Gedagte vir die dag: Kyk op na die Here

uitgestrekte-hand_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Hiervan kan julle seker wees: Die Here het besondere genade aan die getroues bewys. Die Here sal antwoord wanneer ek tot Hom roep. (Psalm 4:4)

Dawid het God se hulp nodig gehad. Sy mense het teen hom gedraai en vir Absalom koning gemaak. Dit het skynbaar ’n streep deur God se beloftes getrek. Al het Dawid niks verkeerds gedoen nie, is alles van hom af weggeneem. Dawid het al sy frustrasies en vrae na God toe geneem: “Antwoord my wanneer ek roep, my regverdige God!” (Ps. 4:2).

Op daardie desperate oomblik in sy gebed is Dawid aan die waarheid herinner, die enigste waarheid waarvan hy seker kon wees: Die Here sou hom antwoord omdat hy aan die Here behoort. En saam met God se gerusstelling het ’n gevoel van kalmte gekom. Dawid was nie meer kwaad nie (4:5), maar hy het ’n dankoffer aan God gebring en Hom vertrou (4:6). Op die ou end het Dawid besef dat hy meer blydskap in sy swaarkry ervaar het as wat moontlik sou gewees het as sy omstandighede goed en voorspoedig was. Want Dawid het ontdek dat God se vrede beter is as enigiets anders (4:7-9).

Wanneer jy in omstandighede is wat jou in wanhoop dompel, wanneer jy niks anders kan doen nie as om na God te roep: “Antwoord my!” herinner jouself aan hierdie waarhede. Die Here het jou opsy gesit vir Hom en Hy sal jou antwoord. Laat staan jou woede en kies om dankbaar te wees. Vertrou dat God na sy doelwitte toe werk. Wanneer jy dit doen, sal jy God se vrede en oorvloedige blydskap ervaar, net soos Dawid.

Ek het die Here lief, want Hy antwoord my smeekgebed. Omdat Hy na my geluister het, sal ek Hom aanroep solank ek lewe. – Psalm 116:1-2

Bron: In die skadu van die Allerhoogste deur Nancy Taylor & Chris Johnsen
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.