Sien só om na jou digitale welstand

(Foto: Unsplas/Thomas Park)

Vandag is Internasionale Digitalewelstandsdag. Die doel van die dag is om wêreldwyd bewusmaking te skep oor jou geestelike, fisieke en emosionele gesondheid én veiligheid wanneer digitale toestelle gebruik word.

Die Johannesburgse Technolife Wise Foundation help mense om ʼn beter balans te vind tussen die regte, driedimensionele lewe en die tweedimensionele lewe van ʼn skerm.

“Ons word geskep as wonderlike mense met verskeie dimensies en gevoelens. ʼn Wanbalans in hoe, hoekom en wanneer ons tegnologie gebruik, kan die menswees nadelig beïnvloed,” sê dr. Marlena Kruger, stigter van Technolife Wise Foundation.

Kruger sê een manier hoe die oormatige gebruik van tegnologie ʼn negatiewe uitwerking op die menswees kan hê, is wanneer ouers digitale skerms gebruik om na hul kinders om te sien.

“Terwyl hierdie jong lyfies en ogies na skerms kyk, kan simptome van AGHS (Engels: ADHD), digitaleskerm-en-funksionaliteit-steurnissindroom, outisme en ander neurologiese toestande getoon word.”

Kinders wat te veel deur digitale toestelle gestimuleer word, kan aan hiperstimulering, voortgesette toestande van spanning en slapeloosheid ly.

Drs. Victoria Dunckley en Robert Melillo verduidelik dat talle kinders wat vasgenael voor skerms sit baie frustrasie ervaar omdat hul brein en liggaam nog te jonk is, en daarom nog nie meganismes vir selfregulering in situasies van hiperstimulering ontwikkel het nie.

“Al die stories en videospeletjies, en selfs van die wonderlikste opvoedkundige speletjies, ooraktiveer kinders se beloningstelsel en beskadig die normale werking van al hul natuurlike hormoonstelsels en die afskeiding van neuro-oordragstowwe.”

Hier is ʼn paar praktiese maniere om jou en jou kind se digitale welstand op te skerp:

Begin die dag sonder digitale skerms

Baie volwassenes gryp eerste ding in die oggend na hul selfoon, onder meer om die nuus te lees, hul e-pos na te gaan of om op sosiale media te kuier. Maar dit is nie gesonde gewoontes vir jou digitale welstand nie.

Probeer om jou eerste en laaste uur van die dag sonder digitale toestelle klaar te kom.

Vermy afleiding

Wees bewustelik wanneer jy jou digitale toestelle hanteer. Fokus op die skerm wanneer jy daarmee besig is, maar maak ook seker jy haal jou fokus daarvan af wanneer jy jou foon wegsit.

Dit is ook belangrik vir kinders: Wanneer jou kind ʼn storie kyk, sorg dat dit die enigste ding is wat hy of sy doen. Moenie tussenin peuselhappies gee nie en moenie die televisie aanskakel wanneer jou kinders eintlik besig is met ʼn ander aktiwiteit nie.

Neem gereelde breuke

Dit is uiters belangrik om gereeld breuke te neem – dit keer nie net dat ure voor die rekenaar verbyvlieg nie, maar dit is ook beter vir jou geestesgesondheid en jou oë.

Probeer om vyf minute elke uur jou oë van die skerm af te haal. Kyk bloot weg of gaan stap ʼn draai. Dit sal wondere verrig vir jou digitale welstand. Maak ook seker jou kinders neem breuke tussen skermtyd en dat hulle nie heeldag lank daardeur gestimuleer word nie.

Stel grense

Daar is wonderlike apps soos Freedom, ScreenTime en ZenScreen wat ʼn mens kan help om jou en jou kinders se skermtyd te beperk. Daarop kan jy daaglikse beperkings stel en meer bewus wees van hoeveel tyd jy werklik op jou skerms deurbring.

Sit dit heeltemal af

Van tyd tot tyd is dit belangrik om jou digitale toestelle heeltemal af te skakel. Besluit op ʼn dag of ʼn paar uur wanneer jy weet niemand gaan jou nodig kry nie. Skakel jou toestelle af en bring die tyd saam met vriende, familie, troeteldiere of in jou tuin deur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.