Oosterzele, maar tuis bly bes

Die uitsig uit my kamervenster. (Foto: Dalene de Vente)

Die naam Sophie is baie gewild in Oosterzele, ʼn gebied net buite Gent in België. In die kort rukkie wat ek daar was, het ek drie Sophies teëgekom. Om die waarheid te sê, ek het al drie van hulle sommer in die eerste week al ontmoet.

Die administratiewe klerk wat by die munisipale gebou werk waar ek myself moet inskryf se naam is Sophie. In die ING Bank waar ek vir my ʼn rekening oopmaak, sien ek dat die teller se naam ook Sophie is. Toe die kinders van die gesin waar ek au pair se tannie kom kuier, moet ek keer dat my mond nie oophang nie toe sy haarself voorstel as Sophie.

Die Sophie wat by die munisipaliteit werk, is egter die enigste een wat so ʼn bietjie Engels kan praat en ook die enigste mens wat my ooit in trane gesien het terwyl ek in België was.

So eksoties soos wat die platteland van België klink, is dit nie juis iets om oor huis toe te skryf nie. Daar is een klein straatjie in Oosterzele met winkels: ʼn haarsalon, ʼn klein supermark, ʼn bank, ʼn bakkery, ʼn Rooms-Katolieke kerk en ʼn winkel wat oudhede verkoop. Dis al.

Die straatjie maak ʼn draai en dan is daar ʼn klein winkel wat slaptjips verkoop. Verkieslik moet jy nie daarheen gaan nie. Daar is nie koffie nie, net yskoue koeldranke. Ek is net een keer soontoe. Die twee mense wat daarbinne werk was so verbaas om ʼn kliënt te hê, hulle kon nie ophou om vir my te kyk nie.

Ys vorm op my venster. (Foto: Dalene de Vente)

Ek het in Februarie 2018 aangekom by die huis waar ek sou au pair. Op ʼn koelerige dag het ek voor die huis stilgehou waar daar gesiggies nuuskierig deur die venster geloer het. Ek het ʼn naar kol op my maag gehad: opgewonde én angstig vir wat voorlê.

Die tweede aand wat ek saam met die gesin om die tafel sit en eet vra hulle dat ek asseblief nie oor hulle moet skryf of foto’s neem van hulle gesin of huis nie. “Ek belowe ek sal nie.”

As ʼn mens deur Oosterzele se strate stap, vertel dit egter al genoeg van sy mense. Die huise is groot, die karre spoggerig, maar die strate is stil. Ek was nog nooit so eensaam soos die kere wat ek alleen gaan stap het (of met my geroeste fiets gery het) nie. Al wat jou ooit groet is kwaai honde wat my uit vrees vinniger laat stap het.

Om myself tuis te maak was nie sonder stampe en stote nie.

My fiets staan voor die munisipale gebou in Oosterzele. (Foto: Dalene de Vente)

Die eerste keer toe ek die 2,6 km van die huis tot by die munisipale kantoor aanpak, was dit -6 °C. My klere was ʼn dik laag om my. Ek was gemus, geserp en gesokkie.

Vir die tweede keer in my lewe (oukei, dalk eerder die vyfde keer) klim ek op ʼn fiets. Dit gaan maar wankelrig en tot die Belge se verbasing klim ek maar eerder by groot kruisings van my fiets af en stoot die fiets oor. Dit help nie dat my gesig so ʼn bietjie soos ʼn Nederlander sʼn lyk met rooi wange van die wind nie, so ek hoop maar daar is iets anders wat sal verklap dat ek ʼn toeris is.

Dit het my ʼn paar dae geneem om te besef as ek oor die kruising wil gaan is daar ʼn knoppie wat ek kan druk by die verkeerslig. In Suid-Afrika werk daardie knoppies nie regtig meer nie. Ek het dus elke keer net gewag vir die regte tyd en dan (terwyl die mannetjie op die verkeerslig rooi is) oorgestap. Aan die mense se gesigte wat in die karre sit het ek gou besef dat dit nie die regte manier is nie. Hoe was ek veronderstel om te weet? Die mannetjie het net nooit groen geword nie….

Dit is 3 °C toe ek een Sondagoggend vroeg opstaan om kerk toe te gaan in die naaste stad, Gent.

Oorspronklik sou ek agtuur op die bus geklim het en halftien by die halte gestop het wat 2 km van die kerk in Gent is.

Maar België se busstelsel is soms nog traer as in Afrika.

Presies twee minute voor die aankoms van die bus het ek reggestaan … net om ʼn minuut later die regte bus verby my te sien ry. Die knaap agter die stuurwiel het my in die oë gekyk en doodluiters verbygery. En ek kón nie verstaan wat ek gedoen het dat hy verby my ry nie.

Ek maak die De Lijn-app, waarop al die busse en trems se tye aangedui is, op my selfoon oop en lees die inligting weer en weer. Toe tref dit my skielik!

Daar is honderde bushaltes in Oosterzele! Daar is nie ʼn treinstasie nie, daar is nie ʼn groot supermark nie (net ʼn kleintjie), daar is nie ʼn poskantoor nie en daar is nie ʼn drankwinkel nie. Maar daar is bushaltes. Honderde. En ek staan by die verkeerde halte. Ek is amper in trane.

Ek het in Pretoria se Moot grootgeword en om Sondagoggend kerk toe te gaan, was van kleins af al ʼn lafenis. Ek smag na ʼn kerkdiens. Daardie oggend is dié samesyn my nie beskore nie.

ʼn Bord met ʼn groot uitnodiging vang my oog. “Gratis koffie/tee.”

Ek ry deur Oosterzele se strate. (Foto: Dalene de Vente)

Ek wonder ʼn oomblik … en stap by die supermark in. Die Vlaamse vrou verduidelik dat dit die eerste Sondag is wat die supermark oop is in Oosterzele. Dankbaar gryp ek die koffie en wag nog ʼn uur vir die volgende bus.

Dit is nie so dat my tyd in Oosterzele net ʼn slegte ervaring was nie. Die manier waarop ek gegroei het en die dinge wat beleef het, laat my nou nog glimlag. Soms verlang ek selfs na die perde en hoenders van die bure by die au pair-huis.

Ek weet hoe voel dit om by die stasie Gent Sint Pieters in Starbucks te sit. Ek weet hoe voel dit om langs die kanaal in Delft te sit. Ek weet hoe voel dit om op die Arc de Triomphe in Parys te staan en hoe dit voel om op die Teems in Londen te vaar. Ek onthou hoe dit voel om op die Groningen-stasie te loop. Om te wag by Wezep vir die trein na Zwolle. Ek weet hoe eensaam die strate van Oosterzele kan wees. Toe ek die eerste keer in Groningen stap, kon ek nie genoeg kry van die plek nie. My mond het oopgehang. Fietse net waar jy kyk. Kanale met mooi bote daarop.

Nog ʼn mooi straat in Oosterzele. (Foto: Dalene de Vente)

Aan die begin van Mei 2018 is ek weer op pad terug na Suid-Afrika. Die verlange na die son, my taal en my gesin het té veel geword. Jy weet jy is in Afrika gebore as jy op Kaïro se lughawe land en jy is bly om daar te wees. Ek hoor Afrikaans op ʼn myl af en sien boeretannies sit in hulle pantoffels en kamerjasse teen die muur. Ek wil hulle vra of hulle ook in die Moot bly? Nog ʼn Afrikaanse vrou vertel vir ander taalgenote “die Here het my só geseën – ek was in Rome”.

Ek ontmoet ook ʼn dieetkundige van Durbanville en ʼn wiskundeonderwyser van Pretoria wat vir haar man in Egipte gaan kuier het. ʼn Man van Sirië kom klets met my. Ek moet ʼn keer vir hom kom kuier. Sirië is nie só sleg nie. Ek sien die Afrikaanse tannies kyk my effens meer skepties aan as vroeër toe die man van Sirië wegstap, op soek na vriendeliker weivelde.

My oog vang die bordjie waarop ons vlugnommer staan: ʼn geskeurde A4, vasgeplak met prestik. Kaïro se lughawe staan nie terug vir die wêreld nie. Hulle haal hul sperdatums prestik en al.

Ek sug behaaglik. Ek gaan huis toe, na my mense toe, sáám met my mense. ʼn Paar drome afgetiek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jaco ·

jy sal BAIE vinnig wil terug belgie toe wanneer jy die volgende in SA beleef:
swak of geen munisipale dienslewering
swak vuil staatshospitale
lae standaard onderwys waar dit amper “reg” is as ‘n leerder ‘n onderwyser aanrand
die hoogste misdaad in die wereld
regstellende aksie en BEE wat gedurig vir jou se jou velkleur is “verkeerd” om werk te kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.