Rol met retinol hierdie somer

Maak retinol deel van jou velsorgroetine hierdie somer. (Foto: Olha Ruskykh/Pexels)

Die Desember-vakansie kruip al hoe nader en baie van ons wil graag hierdie somer kan spog met ʼn gesonde en stralende vel.

Met ʼn oorvloed van serums, sonbrandrome en salwe is dit gʼn wonder dat party mense nie weet waar om te begin wanneer dit by gesonde velsorggewoontes kom nie.

ʼn Sleutelbestanddeel wat dikwels oor die hoof gesien word, is retinol.

Retinol is ʼn kragtige vorm van vitamien A en word dikwels met die behandeling van aknee vereenselwig, maar kenners meen enige veltipe en ouderdom kan by dié bestanddeel baat.

Hier is ʼn paar redes en maniere om retinol hierdie somer in jou skoonheidsroetine in te sluit:

Verminder plooie en fyn lyntjies

Retinol is bekend vir sy vermoë om plooie en lyntjies drasties te verminder. Dit bevorder ook die produksie van nuwe velselle en stimuleer die vel om sy jeugdige elastisiteit te behou.

Verminder pigmentasie en vlekke

Retinol help om die opeenhoping van melanien, wat pigmentvlekke en verkleurings op die vel veroorsaak, te verminder. Retinol se afskilferingseienskappe sal ook help om die wintermaande se droë velletjies te verwyder.

Bevorder ʼn gesonde en sterk vel

Retinol kan die produksie van kollageen verhoog, wat die vel se struktuur verbeter en dit sagter, gladder en meer gesond laat lyk. Dít help boonop om jou sonskerm- en grimeringaanwending makliker en meer doeltreffend te maak.

Die meeste retinolprodukte is in ‘n serum te kry. (Foto: Alesia Kozik/Pexels)

Maniere om retinol in jou skoonheidsroetine in te sluit:

Begin met ʼn lae konsentrasie: As jy nog nooit retinol gebruik het nie, is dit ʼn goeie idee om met ʼn lae konsentrasie te begin om jou vel aan die bestanddeel gewoond te laat raak, en verhoog dan geleidelik die konsentrasie. Retinol kan veral sensitiewe velle laat jeuk of brand as dit in oormaat aangewend word, so toets dit eers op ʼn klein deel van die vel.

Gebruik dit slegs in die aand: Retinol kan die vel sensitief maak vir sonlig, dus is dit die beste om dit slegs in jou aandroetine in te sluit. Dit sal jou vel die kans gee om deur die nag te herstel en die produk kans gee om diep in die vel te trek.

Wees geduldig: Dit kan ʼn paar weke tot maande neem voordat jy die volle voordele van retinol in jou vel begin sien. Moet nie moed opgee nie, aanhoudende gebruik is die sleutel tot sukses.

Vermy dit as jy swanger is: Swanger vroue, of vroue wat borsvoed, moet versigtig wees met die gebruik van retinol. Produkte of medikasie met hierdie bestanddeel kan lei tot ʼn toestand genaamd fetale retinoïedsindroom wat ernstige geboortedefekte veroorsaak. Raadpleeg ʼn dokter as jy enigsins oor jou velsorgroetine twyfel.

Bronne: Women’s Health, LaRoche Posey.com.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.