Seiljagte, skemerkelkies en sonbaai: doen dit alles op sjarmante Seychelle

Hierdie is die toppunt van luuksheid. (Foto: Christel Cornelissen/Maroela Media)

Dis nie moeilik om te verstaan waarom Club Med wêreldwyd amperse kultusaanhang geniet nie.

Die Franse ken van ʼn soiree uitpak en as daar nou een ding is wat Suid-Afrikaners geniet, is dit ʼn propperse partytjie. Dink die Dirty Dancing-oord van laat 80’s … maar met moderne cuisine, seiljagte, sonverbruinde lywe en skemerkelkies vir dae.

En as jy by Club Med se Seychelle-oord instap, is dit maklik om hierdie enorme aanhang te verstaan. Maar daar is dinge wat jou eilandvakansie ook geweldig moeilik maak. Soveel vrae, soveel spanning. Die stres darem…

(Foto: Christel Cornelissen/Maroela Media)

Begin jy ontbyt met graanvlokkies of vrugte? Gebakte eier of ʼn omelet? Stel jy jou wekker, of slaap jy tot jou laaste moeg se moeg gewyk het. Sjampanje of skemerkelkie? Gebak of geklits? Volson of skadu? SPF30 of is vandag ʼn SPF50-dag? En neem jy ʼn middagslapie ná jou massering, of lees jy eerder jou boek?

Vergeet die wêreld

(Foto: Christel Cornelissen/Maroela Media)

Dis ʼn vinnige hop van die OR Tambo-lughawe tot by die lughawe op Victoria; net-net minder as vyf uur later is jy daar. Dit is lank genoeg om te vergeet of jy alles ingepak het; kort genoeg om die passasier voor jou te verduur.

ʼn Bus blits jou van die lughawe tot by die hawe waar ʼn veerboot van die oord ná ʼn vinnige versnapering wag. Dis ʼn kort vaart en ons kom in die donker by die oord, deel van Club Med se sogenaamde Exclusive Collection-reeks op die Sainte Anne- private eiland, aan. Nie beurtkragdonkerte nie, eilandliggie-donkerte terwyl dit voel of jy die humiditeit met jou hand kan aanraak.

Die liggies van Club Med se Seychelle-oord skommel al hoe nader en daar gekom wag die vonkelwyn reeds op blinkgepoleerde skinkborde. Hallo vakansie! En van hier word dinge net beter.

Hierdie is die toppunt van luuksheid. Ruim kamers, ʼn see-uitsig, onbeperkte maaltye en drankies, en alle aktiwiteite wat by die prys ingesluit word. Lus om te leer seiljagvaart? Meld graag aan. ʼn Boffin met ʼn vasvrakompetisie? Sit hier. Nog nooit pikkelbal probeer nie? ʼn Afrigter tot jou beskikking.

Reuseskilpaaie, spierwit strande, fietsry-ekskursies

(Foto: Christel Cornelissen/Maroela Media)

As die luuksheid van voete in die sand, skemerkelkie in die hand, of storieboek in die sak nie meer genoeg is nie, is Seychelle nog lank nie klaar met jou nie. Hierdie groep eilande is ook ʼn ontdekkersparadys.

ʼn Vinnige vlug (of veerbootvaart) neem jou na een van verskeie eilande waar jy om elke draai iets nuut kan verken. Die eiland Praslin is een van daardie plekke waar eilandflieks waarskynlik moet afspeel – en toeriste stroom hierheen om ure op die spierwit strande of in die louwarm water te ontspan.

(Foto: Christel Cornelissen/Maroela Media)

Praslin is ook die tuiste van die Vallée de Mai-natuurreservaat, ʼn wêrelderfenisterrein wat bestaan uit ʼn reusepalmwoud wat strek oor amper 20 ha. Hier vind jy die ontwykende Seychelle swart papegaai, ʼn voël endemies aan dié streek, en maak seker een van die reuse-palmneute beland nie op jou kop nie.

(Foto: Christel Cornelissen/Maroela Media)

Van wildlewe gepraat. Die eilandgroep se yslike skilpaaie sal jou in stomme verwondering laat stilstaan. En kyk mooi … hulle beweeg veel vinniger as wat jy dink.

Huur ʼn fiets en verken die land op eie stoom. Drentel van winkeltjie tot restaurant of mark, probeer ʼn tradisionele gereg, of leer meer oor die Kreoolse geskiedenis en tradisie.

Vakansie vir almal?

Vir wie is ʼn wegbreek na die oord nommerpas? Die regte vraag is dalk eerder: vir wie is dit nie geskik nie? Club Med se oorde spesialiseer daarin om iets vir almal te bied: van ʼn verliefde paartjie op wittebrood, tot die ou getroudes wat ná 50 jaar nog hande vashou – en al die families tussen-in.

Vir die kleinspan is daar daagliks aktiwiteite en ʼn toegewyde span wat na hulle behoeftes en sin vir avontuur omsien. Hierdie is ʼn oord wat aan alles dink; hulle kan babakos en selfs ʼn stootwaentjie voorsien – wat die bagasierondslepery op die lughawe sommer aansienlik makliker maak.

(Foto: Christel Cornelissen/Maroela Media)

Tydens etes is daar klein gedekte tafels vir die mini-eilandgangers en hul maaltye sal selfs diegene met die meeste kosfiemies se magies vol kry.

Wat vermaak betref, is daar programme spesifiek saamgestel om die jonger geslag besig te hou; alles van dans tot kuns en konserte en kookklasse. Sou ma en pa ná sononder ʼn blaaskans wil neem – en dalk iewers aanmeld vir ʼn (kinderlose) romantiese ete vir twee – is jou kleingoed steeds in veilige hande.

Diegene wat uit die staanspoor sonder die kinders reis (en dalk nie noodwendig deur ander gaste se jillende kinders omring wil word nie), kan ook met ʼn geruste hart aanmeld.

ʼn Vinnige vlug (of veerbootvaart) neem jou na een van verskeie eilande waar jy om elke draai iets nuut kan verken. (Foto: Christel Cornelissen/Maroela Media)

Die oord se onderskeie “sones” verseker dat elkeen rus vir die siel kry. Dit geld vir alles van etes tot ontspanningsgeriewe. Die zen-swembad, byvoorbeeld, is meestal ʼn kindervrye sone waar jy in salige vrede in die oneindigheidswembad kan ronddryf terwyl jy in die verte tuur en nié die wêreld se probleme oplos nie.

Etes kan swierig wees, of ontspanne. Trek opgetof of informeel aan. Jy besluit.

En ná ete, wanneer die hors d’oeuvre, die soesji en die skaap, die biefstuk en die visfilet, die roomys en fyngebak weggepak is, dán begin ʼn nuwe jollifikasie. Pak in vir boho-sjiek, weelderig in wit of baldadig in blomme. Of daag op nes jy wil. Almal is welkom.

Vinnige feite:

  • Die vlug duur sowat vyf ure
  • Daar is ʼn tweeuur-tydsverskil tussen Suid-Afrika en Seychelle
  • Die geldeenheid is die rupee (+/- SR1 = R1,39)
  • April tot Mei en Oktober tot November is ideale tye om die eiland te besoek
  • Inwoners praat hoofsaaklik Engels, Frans en Kreools
  • Suid-Afrikaners het nie ʼn visum nodig om Seychelle te besoek nie

Laat klop die begroting

(Foto: Christel Cornelissen/Maroela Media)

ʼn Alles ingesluit-vakansie is ʼn uitstekende manier om by die begroting te hou. En by Club Med beteken “alles ingesluit” presies dít. Die koste dek alle verblyf, etes, drankies, vermaak, sport, ontspannings en selfs Wi-Fi.

Club Med Seychelle is deel van die Exclusive Collection-reeks en is geleë op die Sainte Anne- private eiland. (Foto: Christel Cornelissen/Maroela Media)

ʼn Deposito van 20% vir die vakansie verseker ook ʼn vaste wisselkoers en sou die rand later besluit om in ʼn donker gat af te tuimel, bly die aanvanklike wisselkoers dieselfde en jou oorspronklike begroting klop steeds. Club Med kan ook die besprekings vir vlugte (wat nie hierby ingesluit is nie) namens jou hanteer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.