Foto’s: Vryheid by Knysna se Thesen-eiland

Die historiese organisasie op die dorp het van die ou geboue met hierdie fraai teken gemerk en jy kan so tussen jou koffie, etes en verkennings deur, sommer bietjie meer lees oor die geskiedenis. (Foto: Verskaf)

Vier dae in Knysna klink in hierdie tye amper te goed om waar te wees. Met die pandemie en inperking was ek vir ’n wyle paniekerig en het gedink ons gaan nooit weer die N2 ry nie – seelangs, George verby, oor die bult by Wildernis met die spierwit strand en potblou water, skryf Maryke Roberts.

Thesen-eiland is ons huis vir dié wegbreek. The Turbine Boutique Hotel and Spa, ’n vyfsterhotel, se The Oyster Suite, is ’n ekstragroot dakvertrek met uitsigte oor die meer en huise en waterweë. Die hotel was eens op ’n tyd ’n kragsentrale wat omskep is en die ou pype, drukmeters en vele meer, is baie slim in die dekor ingewerk.

Ons kuier langs die swembad en eet sommer ligte middagetes of peuselgoed daar by die Island Cafe en The Gastro Pub. By die swembad vlieg daar seevoëls oor die tamaai groot torings van die ou turbine, al krysende en vry. In die bottelborselboom sit ’n suikerbekkie en fluit vir ’n lang tyd terwyl ek op my rug in die potblou water dryf. Die hotel se spa en restaurante is oop vir dagbesoekers en dis lekker om te sien hoe mense kom en gaan. Daar is ’n vakansievryheid in die lug as jy kyk na die plakkies, kuitbroeke en skouerbandjies oor bikini’s.

Soggens vroeg maak die water ligpatroontjies teen die skuins plafon. Die koffiemasjien raas gerusstellend vir espresso en cappuccino. Die son maak lang strepe oor die beddegoed terwyl ons soos ryk mense koffie in die bed drink. Dié vakansiegees pas ons beter as wat ons gedink het!

Ontbyt is elke oggend by dieselfde tafel in die hoekie van die stoep by Island Cafe. Die koel windjie trek regdeur van die swembad af en die son dans in wriemelende silwer patrone op die water. Mense stap verby op hul vroegoggend-oefensessies; sommige het honde aan leibande; ander stap doelgerig met waterbottels en ’n paar stap al geselsend met ’n stapmaat.

By die dokke maak bootoperateurs reg vir die dag en by kajakhuur is die vrolike oranje kajakke in rytjies uitgepak. Met Turbine Water Club gaan ons een middag uit vir ’n sonsakvaart op die Knysna-meer. Ons mag nie uitgaan see toe nie, want ons bootjie het net een enjin. Vir die seevaart het jy twee enjins nodig. En met die deurgang deur die Knysna Koppe as een van die gevaarlikste seedeurgange in die wêreld, is ek heel tevrede om op die meer die windjie in my hare te voel, aan ’n lekker peuselbord te knibbel en ’n bottel van Karusa se Karoo Route 62 rooiwyn te drink.

Dit neem nie lank terwyl jy op Thesen-eiland kuier om jou in te dink hoe lekker dit moet wees om permanent hier te bly nie. Niks is te ver om na te stap nie: die keuse vir restaurante, bootoperateurs, staproetes, lekker koffie en croissants, oulike geskenkwinkels en selfs ’n boetiek of twee as jy die behoefte het.

Gou is ons ook in die gewoonte om ná ontbyt te gaan stap, al tussen die geboue deur, wat my aan ’n reusagtige Lego-ontwerp laat dink. Daar is klein stukkies gras; bankies om op te sit en mymer; gerieflike loopvlakke waar jy die gety se eb en vloed kan gadeslaan.

Op die rotse, teen die water, is die voëls bedrywig: soms sit kormorante en droog hul vlerke uit; ander kere is dit bont visvangers wat die water bespied vir vismiddagetes; ander kere sit en droom swart tobies dik teen mekaar.

By die SANParke-kantoor op die puntjie van die mensgemaakte eiland, is die Knysna-seeperdjie in ’n klein akwarium. Jy kan jou neus daar teen die glas gaan druk en lank staan en kyk hoe dié klein vissie in die water dryf. Die seeperdjie is endemies aan dié streek en is erg bedreig.

Met waterbeperkings en stort met emmers wat al so deel van ons Kapenaars se lewe is, is ek die eerste aand skugter vir die bad. Maar die tweede aand met die reën en donderweer teen die ruite gooi ek badskuim in en lê met ‘n glas wyn. Die reuk van skuim en dié van die Charlotte Rhys-skoonheidsprodukte vul die kamer en laat voel die pandemie onwerklik ver.

Vroegoggend is ons uit. Ek stap en my man verken die fietsroetes. Oral maak mense reg vir die dag en bote en kajakke word afgevee en reggepak. Oranje, geel en rooi.

By Il de Paine se agterdeur loer ek in. Die restaurant maak eers oor ’n uur of wat oop, maar die bakkers is al van douvoordag doenig. Die bakker naaste aan die oop deur klap sy hande dat die meelwolke bolwang maak. Die personeel vergader buite en gesels oor die dag en voor word sambrele oopgevou, tafels afgevee en die nag se blare opgevee.

Die Waterfront is so naby, ons stap elke aand die paar tree oor die brug. Thesen Harbour Town is oortrek met interessante klein winkels waar jy vir ure seep of kerse ruik, serpe aanpas en geselsies met winkelassistente aanknoop.

My mond water al vir weke vir 34 South se garnaal-espetadas, wat ek op sosiale media gesien het. Dis ses koningingarnale wat met soetrissies en suurlemoen ingeryg word en dan met knoffel, pietersieliebotter en ’n knypie brandrissie gebak word. Toe ek boonop die spyskaart sien dat soetpatat een van die bykosse is omdat dit “elke werker se stapelvoedsel was in die dae toe ons plaaslike geelhoutwoude die ruggraat van Knysna se ekonomie was”, is ek begeesterd. Die spyskaart verduidelik dat Dalene Matthee soetpatats vereer het in drie van haar vier Bosromans, naamlik Kringe in ‘n bos, Fiela se Kind en Moerbeibos.

Almal om ons kyk my grootoog aan toe my espetada op sy tamaai groot yster-sosatiestok arriveer. Ons kyk ná ete in die interessante deli rond en hier kan jy wraggies van sardientjies uit Portugal tot truffels uit Italië koop. Die deli se uitbreiding is ’n direkte uitvloeisel van verlede jaar se inperking, maar nou is dit dié lekkerbekplek om allerhande interessante bestanddele te kom koop.

Ons trek ’n honderd meter van The Turbine oor na die viersterhotel, The Lofts Boutique Hotel, deel van Cape Country Routes. Dis letterlik op die water en in ’n ou boothuis ingerig. Die ou gebou se hele houtraamwerk is behou en die hotel binne is baie kunstig gebou. Die binnehof is ’n koffiewinkel waar gaste ook ontbyt en middagete kan eet, verskeie dekor- en geskenkwinkels en ’n spa met uitsig op die meer. Die plante omraam die binnehof en lig val in goue glorie deur dakvensters.

Ons monde val behoorlik oop toe ons na ons kamer gewys word. Die wondergroot balkon staan met sy houtvoete in die meer en ’n kano, wat ons enige tyd kan gebruik, is teen die kant vasgemaak. Ek het nog nooit ’n hekkie tussen my bed en die Knysna-meer gehad nie en ons voel skoon aperig.

Saam met jou kamersleutel kry jy ’n ontbytbewys wat jy ook by Il de Paine (aan die anderkant van die hotel se binnehof) kan gebruik. Daar is daar ’n tevrede gemurmel onder mense wat aan sterk espressos of vars uitgedrukte wortel-, pynappel- en appelsap teug, terwyl hul vingers die louwarm botterige croissants breek. Die kwikstertjies het lankal agtergekom dié krummels is beter as enigiets wat hulle in die natuur kan oppik en kom sit maklik op jou bord.

Die groot buite-area onder die bome is tegelykertyd koel, maar hier en daar breek stukkies son deur die takke en bak jou voete lekker warm.

Hier teug ons laatoggend aan Knysna-gin en Bloody Markus (of Mary) wat vernoem is na die wêreldbekende bakkery-eienaar, Markus F. Daarmee peusel jy aan kaas-en-paprika-broodstokkies, wat soos mini-baguettes lyk en lekker sout sy man teen die soet alkohol staan.

Ons stap weer net enkele treë na die spa en so met die sussende klank van die klotsende water van die meer en die rustige musiek, dryf ons vinnig na droomland, terwyl geoefende vingers die laaste bietjie stres uit ons sawwe lywe vryf.

Die middagete by The Drydock roep. Ek bestel ’n hele homp soesji’s, maar my man kan nie uitgeëet raak aan dié restaurantgroep se voortreflike oesters nie. Behalwe 34 South en Drydock is daar ook Sirocco’s in dié stal, waar ons vir aandete bespreek het. Die oesterskulpe is so groot soos my plat hand en die reënboogkleure maak patrone op die gladde binnekant.

Oral in die dorp en op die eiland is daar in wit stensilprentjies van die seeperdjie en die woorde: “The sea starts here. Don’t litter.” Die boodskap tref jou soos koue water in die gesig. Toe ons later terugstap hotel toe, sien ek weer die klein seeperdjie wat weerloos in die water dryf…

Laatmiddag gebruik ons die hotel se tweemankajak en gaan verken die meer. Die reën vang ons onverwags en ons kom nóg natter terug by die hotel aan, maar binne minute is ons onder die warm stort. Teen aandete is ons terug in die Waterfront.

Ons laaste dag in Knysna breek windstil en met ’n skoon blou lug aan. Ons sit heeloggend in die sonnetjie op ons stoep en lees en skuif die groot sambreel so al om die uur. Ek ruik die lekker kos uit die klein restaurant se kombuis en teen middagete is ons daar, omring deur ruie plante en sagte musiek.

Met die inperking wat ons oorsese vlerke geknip het, kyk mens anders na jou eie land. Hierdie klein oase kan enige plek in die wêreld wees. Die enigste ding wat verklap dat jy in Suid-Afrika is, is ons kelnerin se onberispelike Afrikaans, haar sin vir humor en liefde vir ons eie kos.

“Julle moet die bobotie eet,” vertel sy voor ons nog die spyskaart by haar neem.

Middagslapies met die vensters wyd oop en gordyne wat bol in die middagwindjie, is vir my die ware definisie van vakansie. Dis nou saam met die reuk van sonbrandolie; seesand in jou skoene en tussen jou tone.

As daardie middagslapie gevolg word deur ’n sonsakvaart op ’n luukse 55 voet-katamaran van Ocean Sailing Charters, des te beter. Neil van Deventer, ons kaptein, stuur die groot katamaran behendig by die beskutte muurtjie voor Sirocco Restaurant uit; oop waters toe. Ons teug aan gin en tonic met die wind in ons hare. Die windjie kom effe sterker op en af en toe kom ’n spierwit golf en spat ons voete papnat.

Die koue water, die seelug wat my hare wild orent laat staan, seevoëls wat hoog bo ons koppe draai en die effe bitter verfrissing van my drankie – alles laat my waarlik vry voel.

Ons gaan moeiteloos deur die ingang by die Knysna Koppe en waai geesdriftig vir diegene aan wal. Neil stuur die boot behendig tot ons rustig agter die golwe lê en dolfyne en robbe langs ons deur die water klief.

Die laatmiddagson bak gerusstellend op my rug en droog sommer my voete ook af. Ná ’n salige paar minute se dryf op die ritme van die seedeinings, vra hy dat ons moet vashou – ons gaan met die goue gloed van sononder terug deur die koppe, maar soos een groot branderplankryer daar ingly.

Die vorige gevoel van vryheid, word vervang met opwinding en adrenalien toe ons spoed vermeerder, die seile bolstaan en ons sekuur deur die ingang gly. Ek wil soos ’n kind gil: “Weer! Weer! Weer!”

Dis sterk skemer toe ons nog drankies kan bestel en die maan soos ’n vet kaasskyf teen die hemel verskyn. Bote kom stadig ingedryf; mense lag en gesels en hul vrolikheid dans op die goue water. Die sorgelose vreugde van ’n loom somermiddag op die water, omwolk die katamaran toe Neil teen die kaai vasmeer.

Dis met daardie opwinding wat ons by Sirocco instap. Dis ons laaste aand in dié oesterparadys en my man vergryp hom aan oesters en ek aan garnale in knoffelbotter. Buite begin die liggies van die eiland een vir een skyn en laggende vriende kom verbygestap. Die ligtheid in die lug om buite te kan wees, vriende te sien en saam uit te eet, is iets wat ons nou meer as ooit tevore waardeer.

Ons sit in die klein glasboksie wat teen die kant van die restaurant uithang en voel geluksalig op ons eie. Die Marras Piekenierskloof Grenache van die Swartlandse is lig en perfek saam met my ryk seekos. Lank nadat ons borde weggeneem is, rol ek nog klein slukkies oor my tong, om die ervaring langer te laat uitrek.

Ons stap met welbehae die paar meter terug na The Lofts. Dis ounag toe ons ons stoep vaarwel roep en gaan inkruip met net die sagte geklots van die water as geselskap.

Drie ervaringe wat jy nie moet misloop nie:

  • Die gewilde Knysna Oesterfees van 9-18 Julie. Alles wat jy wil weet, kry jy by Visitknysna.co.za ;
  • een van die mikrobrouerye soos Red Bridge Brewing Co. en die twee gin-makers, The Phantom en Knysna Gin;
  • ’n groot bak oesters, mossels of garnale by een van die vele bekroonde restaurante in die Knysna Waterfront of Thesen-eiland. 34 Degrees South word nie verniet die huis van die Knysna-oester genoem nie; en
  • ’n vaart op ’n luukse katamaran saam met Ocean Sailing Charters.

Kitsfeite

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mrs H ·

Sjoe. N droom wens… smag om daar te gaan, finansies is maar altyd n knyperige ding.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.