Topontwerper deel wenke vir deftige mansdrag

Yihan Lourens-Brönn, ʼn top- Suid-Afrikaanse modeontwerper. (Foto: Verskaf)

Matriekafskeidseisoen is in volle swang, jaareindfunksie-uitnodigings word binnekort uitgestuur en troues bly ʼn nimmereindigende sosiale verpligting.

Namate mansklere al hoe meer veelsydig en modereëls meer buigbaar word, is dit te verstane dat party manne kopkrap wanneer dit by meer formele kleredrag kom.

Yihan Lourens-Brönn, ʼn top- Suid-Afrikaanse modeontwerper met meer as 37 jaar se ervaring en kundigheid in dié bedryf, sê dat mans egter nie meer vandag moet bang wees om te eksperimenteer wanneer hulle hul netjiese voetjie voorsit nie.

Bekendes soos Willem Botha, Jak De Priester, Jannie Moolman, Rina Hugo, Carike Keuzenkamp, Bobby van Jaarsveld, Elvis Blue, Robbie Kruse en vele meer het al in sy spoggerige ontwerpe gepronk, en volgens Yihan is die dae waar mans net soos ʼn metgesel hoef aan te trek, heeltemal verby.

“Ongelukkig het ons samelewing begin wegbeweeg van deftig aantrek vir geleenthede, maar die moderne man wil nog steeds uitstaan. ʼn Mens kry so min uitnodigings wat vra om formeel of deftig aan te trek, so gryp daai kans met al twee hande, wys jou persoonlikheid en staan uit.”

Waar begin ʼn mens?

(Foto: Chloe/Pexels)

“Eerste ding: semi-formeel is nie denim en tekkies of ʼn chino-broek en blokkieshemp nie. Dit is ʼn pak of bypassende baadjie en broek. Formeel is normaalweg ʼn swart aandpak,” benadruk Yihan.

“Die basiese beginpunt is dat jou belt en skoene dieselfde kleur moet wees. As jou broek nie korter pype by die enkels het nie, moet jou kouse dieselfde kleur as jou broek of skoene wees.”

Diegene wat verkies om ʼn uitsonderlike blink of gekleurde skoen te dra vir ʼn bietjie “drama” se belt kan eerder by hul broek pas om alles te balanseer, sê Yihan.

(Foto: Tima Miroschnichenko/Pexels)

Elke man benodig volgens hom ʼn donkerblou denim wat goed pas, sonder skeure en wat ook nie uitgewas lyk nie, asook ʼn spierwit en ʼn swart formele langmouhemp, swart baadjie en formele broek.

ʼn Paar swart én bruin formele skoene en bypassende belde is ook noodsaaklik en genoeg om te meng en pas soos nodig.

Wat pas beter by wie?

(Foto: Kevin Yang/Unsplash)

Donker kleure is verseker ʼn beter opsie vir groter liggaamstipes verduidelik Yihan.

“Bly ook weg van patrone en dwars strepe. ʼn Mens kan eerder speel met diagonale lyne in kleure asook vertikale strepe.”

“Die belangrikste is om gemaklik in jou eie vel te wees en nie net by jou metgesel te wil pas nie,” beklemtoon hy.

Hoewel dit belangrik is om te lyk asof julle as paartjie dieselfde uitnodiging gekry het, is dit volgens Yihan nie nodig om presies bypassende uitrustings te dra nie.

“Jy hoef nie noodwendig dieselfde kleur das, onderbaadjie of hemp te dra as sy of haar uitrusting nie. Maak ʼn mooi prentjie saam sonder om soos ʼn tweeling te lyk.”

Wat is nou in die mode?

(Foto: Cottonbro Studio/Pexels)

Pakke met ʼn nousluitende broek en baadjie wat goed pas, is volgens Yihan tans in die mode.

So ook baadjies met blompatrone, sterk effe kleure, metaalkleure of fluweeluitrustings.

“Pakke met ritssluiters en ontwerpe wat uitstaan met byvoorbeeld baie lyne is definitief meer in die mode as net ʼn gewone kantoorpak.”

Hoe gemaak as ʼn mens ʼn bietjie wil waag?

(Foto: Cottonbro Studio/Pexels)

“Mans wil ook uitstaan en hulle persoonlikhede wys, en het meer modieuse waagmoed as destyds. Baie mans en seuns wil ook die vryheid hê om uit te staan en modebewus te wees, somtyds selfs meer as dames,” meen Yihan.

Hy stel voor dat diegene wat hul uitrusting wil opkikker details op hul skouers skep met items, soos diamanté-borsspelde, wat maklik op ʼn gewone pak vasgewerk en later weer afgehaal kan word.

“ʼn Interessante skoen of hemp verander ook ʼn uitrusting van iets baie algemeen tot iets wat die oog dadelik gaan vang. Google is ook op almal se vingerpunte as jy enigsins inspirasie nodig het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.