ʼn Ensiklopedie oor die Karoo vir jou

(Foto verskaf deur Ons KnK)

Die Karoo en omliggende platteland is ’n wêreld waar baie hul hart al verloor het. Dis ’n wêreld met ’n bekoring van lewe op ’n ander pas, wye vlaktes en rustigheid vir die siel.

Dieselfde spasie, afstand en onopgesmukte leefstyl wat soveel bekoring inhou, bied wel vir die wat hier woon ’n paar uitdagings. Ons Karoo en Kontrei (Ons KnK) is ʼn beweging wat begin is juis om ons entrepreneurs en verskilmakers in ons dorpies by te staan met uit-die-boks idees om nuwe lewe in ons platteland in te blaas. Want saam kan ons groter dink en doen.

Ons KnK het ʼn aanlyn platform geskep om as ʼn ensiklopedie van ons wêreld te dien; nog in ons babaskoene, maar groei elke dag. Om dit makliker te maak vir besoekers na die webwerf om hulself te oriënteer, het ons ʼn paar kortpaaie vir jou ingebou. Soms het jy vinnig ’n spesifieke dorp of area se inligting nodig. Al wat die gebruiker moet doen, is om die dorp se naam in te tik, gevolg deur .dorp.info, byvoorbeeld: www.calvinia.dorp.info. Dit sal jou direk na daardie dorp se inligting neem. En vir ʼn area tik jy die kontrei se naam gevolg deur .kontrei.info byvoorbeeld: www.koup.kontrei.info

Nadat soveel mense daarvoor gevra het, het Ons KnK ʼn streeksnamekaart beskikbaar gestel waar jy kan sien waar al die nostalgiese volksnaamtreke soos Moordenaars-Karoo en die Knersvlakte nou eintlik geleë is.

Volgende jaar beplan ons ook ʼn skattejag deur ons Karoo en die omliggende platteland wat van Maart 2024 tot Januarie 2025 sal loop. Met dié skattejag wil ons vir besoekers iets opwindend te gee om te doen om ons wêreld beter leer ken, en ook fondse insamel vir projekte in die betrokke dorpe wat deel vorm van die skattejag. Hou ons sosiale media dop om op hoogte te bly.

Dis maar die begin van groot dinge, want saam is ons sterker. Met God se liefde en genade wat ons tot op hierdie punt gebring het, is die opgewondenheid groot om te sien wat alles nog voorlê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.