ToekomsVenster: Jesus kom weer

(Foto: Tolga Ulkan/Unsplash)

Hulle het nie besef wat aan die gang was nie, totdat die sondvloed gekom en hulle almal weggesleur het. Net so sal dit gaan by die koms van die Seun van die mens. – Matteus 24:39

Die wederkoms is somtyds ver van ons gedagte af. Te midde van die stryd om elke dag sinvol te leef, selfs te oorleef, verloor ons hierdie belangrike waarheid.

Jesus kom weer.

In terme van wat God belowe het is daar slegs een saak uitstaande, die wederkoms. Die beloftes wat Hy in die ou bedeling gemaak het is in Christus Jesus vervul. Hy het die volle pad gestap en uiteindelik oor die dood en die hel triomfeer. Tans sit Hy aan die regterhand van sy Vader en soos ons bely “van waar Hy sal kom om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het”. Dié sinsnede laat my somtyds met ʼn gevoel van onrustigheid, dié waarheid dat daar nie alleen van redding sprake is nie, maar ook van oordeel.

Ongelukkig is dit ʼn realiteit. Nie almal het die uitnodiging aanvaar nie. Sommige mense het met hul lewenswyse en keuses die aanbod om gered te word, kru van die hand gewys.

Ander het iewers langs die pad handdoek ingegooi en nie weer terug gekeer nie. Die Bybel sê dit is asof hulle die Seun ʼn tweede maal kruisig.

Dan weer die woorde, maar “ons is nie van die wat verlore gaan nie”. In God se groot genade het Hy aan ons saligmakende geloof geskenk en kan ons uitroep, “Vader, my Vader”.

Die dag van Jesus se finale verskyning is onbekend. So vreemd soos dit is sê die Bybel dat selfs die Seun nie weet wanneer die dag is nie. Net die Vader weet. Interessant dat die Vader besluit het om hierdie stukkie inligting nie met die Seun of die Gees te deel nie, nog nie.

Daar kom ʼn dag dat die basuin sal weerklink en die dooies opgewek sal word en saam met die wat lewe die Seun van die mens in die lug tegemoet sal gaan. Metaforiese taal maar gestaaf deur die sekerheid van Jesus se terugkeer na die aarde.

Die eerste keer om te sterf, die tweede keer om te oordeel. Hulle wat glo word egter nie geoordeel nie. Die Seun het die oordeel gedra. Die merke in sy hande en sy is daarvan ʼn teken.

Jesus kom weer. Ongeag of mense soos in die tyd van Noag spottend heenwys na gelowiges.

Lees die volgende twee Skrifgedeeltes:

1 Korintiërs 11:26 – Elke keer as julle van hierdie brood eet en uit die beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.

Hebreërs 6:11 – Dit is ons vurige wens dat elkeen van julle end-uit dieselfde ywer as vroeër aan die dag sal lê totdat die dinge waarop julle hoop, vervul is.

“Totdat Hy kom. Totdat die dinge waarop julle hoop vervul is”.

Moenie nou moed opgee nie. Jesus kom weer. Wees gereed met olie in jou lamp dat die dag van sy terugkeer jou nie onvoorbereid vang nie. Jesus talm om te kom omdat Hy wil hê dat almal gered moet word, dat niemand verlore gaan nie.

Ja, in besondere sin het Hy nog nie teruggekeer nie omdat dalk jy nog nie in die kraal is nie. Dit kan te laat word. Daarom sê die Woord:

“Vandag as julle sy stem hoor

Verhard nie julle harte nie

Vandag is die dag van redding”.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.