Kry jou huis wintergereed

(Foto: Tekton/Unsplash.)

Met die winter op pad, die eerste sneeuval reeds agter die rug en die beperkings op sekere noodsaaklike hardewarewinkels en tuiskontrakteurs se bedrywighede opgehef, bied die oorblywende afsonderingstyd ʼn waardevolle geleentheid aan Suid-Afrikaners om hulle huise gereed te kry vir die winter. Dít terwyl hulle steeds eerstens daarop fokus om hulself en hul geliefdes teen Covid-19 te beskerm.

“Wanneer die koue die land in sy greep kry, sien ons ʼn beduidende toename in versekeringseise, wat mees algemeen verband hou met geisers, gebarste pype en brandskade,” sê Ricardo Coetzee, woordvoerder van Virseker.

“In baie gevalle kon dit vermy word deur proaktiewe inspeksies en goeie voorkomende onderhoud, dus – hoewel dit steeds noodsaaklik is om slegs winkels te besoek en kontak met kontrakteurs te hê wanneer dit absoluut nodig is – doen ons ʼn beroep op huiseienaars, huurders en bestuursagente om deeglike inspeksies te doen voordat die winter hier is.”

Virseker bied die volgende wenke vir wintervoorbereiding:

  • Geiser: Kyk uit vir tekens dat jou geiser besig is om in te gee. Geen warm water, water wat nie meer so warm is as voorheen nie, vuil water, lekplekke (wat gewoonlik wys as vlekke op die plafon of ʼn drukontladingsklep se pyp wat aanhou lek) en vreemde geluide is aanduidings dat iets skort. Wanneer dit moontlik is, laat jou geiser nagaan om seker te maak dat onderdele soos die element en termostaat werk, dat alle bedrading veilig is en dat daar geen lekplekke is nie. Dink daaraan om te belê in ʼn tydhouer en doelgemaakte, professioneel geïnstalleerde geiserkombers wat nie net elektrisiteit bespaar nie, maar ook kan help om ʼn gebarste geiser weens groot wisselings in temperatuur te voorkom. Dit is ook wys om ʼn druppan onder die geiser te installeer wat water sal opvang en wegvoer en waterskade sal beperk indien dit wel bars.
  • Pypslim: Blootgestelde pype kan maklik vries. Maak seker die temperatuur in jou huis is reëlmatig genoeg en pype is behoorlik geïnsuleer om dit te voorkom. Maak ook seker dat alle krake en lekplekke so gou moontlik herstel word.
  • Bobaas-bedrading: Kyk uit vir foutiewe bedrading op alle toestelle omdat dit ʼn skok- en brandgevaar inhou. Wees veral bedag op los muurpropverbindings en krakies waar koperdrade ontbloot is. Toets toestelle om seker te maak dat hulle reg werk.
  • Uitklinktoets: Die uitklinkskakelaars in jou huis is meestal die eerste lyn van verdediging wanneer iets in die elektriese stelsel foutief is. Gebruik die uitklinkskakelaar se toetsknoppie – gewoonlik naby die hoofskakelaar aangebring – om seker te maak dat dit nog werk.
  • Flink verhitting: Maak seker dat toestelle wat brandstof soos gas en paraffien gebruik in ʼn goeie werkende toestand is, dat hulle ver weg is van vlambare materiaal en dat die brandstof veilig weg van jou huis geberg word.
  • Geut: Verwyder alle dooie blare en gemors uit geute omdat hulle nie net ʼn dreineringsprobleem veroorsaak nie, maar ook ʼn groot brandgevaar inhou.
  • Raak ontslae van dooie gewig: Sny enige oorgroeide plante of dooie takke weg omdat hulle ook ʼn brandgevaar inhou en tot beserings kan lei.
  • Vat krake vas: Gaan alle ruite, vensters en strukture – veral ondersteuningstrukture vir dakke, balkonne en dekke – na vir krake. Wanneer vog in hierdie krake opbou en oornag vries, sit hulle uit en veroorsaak selfs nog meer skade.
  • Wees voorbereid op beurtkrag: ʼn Toename in die vraag na elektrisiteit in die winter kan lei tot ʼn groter moontlikheid van beurtkrag. Dit is ook die ideale tyd om seker te maak dat jou sekerheidsmaatreëls, basiese beligting- en verhittingstelsels, asook jou rugsteunkragstelsels gerat is daarvoor.

“Selfs met al hierdie punte nagegaan, is daar steeds ʼn kans dat die ongeluk jou mag tref. Maak altyd seker dat jy ʼn noodplan gereed het, die kontaknommers van nooddienste byderhand het en dat jy genoegsaam verseker is om ʼn ysige ramp te vermy,” sluit Coetzee af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Michael 1 ·

Nog n afrikaanse onderneming wat ek gaan ondersteun na lockdown verseker.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.