n perfekte 20/20 ontvang het. Die wingerd bestaan ongelukkig nie meer nie.

Die 2016-oesjaar is toe in ’n vennootskap tussen Diemersdal en Durbanville Hills se wynmakers gemaak en vir 24 maande in Franse eikehoutvate verouder. Dis in 2018 gebottel, in dieselfde klaretstylhouer as die 1966-wyn. Dis wonderlik om deel van iets geskiedkundigs te wees en iets te proe wat 50 jaar ná daardie bekroonde wyn uit dieselfde wingerd kom.

Pittighede soos hierdie is deel van die gees op Klein Roosboom.

Tim Atkin, Britse wynmeester, was gaande oor dié wyn, en as jy in ag neem dat net 1 200 bottels gemaak is, is dit ’n raar item vir jou wynrak. Dit word in drieë verkoop, sodat jy die wyn op verskillende ouderdomme (joune en die wyn s’n) kan geniet. Met ons boks onder die arm, val ons in die pad.

Dis verbasend hoe vinnig jy tussen plaas, platteland en stad wissel. Die een oomblik flits skape al herkouend in stoppellande by jou verby; die volgende rye wingerde soos fyn vlegsels op ʼn skooldogter se kop; dan wit-en-swart beeste in ’n ry op pad melkery toe. Voor jy jou oë kan knip, is dit moderne kantore, gimnasiums en koffiewinkels wat wink, voordat ’n historiese witgekalkte plaasmuur jou vir ’n wynproe inlok.

Oorkant Hillcrest se ingang wei bont perde in die lang gras met geel blomme wat geil tot by hul bors groei.

Maastricht is een van dié inlokkers. Mede-eienaar Melanie Louw gee rigtingaanwysings oor die foon: “Daar in die draai waar al die takbokke is, daar is ons.” Wat? Takbokke? Sowaar, soos sy verduidelik het, so is dit toe ook. Dis maar net deel van die staaltjies wat hier tussen ou klipgeboue, verlate trekkers en wilgerbome wat laag oor damme hang, skuil.

Die plaas het onlangs hul proelokaal geopen en die horingoue geboutjie spog met ’n keurige nuwe baadjie. Thys, Melanie se man, wynmaker en mede-eienaar, vertel dat die plaas reeds in 1702 op die titelakte as Maastricht bekend gestaan het. ʼn Mens kan jou net indink hoe Hendrick Seeger 320 jaar gelede effens bek-af omdat sy tuisdorp vêr oor die waters was sy verlange in ’n plaasnaam vergestalt het.

Die geboutjie waarin ons oor hul Cap Classique en bitterballen kuier, was toentertyd die hooi- en kuilvoerstoor.

Thys se pa, Johannes, het die plaas in 1982 gekoop en begin om druiwe aan te plant. Die 100 hektaar wingerde is met sauvignon blanc, pinotage, cabernet sauvignon en ’n klein blokkie pinot noir beplant. Hoe dankbaar is ons nie vir oom Johannes nie, want die wyne uit daai wingerde is voortreflik. Tot 2010 is al hul druiwe vir ander kelders gelewer en dis die afgelope ses jaar onder Thys en sy pa se hand wat Maastricht ook hul eie etiket het. Groot gedeeltes van hul topdruiwe gaan steeds na die land se voorste kelders, maar hul eie wyne spog met vele medaljes en trofees.

The Master’s Vineyard Cabernet Sauvignon is histories in meer as een opsig. Dit kom uit dieselfde wingerd as die 1966 GS Cabernet Sauvignon wat deur Wine Spectator as “die een ware klassieke wyn wat ooit in Suid-Afrika produseer is” beskryf is, en in 2015 deur Jancis Robinson, bekroonde wynbeoordelaar, ’n perfekte 20/20 ontvang het. Die wingerd bestaan egter nie meer nie.

Natuurlik is sauvignon blanc een van hul spogkinders, en dis veral die vatgegisde The Contour 2020 wat uitblink. Dis nou tot die pinotage rosé in jou glas beland.

“Niks is nié lekker nie,” laat my geliefde half moedeloos hoor, want wat koop jy en wat los jy?

In ’n reuse- glasfles is wit-en-blou porseleinskerwe wat in die wingerde opgetel is met die grond-omdolwery. Dit vertel self sy eie verhaal van die Nederlandse, Bataafse en Indiese invloede hier aan die Kaap. Toe Thys en Melanie die proelokaal restoureer het, was dié skerwe hul inspirasie om handgeverfde Delft-teëls te gebruik.

Thys wys by die venster uit na die huis langs die proelokaal. Dis waar hy grootgeword het. Hier is baie geskiedenis op die plaas, wat doeriejare selfs ’n sendingstasie en veldhospitaal was. “Die akkerbome is in die 1700’s deur ’n monnik in die vorm van ’n kruis geplant. In die vroeë 1900’s wys dokumente al dat Maastricht een van die eerste nege plase was wat as wynprodusente geregistreer is. Om in aanmerking te kom, moes 10 000 wingerdstokke geplant word.

Die proelokaal dreun van die gesels, wynproe en eet.

Die heerlike verblyf by Loch Lynne, die fietsry en kuier tussen die plase, gaan ons laat terugkom. Dié keer met ons Gauteng-vriende se volgende Kaap-kuier.

Thys Louw, wynmaker en mede-eienaar van Maastricht, vertel dat die plaas reeds in 1702 op die titelakte as Maastricht bekend gestaan het. ʼn Mens kan jou net indink hoe Hendrick Seeger 320 jaar gelede effens bek-af omdat sy tuisdorp vêr oor die waters was, sy verlange in ’n plaasnaam vergestalt het.

Kitsfeite

  • As jy in die omgewing kuier, kyk gerus na die Galileo Opelugfliekprogram wat by Meerendal in die vallei wys, asook by verskeie ander plekke in en om die Kaapse Skiereiland tot einde April. Meer inligting by thegalileo.co.za.
  • Die vallei is ’n fietsryer se droom en plase soos Meerendal, Bloemendal en Hillcrest het lekker bergfietsroetes wat plase aan mekaar verbind. Ná ’n lekker rit is daar heerlike restaurante en bistro’s vir ete.
  • Vir meer inligting oor al die wynplase en doendinge in die vallei, besoek durbanvillewine.co.za.
  • Geen kuier aan Durbanville sal volledig wees sonder ’n besoek aan Die Boer Teaterrestaurant nie. Suid-Afrika se voorste kunstenaars tree hier op, terwyl jy aan heerlike kos smul en Suid-Afrikaanse wyne geniet. Loer by www.dieboer.com vir die program vir die maand.
  • Vir ’n heerlike piekniek of net stapgeleentheid langs die rivier, sluit Majik Forest op die hoek van Jip de Jager- en Van Riebeeckshofweg by jou beplanning in. Kyk op Facebook by Majik Forest Durbanville vir gebeure daar. Die park maak 19:00 toe.

Foto’s: Clifford Roberts en verskaf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.