Unieke fynbosreservaat voed die siel

Ons stop graag by Benguela Cove Lagoon Landgoed op die R43. Die wynmaker, Johann Fourie, gesels graag oor sy bekroonde wyne en die wynproe is ’n ware hoogtepunt. (Foto: Verskaf)

Grootbos Privaat Natuurreservaat, naby Gansbaai, se somerafslagtarief vir Suid-Afrikaners maak hierdie bekroonde fynbosparadys nou ook vir ons toeganklik en dis waar jy midde-in ons unieke fynboskoninkryk jou siel tot ruste kan bring, skryf Maryke Roberts.

Wanneer jou motor geparkeer is en jou tasse in jou kamer – wat meer soos ’n groot, weggesteekte woonstel lyk – neergesit is, omvou die natuur jou. Die groot skuifdeure in die kamer en sitkamer bring die plantegroei en voëllewe tot op jou stoep, wat op stelte tussen die plantegroei staan.

Die eienaar, Michael Lutzeyer en sy gesin het in 1991 by Uilkraalsmond vakansie gehou en op pad terug Kaap toe, verby die handgemaakte bordjie wat lamlendig langs die pad gehang het, gery. Hulle het die plaas, toe 123 hektaar, gekoop en twee selfsorghuisies opgerig. Vandag is die reservaat 2 600 hektaar groot – Suid-Afrika se top botaniese reservaat en grootste in die suidelike halfrond.

Die reservaat het ’n Forest Lodge, Garden Lodge en twee privaat villas, maar weens inperking is nie al die akkommodasie oop vir die publiek nie. Daar is allerhande aktiwiteite waaraan jy kan deelneem – van perdry tot witdoodhaaie gaan kyk in die nabygeleë Gansbaai, of die aanpak van toere deur Grootbos. Een hiervan is ’n besoek aan die Grootbos Stigting, wat nie net opheffingswerk doen in die plaaslike gemeenskappe nie, maar bewaring van die Kaapse blomkoninkryk as hoogste prioriteit het.

Die trofeë vir bykans elke aspek van toerisme – beste land gebaseerde walviskyk; beste indringervrye reservaat; unieke lodges van die wêreld en vele ander, hang teen die mure – ’n glastrofee van National Geographic pryk ook trots tussen hulle.

Jare gelede het ons ’n fliek, Smoke, met Harvey Keitel in die hoofrol gekyk. Ek onthou nie veel van die storie nie, maar wat my bybly, is hoe sy karakter – ’n Brooklyn-tabakwinkeleienaar – elke oggend om dieselfde tyd die winkel afneem. Altesaam 4 000 foto’s in totaal. Vir diegene wat die voorreg het om die albums te sien, is dit dieselfde foto. Hy verklaar egter dat “hulle almal dieselfde is, maar elkeen is anders as enige ander een. Jy het jou helder oggende; jou mistige oggende; jy het somer- en herfslig; weeksdae en naweke… Die aarde draai om die son en elke dag tref die son se lig die aarde uit ’n ander hoek.”

Die Forest Lodge by Grootbos Privaat Natuurreservaat smelt saam met die fynbos. Die uitsigte uit elke hoek is asemrowend. (Foto: Verskaf)

Dis hoe ek die see en lug buite die ekstragroot vensters van Grootbos ervaar. Daar is oral klein hoekies in die hotel, waar jy kan sit en die uitsigte geniet. Die see en hoe die lig daarop val, verander voortdurend. As jy te lank afkyk na jou boek, is daar iets wat daar buite op die water gebeur wat jy gaan mis. Praat nou van FOMO!

Vir baie ander mense wat onder op die R43 verbyry, is dit dieselfde uitsig, dieselfde see, dieselfde wolke as enige ander dag. Maar as jy stil word en regtig kyk, is daar geen twee minute dieselfde nie.

Dis ook die gewaarwording wat ek een oggend tydens ons 4×4 Reservaat Safari met ons gids, Jo de Villiers, ervaar. Elke keer as sy in die veld stilhou om iets te uit te wys, ’n stukkie fynbos pluk dat ons dit tussen ons vingers kan vryf om die hemelse aroma vry te laat, of liefderik oor ’n klein blommetjie streel, kyk ek anders na die veld om my.

Jo is nie verniet ’n fynbos- en voëlspesialis nie. Niks ontglip haar oë nie. Sy sê fynbos is baie ruig en gehard en nie voedsaam genoeg om baie wild te onderhou nie, daarom is die reservaat nie oortrek met bokke en wilde diere nie.

Die restaurant by Benguela Cove Lagoon Landgoed sal enige kosliefhebber se knieë swak maak. Ons het die nuwe proespyskaart geniet, waar jy ’n verskeidenheid wyne met verruklike disse kan geniet. (Foto: Verskaf)

Ons trek hoog teen die rantjies effe van die smal veldpaadjie tussen die proteas af. Sy klim uit die voertuig en verduidelik terwyl sy na ’n swart strook tussen die groen wys:

“Die brand maak die blom oop en versprei die saadjies. Dis maar soos die mens: ons het onverkende paaie in ons binneste en net as die lewe erg begin warm raak om ons, kom daardie verborge dele van ons na vore en lei ons soms op baie interessanter paadjies as dié waarop ons was.”

Ek sal nooit weer na fynbos of die brande wat dit verskroei, kan kyk sonder om hierdie wyse woorde te onthou nie.

Sy vertel dat fynbos ’n vuurgedrewe stelsel is, maar dat brande teen die regte intervalle nodig is.

“Ons het nie genoeg natuurlike brande om ons fynbos te onderhou nie en sonder gereelde brande sal die plante steriel word en doodgaan. Maar onbeheerde veldbrande rig baie groot skade aan omdat die plante nie behoorlik kan herstel nie. Ons sien ook al meer veldblomstropers in die Overberg, wat die proteas verkeerd afsny en nie genoeg plantmateriaal agterlaat vir die plant om te oorleef nie.”

Sy stop gereeld en klim uit, illustreer hoe die lewensiklus van die plantegroei werk en ons skater vir haar aanmerkings, want haar humorsin is vlymskerp.

Die kos by die restaurant by Benguela Cove Lagoon Landgoed is kunswerke in eie reg! (Foto: Verskaf)

Toe sy haar hand ewe kordaat soos die koningin van Engeland waai, vertel sy laggende dat ons nou in haar koninkryk kuier, waar Koningin Jo-sephine heers! Toe ons vra watter plant haar gunsteling is, antwoord sy blitsvinnig: “Elke plant in die fynbosbioom is my gunsteling.”

Wanneer sy later by die grondbedekkende suurvye stilhou, sê sy die plant is nie net medisinaal ryk nie, dis ook ’n natuurlike skuilkombersie vir klein diertjies tydens brande – omdat die blare soveel vog hou, brand die plant nie.

“Hierdie omgewing is ’n natuurlike opelug apteek,” verklaar sy toe sy vir ons ’n kartabos-blaartjie breek en wys hoe die draadjies vanmekaar trek.

“Dis goed vir ekseem, koorsblare en bloublasiesteek en die oumense het dit vir luieruitslag gebruik.”

Elke keer as sy stop, sien jy die diversiteit weerskante van die voertuig, iets wat gewoonlik ongesiens by jou motorvenster sou verbygly.

Die drie etes daagliks, is feeste uit die kombuis, onder leiding van die uitvoerende hoofsjef, Benjamin Conradie en jy kan die disse se bykosse skommel soos jou smaaklus elke dag wissel. Ek kan nie glo die sjefspan gee nie om dat ek sy spyskaart deurmekaar krap nie!

Daar is elke dag vars speldekussings in potjies op ons tafel en Grootbos spog met drie wynlyste – die een bied plaaslike wyne; nog een verouderde wyne uit die kelder en die ander een bied spogwyne van die Kaapse Wynmakersgilde. Die kelners het kennis van die wyne en weet ook hoeveel nagte jy oorbly. Hulle maak goeie voorstelle oor wat om te drink en hoe jou halwe bottel kan oorstaan na die volgende maal omdat daar ’n dis is wat ’n goeie pasmaat is vir jou wynkeuse.

Die weer tydens ons verblyf is wispelturig. Die tweede dag sous dit toe ons ná aandete terugstap kamer toe. Ons stop kort-kort in die klein paadjies om te luister hoe die digte plantegroei die druppels se luide neerplof demp. Terug in ons kamer, brand die kaggel en warmwatersakke wag in die bed. My man fluit ewe vrolik die deuntjie van “Listen To The Falling Rain” voor die sagte reën ons aan die slaap sus.

Saans kyk ons hoe die son oor die see en berge sak, voor ons aansit vir uithalermaaltye. As die luggie koel word, brand die vuurtjies. Die kombuis se sjefs verras met ’n diverse spyskaart wat waarlik iets vir elke smaak het. (Foto: Verskaf)

Vroegoggend is dit eers die stilte en dan die luide voëlgesang wat jou wakker maak. Jy gooi die deure oop en trek verkykers en voëlboeke nader om die geroep en gefluit en getjir-tjir in die ruie bosse te identifiseer. My geliefde sê dit klink soos die lae gemurmel van ’n kerkbasaar, maar geen geveerdes is sigbaar nie, so ruig is dit. Die nag se reën laat die fynbos se swaar tannienreuk uit die grond opstyg en vul elke hoekie van die kamer.

Ons kuier by die Grootbos Stigting laatoggend, word gevolg deur ’n trae middag in ons kamer. Die hitte noodsaak ons om die blindings laag te hou, maar ons voel darem die koel seeluggie om ons enkels waar ons op die bank sit en lees. Later speel lang skaduwees oor die blindings en ons skuif na buite met koppies tee. Daar is drie soorte interessante tee in ons kamer, Vitality, Tranquility en Harmony. Tranquility met sy heuningbostee, boegoe en ander kruie, is ons gunsteling. Ons is lui in die middagloom.

Laatmiddag ontmoet ons vir Jo vir ’n stappie deur die melkhoutbome, waar een van die bome 1 000 jaar oud. Daar is verskeie staproetes wat jy met of sonder gids kan stap en dis lekker koel onder die ruie takke. Grootbos spog met die wêreld se grootste melkhoutboomwoud.

Ek wonder oor die uitgeholde stam van die boom en die feit dat die boom nie omval nie.

“Die boom doen dit vir oorlewing. Klein diertjies kom grawe onder die uitgeholde deel en bemes die grond, wat die boom voed.”

Die dag is lekker interessant met verskeie aktiwiteite waaraan jy kan deelneem – van perdry tot witdoodhaaie gaan kyk in die nabygeleë Gansbaai, of die aanpak van toere deur Grootbos. (Foto: Verskaf)

Jo verpoos by ’n stinkhoutboom waarvan die bas met verskillende kleure korsmos bedek is. Daar is klein bosbokspoortjies in die klam grond. Soos ons stap, is die ruising van die see heeltyd hoorbaar, amper soos ’n fluistering op die wind. Jo wys vir ons ’n boom met ’n krokodilagtige bas en vertel dat dit ’n aanduiding van ’n stadige groeier is.

In ’n ander boom hang lang repe Spaanse mos. Hoe skoner die lug, hoe langer groei die mos. Sy sê dis destyds gebruik in plek van gaas, om as ontsmettende wondbedekker te dien.

Ons staan onder die buitestort en spoel die dag se hitte af, voor ons na die hotel se heerlike groot stoep stap vir sonsak-sopies met die son wat goue patrone oor die see verf. Die sjef bied elke aand ’n prentjiemooie versnapering om saam met jou drankie te geniet en mense sit gemoedelik en vertel van hul dag se uitstappies en ervaringe.

Op die sykant van die groot houtstoep, hoor ons ’n geklap van vlerkies en sagte getjirp. Toe ek om die pilaar loer, sit daar twee donsige rotsvalkkuikens wat angstig hul vlerkies klap vir hul ouers om nog kos te bring.

Met daardie koesterende beeld in my geestesoog, kuier ek die res van die tyd by Grootbos, korswel met die personeel of ander gaste; lees my boek klaar op ons stoepie en voel hoe my broek al stywer span ná elke lekker maaltyd.

Dis so lekker om ons eie land in al sy glorie te kan geniet en trots te staan en kyk hoe toerisme nie net ontsnapping bied aan gaste nie, maar ook werk skep en ophef.

Kitsfeite

  • Bespreek jou spesiale somerverblyf teen ’n groot afslag by Grootbos by 028 384 8053, [email protected] of besoek Grootbos se webwerf vir spesiale tariewe vir plaaslike toeriste.
  • Die jongste wynroete, die Agulhas Wyndriehoek, se wynplase is ’n katspoegie weg. Lomond is skaars 10 km buite Gansbaai en elke wynplaas op dié roete het iets uniek om te bied. Besoek hulle op Facebook of by Agulhaswinetriangle.co.za vir meer inligting oor alles wat daar gebeur.
  • Op pad terug Kaap toe, of as jy lus is vir ’n daguitstappie met jou gesin, gaan kuier by die Benguela Cove Wynlandgoed ’n entjie verder op die R43, waar jy kan wyn drink, heerlik eet, na kuns kan kyk, wingerdtoere kan onderneem of op die meer gaan vaar. Daar is ook ’n lekker pretpark vir die kinders. Besoek Benguelacove.co.za/
  • Foto’s: Clifford Roberts en verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.