Doen-dit-self: Koffiebekerhouer van leer vir Vadersdag

(Foto: Verskaf)

Deur Cay Momberg

Vir dié projek het ek besluit om ’n ongebruikte leerbeursie te hergebruik en te omskep in ’n koffiebekerhouer sonder die gebruik van enige spesiale leergereedskap. Dit is immers Vadersdag en wat is nou beter as ’n handgemaakte geskenk vir Pa se geliefde koffiebeker?

Let wel, die projek fokus op herwinning en nie die maak van leerprodukte nie.

Benodighede:

  • Gebruikte leerartikel soos, byvoorbeeld, ’n ou leerbeursie
  • Houtbord of plank
  • Maatband
  • Liniaal
  • Pen
  • Skêr
  • Skoon A4-papier (indien jy eers die patroon op papier wil doen)
  • Byewas
  • Materiaalrollertjie om gaatjies mee te druk
  • Spyker
  • Emalje-koffiebeker (algemeen bekend as ’n blikbeker)

So maak mens:

1.Versamel al jou benodighede voordat jy begin. Wenk: Was jou hande ook deeglik met warm seepwater sodat die natuurlike olies van jou vel nie op die leer oorgedra word nie.

2.Indien jy leer hergebruik, sal die eerste stap wees om die leerbeursie te ontrafel om sodoende ’n plat stuk leer te verkry.

(Foto: Verskaf)

3.Stap twee sal wees om ’n patroon te ontwerp.

4.Neem die mate van die omtrek van die beker wat jy wil gebruik. In ons geval was dit ’n blikbeker. Meet die hoogte van die oor van bo en onder. Besluit op die wydte van jou leeromhulsel. Laat ekstra leer toe vir die oorvou.

5.Neem ’n pen en liniaal en trek die mates af op die leer. Indien jy eers ’n papierpatroon wil skep doen dit nou. Neem ’n skêr en sny die patroon uit die leer. Pas die patroon om die beker en sny kepe waar die handvatsel moet pas. Ek hou daarvan dat die boonste rand van die leer direk teen die bokant van beker pas.  Maak veranderinge indien nodig.

(Foto: Verskaf)

6.Omrede daar reeds stikwerkgaatjies in sommige dele van die leer was, het ek dit goedgedink om die hele omhulsel dieselfde stikpatroon te gee. Ek het die materiaalgaatjiedrukker geneem matige druk toegepas en reg rondom die omhulsel se kant gaatjies gedruk wat dit ’n stik-effek gee.

7.Ons gaan geen stikwerk met garing in die projek doen nie. Ons gaan die koffiebekerhouer met ’n tipe metaalklinknael vasheg.

8.Bepaal nou waar die gat vir die klinknael moet kom. Maak ’n gat deur die skêr se punt saggies deur die leer te druk. Steek nou die klinknael in die gat en heg dit vas.

9.Sny die kant waar die gat is wat oor die klinknael moet pas, se hoeke rond. Druk nou die klinknael van onder af deur die gat.

(Foto: Verskaf)

10.Nou gaan ons die leer poets: Steek ’n oorstokkie in water en maak die kante van die leeromhulsel nat. Neem ’n gewone Big-aansteker of enige harde plastiekoppervlak en vryf die leerkant vinnig heen en weer om wrying te veroorsaak. Dit sal die leer poets en ’n professionele effek gee. Indien jy dit nie doen nie, sal die leer uitgerafel lyk.

11.Herhaal hierdie stap tot al die kante van die leeromhulsel gepoets is. Neem ’n dun verfkwas en wend swart verf al op die randjie van die leeromhulsel.

12.Laastens, nadat die omhulsel heeltemal voltooi is, neem ’n sagte lappie en smeer die
omhulsel met byewas. Maar hou die omhulsel om die beker vas.

(Foto: Verskaf)

Dit is ‘n wonderlike geskenk vir die koffie- of teeliefhebber in jou lewe op Vadersdag!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.