’n Besoek aan Silesië

Wroclaw, provinsiale hoofstad van Silesië. (Foto: Pixabay)

Silesië, oftewel Schlesien in Duits, is ʼn streek in die suidweste van Pole. In sy geskiedenis het die streek weens sy ligging tussen drie moondhede verskeie kere van eienaar verwissel: In die Middeleeue was dit deel van die koningryk Boheme, daarna van die Habsburgse Ryk, en van 1742 tot 1945 deel van Pruise, oftewel later die Duitse Ryk. Na die Tweede Wêreldoorlog is die hele Silesië van Duitsland deur die Sowjetunie afgesny en aan sy kommunistiese broederland Pole gegee.

Die Oder- en Neisserivier is as die nuwe natuurlike grens tussen Duitsland en Pole beskou, alhoewel dit wederregtelik en sonder enige vredesverdrag geskied het. Pole het dadelik amper alle Duitsers uit die gebied verdryf en Poolse vlugtelinge uit die gebiede wat die Sowjetunie verder oos beset het, daar gevestig. Duitsland (oftewel die Bondsrepubliek) het nooit de jure die verlies van sy gebiede aanvaar nie, ook weens die destydse relatiewe invloed wat die vereniging van die Duitse vlugtelinge wat uit die gebiede verdryf is, gehad het. Daar is egter ook besef dat die kanse vir ʼn herwinning uiters skraal was. Eers in 1990, met die onderhandelinge oor die vereniging van die twee Duitse state, het Duitsland in ʼn vredesverdrag met Pole die gebiede afgestaan. Vandag woon min Duitsers nog in Silesië, in sekere dele miskien nog 10% van die bevolking. Die Poolse regering behandel hulle ook eerder stief en die seer van die oorlog is nog nie heeltemal vergete nie.

Hirschberg (Foto: Pixabay)

Dit net as agtergrond. Saam met my seun en twee vriende het ons drie historiese en mooi behoue stede asook ʼn vakansieplek in die Riesengebirge op die grens met Tsjeggië besoek. Die eerste stop, waar ons ook oorgeslaap het, was Hirschberg (Jelenia Gora in Pools), ’n stad met 80 000 inwoners. Hier is die invloed van die Habsburgse Ryk nog in die argitektuur sigbaar; die ou stad is ʼn juweel met veral barokargitektuur. Die markplein en die stadsaal met sy toring in die middel en die gewelhuise rondom is ʼn besonder mooi argitektoniese geheelbeeld. Alhoewel Silesië van ouds af katoliek was (en nou nog meer, met die Pole wat almal katoliek is), beskik Hirschberg oor ʼn indrukwekkende Protestantse kerk van 1710, wat net een van ses Protestantse kerke was wat die Habsburgse keiser aan die Protestante gegee het. Vandag is dit wel katoliek, want Duitse Protestante is daar nie meer nie. Al wat van hulle oor is, is die grafte rondom die kerk.

Karpacz (Foto: Pixabay)

Naby Hirschberg in die Riesengebirge is die gewilde ski-oord Krummhübel (Karpacz), wat reeds in die tyd van die Duitse keiserryk ʼn gewilde vakansiebestemming was. Talle pragtige houtvillas dateer nog uit daardie tyd. Vir ons, wat nou al twee jaar noodgedwonge met allerhande koronaverwante beperkings saamleef, was dit wonderlik om tussen massas mense te wees, almal sonder maskers, om oral waar ons wou te koop of iets warms te drink of te eet. Besonder lekker in die winter is gesmelte sjokolade wat jy uit ʼn beker drink. Die rit met die “Rodelbahn”, waar jy op ʼn slee op spore eers op die berg getrek word en dan moet jy laat waai, is ook ‘n belewenis. Dit is baie veilig op die spore met jou eie briek om die spoed te beheer. Hier bo, op 800 meter, het nog sneeu gelê en ons kon vir ʼn paar uur die winteratmosfeer geniet wat daar nie hierdie seisoen in Berlyn was nie.

Die volgende dag het ons in Liegnitz gestop. Dit was Sondag en die kerke vol, dit was verblydend om te sien dat die Christendom hier nog sterk staan. Die Pole is omtrent almal katoliek en dit gaan saam met ʼn konserwatiewe ingesteldheid. Op die markplein was daar ook ʼn groot vlooimark vol oudhede, meestal uit die tyd voor die oorlog: munte, offisiersabels, porselein, boeke, koperware, juwele, poskaarte en vele meer. Ek het my aan die goed verkyk, maar gelukkig besef dat ons woonstel reeds propvol goed is.

Laastens was ons in Grünberg (Zielona Gora), ʼn stad met sowat 140 000 inwoners, wat veral bekend is as Poolse sentrum vir wynverbouing, iets wat andersins skaars is in die land wat te ver noord en te plat vir wynverbouing is.

Grünberg

Hier word slegs op 200 hektaar wit druiwe verbou, maar dit is immers die mees noordelike wynbougebied ter wêreld. Oral in die ou stad op die sypaadjie was daar klein bronsbeeldjies van Bacchus, die Griekse wyngod. Verder is die stad ook die setel van ʼn biskop en het ook ʼn bekende universiteit, wat ekstra lewe aan die stad gee.

Grünberg

Wat opvallend in elke stad was, is dat almal, soos ons kon sien, Poolse mense was. Geen uitlandse toeriste nie, en ook nie die gewone veelvolkigheid wat deesdae in elke Wes-Europese stad oorheersend is nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.