Tydlose items dié winter weer hoogmode

Lizel van der Westhuizen, eienaar van Full Circle Image Consulting. (Foto: Verskaf)

Terwyl temperature reg oor die land geleidelik begin daal, is dit die ideale tyd om jou klerekas te verfris met die jongste neigings in wintermode.

Lizel van der Westhuizen, eienaar van Full Circle Image Consulting en modestilis op kykNET se mooimaakprogram Glam Guru, verduidelik watter modeneigings daar hierdie seisoen op die winkelrakke te sien gaan wees, en sy deel ook wenke om dit op die regte wyse te stileer.

Soldatejas (trench coat)

“Soldatejasse, met hul tydlose aantrekkingskrag en klassieke silhoeët, het dekades lank die toets van modeneigings deurstaan,” verduidelik Lizel.

“Eens sinoniem met gesofistikeerdheid en elegansie, het hierdie jas ʼn afname in gewildheid ervaar in onlangse jare, maar mode werk mos in siklusse, en in 2024 het die herlewing van die soldatejas as ʼn moet-hê-item in elke klerekas geraak.”

Soldatejasse word dalk aan klassieke, aardse kleure en elegante snitte geken, maar volgens Lizel is dit vanjaar nie noodwendig die geval nie.

“In 2024 is dié jas ʼn simbool van individualiteit en self uitdrukking. Ontwerpers inkorporeer soldatejasse in hulle versamelings deur innoverende ontwerpe wat die klassieke styl met nuwe modeneigings vermeng.”

Van klassieke beige jasse tot gewaagde patrone en teksture, volgens Lizel is daar ʼn soldatejas vir álmal hierdie seisoen.

Hoe om dit te stileer

“Danksy dié jas se veelsydigheid en sorglose, sjiek voorkoms, kan dit enige uitrusting nuwe lewe gee,  of jy nou kantoor toe gaan of ontbyt saam met vriendinne geniet. Vir ʼn gemaklike dagvoorkoms, dra jou jas met ʼn denimbroek en ʼn basiese T-hemp vir ʼn klassieke voorkoms,” verduidelik Lizel.

Vir die aand stel sy ʼn swart rok saam met stewels en elegante juwele voor om jou jas te komplementeer.

“Eksperimenteer met verskillende style, lengtes en kleure om die perfekte soldatejas te vind wat jou persoonlike styl komplementeer.”

Mary Jane-skoene

“Een van die redes waarom Mary Jane-skoene deur die jare gewild gebly het, is hulle veelsydigheid. Hierdie skoene kan met ʼn wye reeks uitrustings gedra word, van gemaklik tot elegant. Hulle tydlose ontwerp maak dit ʼn goeie keuse vir volwassenes én kinders.”

Hoe om dit te stileer

Vir ʼn gemaklike, alledaagse voorkoms stel Lizel voor dat jy ʼn denimbroek, ʼn gemaklike top en jou gunstelingkleur kouse saam met jou Mary Janes dra vir ʼn sorglose, stylvolle uitrusting.

ʼn Miniromp, trui en sykouse sal jou Mary Janes ʼn meer vroulike, stylvolle voorkoms gee.

Wat gaan jy nog alles dié winter in die winkels sien?

(Foto: Unsplash/Tim Schmidbauer)

Hier is Lizel se lys van modeneigings vir ʼn 2024-winterkas wat netjies pas:

  • Nagemaakte leerbaadjies en leerbroeke
  • Oorgroot, lang jasse
  • Bonkige truie in helder kleure
  • Metaalkleure, spesifiek goud en brons
  • Oorgroot Cargo-broeke
  • Baadjies en truie met “ingeboude” serpe
  • Kleure soos kersierooi, grys en verskeie skakerings van blou en bruin
  • Denim veral in grys of uitgewaste, swart skakerings
  • Oorgroot haarstrikke
  • Pofferbaadjies meer bonkig en kleurvol as in vorige jare

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.