Ponta do Ouro in ’n bierdoppie

Die uitsig oor The Beach Bar se strand by Ponta de Oura in die suide van Mosambiek. (Foto: Verskaf)

As jy my weer sien, vra my oor dáárdie keer in Mosambiek. Dit is nou vir jou ʼn storie!

Op die strand by Ponta do Ouro is daar ʼn plek waar jy iets móét gaan drink: The Beach Bar. Stap jy daar op die houtbalke na jou sitplek toe, hoor jy Afrikaans, Portugees, Engels en ʼn paar ander Afrikatale deurmekaar.

Waarskuwing: Moenie maak of jy belangstel om iets by die strandverkopers te koop nie. As hulle jou eers beet het, is dit neusie verby, want óf jou gewete gaan seerkry, óf jou beursie. Ek het gelukkig net ʼn R100-noot in my beursie gehad. Die man wys toe vir my die mooiste rokkies wat hy in ʼn tas by hom dra. En ek wou regtig een koop.

Moenie maak of jy belangstel om iets by die strandverkopers te koop nie. (Foto: Verskaf)

“Ek het net R100,” sê ek. “Yah, it’s enough … Ons kry vir jou iets wat R100 is.” Ons skeur sakke oop en frommel rokke deurmekaar. Uiteindelik vind ek iets. “Hierdie een – R100.”

“Oooo nee!” sê hy. “Ek bedoel R200.”

Die arme man … Want toe ek klaar is, is sy koopgoed alles chaoties en ek het steeds my R100 in my sak. Ek neem darem van hom ʼn foto.

The Beach Bar speel hard genoeg musiek vir die hele strand. Gekleurde gazebo’s pronk oral. Mense baljaar in die branders. Doen jouself ʼn guns en stap vroegoggend na die hoek van die strand. Daar is ʼn klomp rotse waar vissermanne dut as hulle nie visvang nie. Die uitsig is iets vir jou fotoalbum. Toe ek die eerste keer daar gestaan het, was Ponta do Ouro vir my die mooiste stranddorpie wat ek al ooit gesien het. Drink ʼn biertjie en smul aan taco’s – met die golwe hier digby jou!

Ponta do Ouro is ʼn kombinasie van allerhande wonings deurmekaar – luukse vakansiehuise, woonhuise met houthekkies en soms word die strand sommer die smouse se woonplek. As jy stilstaan en oor die prentjie voor jou uitkyk, sien jy hoe trekkers bote uit die see trek en ʼn paar manne die strand patrolleer.

Onthou tog om my daaroor te vra. Dit was nou vir jou ʼn storie …

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.