ToekomsVenster: Voorbereiding

Vertroue

Foto: Reint Dykema.

Neh. 7:2 – Ek het Ganani, my ampsgenoot, en Gananja, die bevelhebber van die vesting, in bevel van Jerusalem geplaas. Gananja was ‘n betroubare man wat eerbied vir God gehad het, meer as baie ander.

Nehemia is aan die woord. Die geskiedenis rondom hierdie man van God is bekend. Nadat hy verneem het dat Juda in puin lê en dat die mense wat agtergebly het swaar kry, het hy toestemming by die koning van Persië gevra om die stad te gaan herbou.

God het vir hom ʼn funksionele strategie gegee en sy werk ten spyte van teenstand, geseën. Uiteindelik is die muur herstel en die stad herbou.

In hierdie hoofstuk vertel Nehemia van die mense wat teruggekom het uit Babel en weer hul intrek in en rondom Jerusalem geneem het. Die stad was steeds kwesbaar omdat die gebied uitgestrek was en min huise gebou was. Ganani en Gananja word aangestel as die verantwoordelike amptenare in Jerusalem. ʼn Mooi getuienis word van Ganaja gelewer.

Hy was betroubaar, het eerbied vir God gehad, selfs meer as ander.

Getuigskrifte is belangrike dokumente wanneer ʼn mens byvoorbeeld aansoek doen vir ʼn betrekking. Getuigskrifte verseker die potensiële werkgewer dat die beoogde indiensname nie op die lang duur meer gaan kos as die voordeel wat hy gehoop het om te kry nie. ʼn Nuwe werknemer word immers aangestel om werksaamhede uit te brei en is waarskynlik gemik op beter dienslewering en groter wins.

Ondernemings het geloofwaardigheid nodig in die samelewing as hulle in besigheid wil bly. Veral in ons tyd is kompetisie straf en lojaliteit min. Mense verruil die een verskaffer gemaklik vir ʼn ander. Jou personeel is dus van besondere belang.

Personeel is nie daar om jou onderneming skade te berokken nie, inteendeel. Gananja se getuigskrif kwalifiseer hom onteenseglik vir die posisie waarvoor hy aangestel word. Betroubaarheid is ʼn skaars kommoditeit en wanneer so iemand in jou diens is kan jy rustig slaap. Eerbied vir God dring Gananja om betroubaar te wees, sy betroubaarheid sê iets van sy gesindheid jeens God.

Hoe sou ʼn getuigskrif vir jou en my daaruitsien?

Kan ons gemaklik in enige posisie waarvoor ons die nodige aanvoeling en kwalifikasies het aangestel word, of gaan die onderneming, organisasie of besigheid op die lang duur jammer wees dat hulle ons ooit in diens geneem het?

Gebed:

Here maak my in alles betroubaar. Amen.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.