Panoramiese foto gee nuwe blik op Mars

‘n Skermgreep uit die video.

Vir langer as wat die meeste van ons kan onthou, is Mars die planeet waaroor almal praat, droom en films maak. Maar tot onlangs het niemand regtig geweet hoe die Mars-oppervlakte lyk nie. In 1976 is die eerste foto van Mars se oppervlakte geneem deur die Viking Lander 1. Nou, slegs 44 jaar later, kan ons ʼn deel van Mars sien soos wat niemand in die geskiedenis dit nog gesien het nie.

Dié panoramiese fotobeeld, geskep uit meer as 1 000 foto’s, is geneem tussen 24 November en 1 Desember 2019. Die beeld bestaan uit sowat 1,8 miljard pixels wat die grootste en mees gedetailleerde beeld van Mars se oppervlak nóg maak. Wat dié fotosamestelling so spesiaal maak, is die hoeveelheid inligting wat daaruit gekry kan word om sodoende die Mars-oppervlakte beter te kan verstaan.

“Dit is die grootste, hoogste resolusie-panoramafoto wat die Curiosity-verkenner al ooit geneem het,” sê dr. Ashwin Vasavada van die Amerikaanse Nasionale Lugvaart- en Ruimteadministrasie (Nasa).

Die foto is geneem vanaf die sykant van Mount Sharp en wys ʼn ongelooflike uitsig oor Glen Torridon wat tans deur die Rover Curiosity verken word. Hierdie gebied was biljoene jare terug bedek met damme en strome.

Op die foto kan die bekende Slangpos-krater gesien word. Dié impakkrater, wat ongeveer 4,8 km wyd is, moes miljoene jare terug deur ʼn baie groot impak veroorsaak geword het.

Dit is ongelooflik dat ons nou in 2020 die voorreg het om ʼn ander planeet in soveel detail te kan bestudeer, en vir die eerste keer te kan sien presies hoe Mars se geografiese landskap lyk, en sodoende die geskiedenis van dié planeet te ontrafel.

Die US$2,5 miljard-Curiosity Rover is een van 39 uittogte na Mars waarvan slegs 16 suksesvol was. Curiosity ondersoek Mars sedert 2012. Curiosity het in 2019 bevind dat suurstof op ʼn buitengewone manier optree in die Mars-atmosfeer en ook dat daar baie hoë vlakke van metaan in die atmosfeer is.

Kyk die video hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

SJME ·

Hoe groot is die werke van onse almagtige Skepper! Ons het maar geen benul van Sy verstommende almag nie. Sonder einde!

zettie ·

As ‘n krater op Mars 4.8 km wyd is hoe groot is die kraters dan op die maan. Ek het nog nie so ‘n mooi foto van die maan gesien nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.