Verbruikersake: Wat gebeur met jou huis wanneer jy sterf?

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Het jy al gewonder wie jou huis sal besit en na jou dood daarin sal woon? Dit is ʼn belangrike vraag om te oorweeg en moet in jou testament beantwoord word. As jy jou huis besit, is dit belangrik om te weet wat daarmee gaan gebeur wanneer jy sterf, veral as jy nie ʼn testament het nie. Ina Opperman het gaan hoor wat ʼn kenner hieroor sê.

Dit is ook belangrik om in gedagte te hou of jy getroud is en as jy is, of dit binne of buite gemeenskap van goedere is, hoe oud jou kinders is, of jy die bank nog geld skuld vir jou huis en of jou boedel die koste kan dra.

Dit is nogal ʼn mondvol, maar ʼn bietjie noukeurige boedelbeplanning sal jou help om slaggate te vermy en ʼn maklike oordrag van die eiendom aan die beoogde nuwe eienaar te verseker en seker te maak jou wense word uitgevoer, sê Carl Coetzee, gesamentlike besturende direkteur van Capital Legacy.

“Huiseienaarskap kan ʼn goeie manier wees om jou finansiële toekoms te verseker en ʼn waardevolle bate vir jou geliefdes na te laat. As jy egter nie jou eiendom in jou testament insluit nie, of dit nie deurdag en met sorg doen nie, kan dit jou erfgename se sak nadelig raak en selfs in sommige omstandighede veroorsaak dat hulle die eiendom verloor.

Coetzee sê daar is vyf belangrike vrae om te beantwoord wanneer jy dink aan wat met jou huis gebeur as jy sterf:

Het jy ʼn testament?

As jy jou huis besit, maar nie ʼn testament het nie, moet dit jou eerste stap wees. “Om ʼn basiese testament op te stel is vinniger, makliker en eenvoudiger as wat jy dink. Dit maak saak, want as jy sonder ʼn testament sterf, sal jou boedel verdeel word volgens ʼn formule wat deur die wet bepaal word (intestate erfopvolging) en jy sal geen seggenskap daarin hê nie.”

Hoe is julle getroud?

As jy getroud is, kan hoe jy getroud is jou regte beïnvloed om te besluit wat om met jou eiendom te doen. Daar is meestal twee soorte huwelike wat in hierdie konteks oorweeg moet word:

  • As jy binne gemeenskap van goedere getroud is, besit jou gade die helfte van die eiendom, selfs al laat jy dit na aan iemand anders, soos jou kind.
  • As jy buite gemeenskap van goedere getroud is met die aanwasbedeling, onthou dat jou gade ʼn eis teen jou boedel kan hê vir hulle deel van die aanwasbedeling. “As dit ʼn wesenlike eis is, kan dit nodig wees om die eiendom te verkoop. Dit kan sake meer ingewikkeld maak om af te handel en kan tot onbedoelde uitkomste lei,” waarsku Coetzee.

Hoe oud is jou kinders?

Ingevolge die Suid-Afrikaanse reg kan kinders onder die ouderdom van 18 (minderjariges) nie direk erf sonder die hulp van hul wettige voog nie. Om ʼn geldige testament te hê wat voorsiening maak vir ʼn testamentêre trust indien jou kinders nog minderjariges is, beteken dat die trustees dan verantwoordelik sal wees vir die eiendom. Dit word algemeen beskou as ʼn meer wenslike metode om eiendom aan kinders na te laat.

Coetzee sê as daar nie ʼn testamentêre trust is nie, sal jou minderjarige kind se wettige voog vir die eiendom verantwoordelik wees. As jou eks byvoorbeeld die voog is en julle twee in ʼn slegte egskeiding betrokke was, kan dit maklik daartoe lei dat jou wense nie uitgevoer word nie, of dat jou kind se beste belange nie boaan die lys van oorwegings is nie. “Dit is nog ʼn rede om te verseker dat jou testament voorsiening maak vir ʼn testamentêre trust.”

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Towfiqu Barbhuiya / Unsplash)

Skuld jy die bank nog geld vir die eiendom?

Ideaal gesproke wil jy hê dat jou eiendom sonder ʼn verband aan ʼn nuwe eienaar oorgedra moet word, wat beteken dat jy niks daarop skuld nie. “As daar ʼn huislening op jou eiendom is, maak seker jy het voldoende dekking om voorsiening te maak vir jou uitstaande verband-terugbetalings, sou jy sterf. Die eksekuteur van jou boedel sal dan hierdie dekking gebruik om jou totale uitstaande huisleningsbedrag te vereffen voordat die eiendom aan jou beoogde erfgenaam oorgedra word,” verduidelik Coetzee.

As daar ʼn huislening op die eiendom is en geen dekking in plek is nie, kan jou erfgenaam besluit om die lening oor te neem in plaas daarvan om die eksekuteur toe te laat om die eiendom te verkoop.

Dit kan egter ʼn bietjie tyd neem, aangesien hulle aan die bank se kwalifiserende kriteria vir ʼn huislening moet voldoen.

Kan jou boedel die koste dek?

Die inkomstediens vereis nie die betaling van hereregte wanneer ʼn eiendom by wyse van erfenis aan ʼn nuwe eienaar oorgedra word nie, maar Coetzee waarsku dit beteken nie dat daar geen ander kostes betrokke is nie.

“Jou boedel sal steeds aanspreeklik wees vir aktekoste, aktekantoorfooie en munisipale tariefklaringsertifikate. Indien die eiendom deel is van ʼn deeltitelskema, sal jy ook ʼn heffingsklaringsertifikaat benodig, wat gewoonlik deur die besturende agente verskaf word. ʼn Elektrisiteitsvoldoeningsertifikaat en ʼn entomoloog se sertifikaat (wat handel oor houtboorders en termiete) vorm nie deel van ʼn bestorwe boedeleiendomsoordrag nie.”

Sonder die vereiste dokumente sal die oordrag nie voltooi word nie en daarom is dit belangrik om te verseker dat daar voldoende fondse in jou boedel beskikbaar is om die nodige sertifikate te bekom en vertragings te vermy, sê Coetzee.

Wat om nie te doen nie

Coetzee sê as jy jou huis aan jou geliefdes wil nalaat, onthou:

  • Moenie die adres van die eiendom in jou testament gebruik nie. Jy kan byvoorbeeld bloot na jou ‘residensiële eiendom’ verwys wanneer jou testament opgestel word. Dan maak dit nie saak of jy dalk getrek het en vergeet het om jou testament op te dateer om die nuwe adres te weerspieël nie. Dit sal ook keer dat die erflating nie ingesluit word in jou testament as dit verkoop word nie.
  • Moenie nalaat om jou planne en wense met jou geliefdes te bespreek nie. Hierdie gesprekke kan moeilik wees, maar dit is belangrik en moenie onbepaald uitgestel word nie. As jy jou wense met die betrokkenes deel terwyl jy nog leef, kan dit hul las verlig in ʼn tyd van hartseer en verlies.

“Om te besluit wat om met jou huis te doen, maak op verskeie vlakke saak: finansieel, logisties en emosioneel. Daarom moet jy mooi nadink oor wat jy daarmee wil doen en seker maak jy dateer jou testament gereeld op om jou jongste omstandighede te weerspieël,” sê Coetzee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.