Isolasie en afsondering: Christene kan by vervolgde gelowiges leer

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Nega/Unsplash.)

Niemand verstaan isolasie beter as die vervolgde kerk en Christene in die Moslem-wêreld nie.

Dit is die mening van Jan Gouws, uitvoerende direkteur van Geopende Deure Suid-Afrika. Dié organisasie beywer hom om vervolgde Christene in talle lande wêreldwyd te ondersteun en te versterk.

“Te midde van die Covid-19-pandemie is talle lande nou in verskillende stadiums van afsondering. Kerke is leeg, wat betekend dat Christene in lande waar daar nie noodwendig vervolging plaasvind nie nou vir die eerste keer ervaar hoe dit voel om in isolasie te aanbid.

“Hierdie soort isolasie, asook vrees en onsekerheid, is baie van ons broers en susters se daaglikse realiteite in lande waar hulle vir hulle geloof vervolg word,” sê Gouws.

Hy meen egter Suid-Afrikaners kan dié gelowiges se moedige geloof te midde van ʼn storm as voorbeeld gebruik om ons eie geloof tydens die pandemie te versterk. “Die vervolgde kerk leer ons hoe om kerk by die huis te wees.”

Volgens Gouws is minstens 25 lande met gevalle van Covid-19 ook lande waarin Christene die ergste vervolg word.

“Die omstandighede nou maak die lewe nog moeiliker vir ons vervolgde familie, omdat hul inkomste en sekuriteit nog meer wisselvallig in hierdie tyd is. Dié Christene is nou erger geïsoleer en kry dikwels nie ondersteuning van hulle familie of gemeenskap in ʼn krisis nie omdat hulle onwelkome buitestanders is.

“Hulle leer ons egter steeds dat God goed is, ongeag van die buitengewone uitdagings wat ons soms ervaar.”

Gouws sê ondanks die negatiewe impak wat die Covid-19-krisis het, is daar ook steeds talle stories van hoop uit hierdie lande waar Christene nie welkom is nie.

Een so ʼn verhaal van hoop is dié van Tara*, ’n 28-jarige getroude vrou met twee kinders, en haar gesin was sonder enige inkomste of kos gelaat is nadat die inperking in Indië begin het.

“Sy en haar man, ’n voltydse pastoor, het Jesus ’n paar jaar gelede aangeneem. Hulle bedien tans ’n klein, arm kerk met slegs 15 tot 20 lidmate. Hul enigste inkomste is die kerk se dankoffers. Hulle was oorstelp van vreugde toe Geopende Deure genoeg kruideniersware vir ’n maand aan hulle oorhandig het,” sê Gouws.

Hy het ook vertel van Naomi*, ’n gelowige uit ’n Moslem-agtergrond in Indonesië, wat saam met haar man ’n kerkleier is. Hulle maak op die kerk vir hul lewensonderhoud staat. Die Covid-19-krisis het daartoe gelei dat hulle geen inkomste het nie.

“Hulle het besluit om die regering te help in ’n poging om die verspreiding van die virus te keer. Naomi het begin om handgemaakte gesigsmaskers vir mense te maak, wat sy gratis uitgedeel het. ’n Winkeleienaar het haar toe gevra om vir hom groot hoeveelhede gesigsmaskers teen betaling te maak. Nou verskaf sy gereeld maskers aan die winkel, en die inkomste help hulle om in dié situasie te oorleef,” sê hy.

Gouws het bygevoeg dat Geopende Deure ook beskermende kleredrag en toerusting aan Christelike verpleegsters verskaf in ’n Asiese land waar ’n Moslem-meerderheid heers.

“Christelike verpleegsters word in sekere lande geteiken om na Covid-19-pasiënte om te sien, aangesien die virus gevaarlik is en die Moslem-verpleegsters eerder nie self die risiko wil loop om by die pasiënte aan te steek nie. Die Christen-verpleegsters word dan in sommige gevalle ook nog die nodige beskermende klere geweier en hulle kan dit ook nie in die winkels kry nie. Ons kan weens sekuriteitsredes nie die naam van die land of die betrokke gesondheidswerkers noem nie.

“In talle Asiese lande moet ons in die geheim of deur vennote in die plaaslike kerk werk. Geopende Deure doen dit sodat ons Christelike gemeenskappe wat geïsoleer is kan bereik. Daar is tans 100 pakkies in ’n geheime ligging wat gereed is om versprei te word. Elke pakkie bevat genoeg kos en seep om ’n gesin vir minstens twee maande te help.”

Gouws doen ʼn beroep op lesers om aan te hou bid en mekaar te ondersteun, veral diegene wat die ergste vervolg word.

“Almal van ons kan bid, en gebed verenig ons. Dit is ongelooflik, maar die vervolgde kerk bid ook vir ons hier is Suid-Afrika. Ons is een liggaam, een kerk, een familie – en saam is ons sterker.”

Hy vra gelowiges om te bid dat mense teen die koronavirus beskerm sal word, en vir voedsel en hulpbronne vir diegene sonder ’n inkomste.

“Bid ook vir aanlyn programme wat deur Geopende Deure se vennote bedryf word om soekende mense te bereik en vir dissipelskap onder geheime gelowiges. Vra die Here dat geïsoleerde gelowiges in hierdie tyd van inperking sy liefde sal ervaar, en dat Hy hulle in hul geloof sal versterk,” voeg Gouws by.

  • Sluit vandag nog by Geopende Deure aan in gebed vir Christene se vervolgde familie gedurende die Covid-19-krisis en inperking. Besoek Opendoors.org.za vir meer inligting oor hoe om betrokke te raak en ’n verskil in hierdie mense se lewens te maak.
  • Jan Gouws het met Maroela Media oor Skype gesels oor die Covid-19-pandemie se impak op Christene in lande waar hulle geloof nie verwelkom word nie, of selfs vervolg word. Hy het ook verduidelik hoe Christene mekaar in hierdie onseker tyd in hul geloof kan ondersteun. Luister na die volledige onderhoud bo-aan hierdie berig.
  • *Skuilname is gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Petrus Johannes ·

Wat ek die meeste mis van die kerk,Die samekoms van gelowiges is die sing wat is lekkerder as n groep saamsing tot ons Heer

Oom Hennie Pennie ·

Aan die een kant was hierdie pandemie ‘n goeie ding sodat mense weer na God kan draai en Hom weer aanbid

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.