Heel laaste Boeing 747 maak buiging

(Foto: iStock)

Daar is die bekende Air Force One (of eerder twee identiese vliegtuie waarin Amerikaanse presidente sedert 1990 rondrits), James Bond het in verskeie rolprente daarin gevlieg en dit is groot genoeg om ʼn ruimtependeltuig van landingstrook na lanseerplek te vervoer.

Dis natuurlik die enigmatiese Boeing 747, koningin van die lugruim of “Jumbo Jet” soos dit onder van reisgeesdriftiges tot rykes bekend was. Ná 53 jaar en meer as 1 570 vliegtuie is die laaste Boeing 747 onlangs in die staat Washington voltooi, gereed om as ʼn vragvliegtuig diens te doen.

Dié werkesel met sy kenmerkende tweedeverdiepingbult, sal deur Atlas Air Worldwide Holdings (AAWW) vir die Switserse logistieke maatskappy Kuehne+Nagel bedryf word. Dit word tans by ʼn ander Boeing-fasiliteit geverf voordat dit vroeg volgende jaar aan Atlas gelewer sal word. Die vliegtuig kan 10 699 soliede goudstawe of sowat 19 miljoen tafeltennis- of gholfballe vervoer danksy sy vragvermoë van 133,1 ton.

Boeing het die eerste 747-passasiersvliegtuie in Desember 1969 aan TWA en Pan Am gelewer. Nie een van dié twee lugdienste vlieg vandag meer nie. Boeing se laaste passasiersweergawe van die 747 is in 2017 aan Korean Airlines gelewer.

Dié reusevliegtuig kon op sy dag tussen 400 en 500 passasiers vervoer – bykans dubbel die aantal wat deur Boeing se 787-8 Dreamliner vervoer kan word. Die vragvliegtuigweergawe van die 747-400 is in staat om 30 ton vrag, of 625 stukke bagasie asook 20 ton se vrag, binne 15 minute op en af te laai.

Boeing het reeds ʼn geruime tyd gelede laat blyk dat die dors 747 met sy vier enjins se swanesang voor die deur is, selfs in vragvliegtuigvorm, omdat lugdienste die meer brandstofdoeltreffende 777 verkies óf bestaande 747-passasiersvliegtuie in vragvliegtuie begin omskep het. Airbus het boonop die mark in 2019 met sy eie Jumbo Jet-weergawe, die A380, stormgeloop.

Hoewel daar vandag nog net sowat 44 van die 747-passasiersvliegtuie in diens is, waarvan 25 met die Lufthansa-handelsmerk spog, kan bykans 315 000 vragvliegtuie nog in die lugruim gesien word. Sowat 130 van die 747’s het voor die uitbreek van die Covid-19-pandemie nog passasiers rondgevlieg, maar ná die opskorting van vlugte in die wêreldwye grendeltyd het baie lugdienste net nooit weer hul 747’s in diens gestel nie of dit in vragvliegtuie omskep, berig CNN.

Boeing in syfers

  • ʼn 747-400 het ses miljoen onderdele, 274 km se bedrading en 8 km se buise of omhulsels.
  • Dié vliegtuig bestaan uit 66 150 kg se hoësterkte-aluminium, 16 hooflandingsbande en twee neuslandingsbande.
  • Die stert staan 19,4 m hoog, of gelykstaande aan ʼn sesverdiepinggebou, terwyl die vlerk meer as 43 000 kg weeg.
  • Altesaam 75 000 ingenieurstekeninge is gebruik om die eerste 747 te vervaardig en dié vliegtuig het meer as 15 000 uur se toetse in ʼn windtonnel ondergaan.
  • Voordat die 747 in Desember 1969 vir kommersiële vlugte goedgekeur is, het vyf vliegtuie oor ʼn tydperk van tien maande sowat 1 500 uur se toetsvlugte onderneem.
  • Die eerste 747-weergawes het bykans 1 000 ligte, skakelaars en meters in gehad. Dit is oor die jare tot net meer as 360 verminder.
  • Die fabriek waar die Boeing 747 reeds vir jare gebou word, is in Everett in Washington in die VSA en 2 miljoen kubieke voet (of 56 633,69 m³) groot. Dit maak dit, aldus Boeing, die grootste gebou ter wêreld in terme van volume. Altesaam 50 000 mense het in ʼn stadium in dié gebou, kompleet met sy eie poskode, gewerk.
  • Die 747-vloot het bykans 80 miljard km afgelê, of meer as 100 000 reise tussen die maan en die aarde voltooi, en bykans die helfte van die wêreld se bevolking (3,5 miljard mense) vervoer.
  • Die 747-400 het ʼn brandstofdrakrag van 240 000 liter, wat dit moontlik maak om baie lang roetes af te lê, soos van Los Angeles in die VSA na Melbourne in Australië.
  • Die 747 se binneruim is ook alombekend. Benewens die feit dat die sitplekke binne agt uur herrangskik kan word, is die 747-400 se kajuit so groot soos minstens drie huise van 135 m2

(Foto: iStock)

  • Kyk hier hoe die heel laaste Boeing 747 uit dié vliegtuigreus se aanleg in die VSA getrek word.

Bykomende bronne: CNN, Business Insider, Boeing-747, Bloomberg en Interesting Engineering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.