Jan Alleman kan nou verifikasie vir Instagram koop

(Foto: Alexabder Shatiov/Pexels)

Die kenmerkende blou Instagram-verifikasie-‘regmerkie’, wat nog altyd ’n gesogte sosialemedia-statussimbool was wat net vir bekendes en beïnvloeders beskore was, is sedert Februarie vanjaar klaarblyklik vir Jan Alleman teen ʼn fooitjie beskikbaargestel.

Magriet Groenewald, ʼn plaaslike sosialemediabemarkingspesialis, het al verskeie plaaslike bekende kliënte gehelp om dié einste regmerkie langs hul naam te kry. Sy het ondersoek ingestel om te sien of dié kopie die moeite werd is.

Die Instagram-verifikasie-proses was volgens Magriet eens ʼn groot kopseer en is slegs aan diegene wat deur Instagram as “nuuswaardig” beskou is, op grond van kriteria wat dikwels onduidelik was, toegeken.

“Ek het ’n paar plaaslike bekendes gehelp om hul rekeninge geverifieer te kry en het eerstehands ervaar hoe moeilik dit was. Een van my kliënte se rekeninge is selfs afgekeur, ten spyte daarvan dat dit 200 000 volgelinge gehad het en dat die persoon ’n geliefde Suid-Afrikaanse persoonlikheid is,” verduidelik sy.

Tog was die proses volgens haar op die ou einde die moeite werd danksy die eksklusiwiteit wat aan ’n geverifieerde rekening gekoppel was.

Die bekendstelling van Mark Zuckerberg, baas van Meta wat ook Facebook besit, se “Meta Verified” het dinge egter verander met ʼn nuwe intekenpakket wat ’n verifikasie-wapen ingesluit het.

Die hoofdoel van die verifikasie, volgens Meta, is om inhoudskeppers te help om hul profiele en gemeenskappe te laat groei, terwyl dit ook die toenemende probleem van skelmstreke en robotte op Instagram aanspreek.

Magriet Groenewald. (Foto: Verskaf)

Dié diens is tans slegs vir individue en nie handelsmerke beskikbaar nie, maar uitbreidings en veranderinge word verwag namate die funksie getoets word.

Om deur Meta Verified geverifieer te word, vereis identiteitsdokumentverifikasie, waar die naam op jou identiteitsdokument met jou Instagram-rekeningnaam moet ooreenstem. ’n Kop-en-skouers-foto, wat ook met jou ID-foto ooreenstem, is ook nodig – ʼn proses wat Magriet bieg ook effens frustrerend is wanneer jou gekose profielfoto nie aanvanklik die verifikasieproses slaag nie.

Die grootste en byna enigste nadeel volgens haar is die maandelikse fooi van R239,99 (ongeveer $13 tot $15) wat jy moet betaal.

“Die nuwe betaalde verifikasiefunksie verander die hele scenario. Dit is fantasties vir iemand soos ek, wat fokus op die deel van waardevolle inhoud en die bou van ’n persoonlike handelsmerk. Dit mag egter nie ’n belonende belegging wees as jy Instagram slegs gebruik om foto’s van jou hond of aandete te plaas nie.”

Sy simpatiseer ook met individue en beïnvloeders wat self moes werk om die blou regmerkie te verdien, en meen die regverdigheid van die aankoopproses is een van die vele kreukels wat Meta Verified egter nog sal moet uitstryk.

Volgens Groenewald hou dié diens die volgende voordele in:

  • Betroubaarheid: Die geverifieerde wapen maak jou profiel meer geloofwaardig, wat noodsaaklik is wanneer jy ’n persoonlike handelsmerk bou.
  • Rekeningbeskerming: Instagram belowe om te monitor dat jou rekening nie gedupliseer word nie, wat ’n ekstra vorm van sekuriteit bied.
  • Identifisering van skelmstreke: Die blou regmerk help gebruikers om te onderskei tussen egte en vals rekeninge, alhoewel dit steeds nodig is om versigtig te wees.
  • Kliëntediens: Hoewel daar beweer word dat jy prioriteitsdiens sal ontvang, meen Groenewald dat jy nie te veel moet verwag nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.