Sprokieswêreld van die Pruisiese tuine

In Berlyn lê die monumente uit die verskillende tydperke van die geskiedenis oor die stad versprei. In die konteks van Europa is Berlyn ’n betreklike jong stad met maar minder as 800 jaar se bestaan (die stad is in 1237 die eerste keer in ’n oorkonde genoem).

Daar is reeds berig oor die meer onlangse oorblyfsels van die verskillende tydperke, die Koue Oorlogtydperk (1945-1990), die Nazi-era (1933-1945), die Keiserryk (1870-1918) en die sogenaamde Gründerzeit (1840’s tot 1870’s). Die moderne Berlyn het met die Gründerzeit oftewel die Industrialisasie begin.

Daarvoor lê die era van die Romantiek (min of meer 1790’s-1830’s), wat sterk verskil van die daaropvolgende Gründerzeit. Terwyl in die Gründerzeit geld, tegnologie en ondernemerskap, en die nuwe klas van ryk adellikes voorop gestaan het, was die Romantiek die era van die beklemtoning van die gevoel, van die idilliese, oorspronklike asook van die natuur. Die fokus was op kuns en kultuur, nie op wetenskap en tegnologie nie. Skrywers, digters en skilders was hoog in aansien, nie handearbeiders, uitvinders en ondernemers nie. Dit was ook die tyd waar die vorste en konings redelik onbeperk regeer het en die nuwe bewegings vir demokrasie, nasionalisme en sosialisme nog nie ’n sterk faktor was nie.

In Berlyn word die era van die romantiek die beste vergestalt deur die reeks pragtuine en paleise in die suidwestelike voorstad Glienicke asook die naburige Potsdam, die speelplek van die Pruisiese koninklikes.

In die Romantiese Era is veral die Renaissance-tydperk van die 15de en 16de eeu en Italië geïdealiseer en dus wou ook die Pruisiese koningshuis hul klein stukke van Italië skep. Prins Carl was ná sy reis deur Italië in 1822 diep beïndruk met die land se harmonie van natuur en argitektuur en hy het aan die bekende argitek Carl-Friedrich Schinkel opdrag gegee om vir hom sy visie van ’n geïdealiseerde Italië in die park van Klein-Glienicke te verwesenlik. Daar is die paleis en ’n casino in die styl van ’n Italiaanse landelike herehuis te vinde, asook fonteine, “antieke” standbeelde, ’n kapel, tee-pawiljoen en ‘n oranjerie (glashuis vir subtropiese gewasse).

Carl se broers het hulle eweneens met parke met paleise en buitegeboue in die onmiddellike omgewing verwesenlik: Frederik Willem in Charlottenhof in Potsdam en Willem in die Park van Babelsberg. Charlottenhof was ’n huldiging van die antieke Griekeland (ook ’n gunstelingplek van verlange van dié tydperk), terwyl Babelsberg se paleis en buitegeboue in die neogotiek-styl gebou is, wat weer ’n nabootsing van die Middeleeue was, nóg ’n era wat die romantici bekoor het.

’n Vierde romantiese park, histories ietwat ouer, lê ook naby, naamlik die Pfaueninsel (Pou-eiland), wat koning Frederik Willem II van 1793-1797 laat ontwikkel het volgens sy drome van ’n romantiese wegkruipplek (waarby sy idee van romantiek nie net idealisties nie, maar ook fisiek was, met sy minnares wat ’n groot rol by die uitleg van die park gespeel het). Die elemente wat vir die adellikes van die tydperk deel uitgemaak het van hul ideale wêreld en tydverdryf was ook hier: ’n klein paleis, ’n dieretuin, ’n jagskerm, ’n antieke tempel, ’n melkplaas, ’n voëlhok, ’n kweekhuis en roostuin.

Al die koninklike parke maak deel uit van ’n besonderse kunslandskap en is nie verniet ’n Unesco-wêrelderfenisgebied nie. As verbinding tussen Glienicke, Potsdam en Babelsberg dien die Glienicker Brücke. Dié staalboogbrug is ook van geskiedkundige betekenis, maar behoort tot ’n ander era. Gebou in die vroeë 20ste eeu, het dit later veral bekend geword in die era van die Koue Oorlog. Hier was die grens tussen Wes-Berlyn en Potsdam, toe deel van die kommunistiese Oos-Duitsland. Verskeie kere is hier ook spioene – wat gevang is tussen Oos en Wes – uitgeruil. ’n Koperband merk vandag die plek in die middel van die brug waar die grens was.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.