Help ’n dier deur jou ma te bederf

Een van die gelukkige vierpote wat deur die Mdzananda Dierekliniek gehelp is. (Foto: Mdzananda Dierekliniek/Facebook)

Die Mdzananda Dierekliniek in Khayelitsha wil Moedersdag vanjaar gebruik om die aantal ongewenste werpsels van honde en katte wat sonder eienaars gebore word te verminder.

Daarom het hulle besluit om ʼn inisiatief van stapel te stuur wat beteken dat jy vir jou ma ʼn pasgemaakte e-kaart kan koop en sodoende ook die sterilisering van een hond of kat borg.

Die Mdzananda Dierekliniek is in 1996 gestig en vandag help die kliniek soveel as 1 000 diere per maand deur konsultasies, algemene en gespesialiseerde chirurgie en hospitalisering van siek en beseerde diere.

“Sterilisering is van uiterste belang in ʼn gemeenskap waar daar byna 300 000 troeteldiere is. Navorsing toon dat ’n ongesteriliseerde troeteldier en sy nageslag meer as 60 000 kleintjies in ses jaar kan produseer,” sê Marcelle du Plessis, fondsinsameling- en kommunikasiebestuur by dié kliniek.

Een e-kaart kos R350 en die kliniek hoop om nagenoeg 100 troeteldiere te steriliseer deur die geld wat ingesamel word.

Die kliniek help soveel as 1 000 diere per maand. (Foto: Mdzananda Dierekliniek/Facebook)

“Moedersdag gaan daaroor om die harde werk wat ma’s doen te gedenk, maar dié dag het ’n uiters gekommersialiseerde gebeurtenis geword. Winkels bestee groot bedrae geld aan die bevordering van geskenkidees en kopers bestee honderde rande aan goed soos sjokolade en blomme. Vanjaar kan mense egter hul moeders eer én ʼn verskil maak deur ons e-kaarte te koop,” voeg Du Plessis by.

Indien jy ʼn pasgemaakte e-kaart wil koop, maak ʼn skening van R350 aan die Mdzananda Dierekliniek en stuur die bewys van betaling na [email protected] saam met jou ma se naam en e-posadres, jou naam en ʼn kort boodskap indien jy een wil insluit. Die e-kaart sal dan op Moedersdag aan jou ma gestuur word. Bestellings sluit op 7 Mei om 17:00.

Besoek die Mdzananda Dierekliniek-webwerf of Facebook-blad vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pietertjie ·

Die opskrif klink nogal dubbelsinnig. My ma was ‘n dierbare mens!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.