Ongeveer 10 000 mense is Donderdag in Hongarye ontruim nadat ʼn Tweede Wêreldoorlog-bom langs ʼn kleuterskool in Szekesfehervar opgespoor is.
Die 100kg-Sowjetbom is naby ʼn sandput in die kleuterskool, sowat 65km buite Budapest, opgespoor. “Die bom het 25kg springstof bevat,” het Norbert Dancs, woordvoerder van die polisie in Szekesfehervar, gesê. “Dit is seldsaam om só ʼn groot bom in ʼn beboude gebied in Hongarye op te spoor.”
Stede en dorpe regoor Hongarye is tydens die finale maande van die oorlog deur Amerika, Brittanje en Sowjet-magte aangeval. Talle toestelle, wat nie ontplof het nie, is steeds begrawe en word gereeld ontdek wanneer konstruksiewerk gedoen word. Sedert 2008 het 14 ontruimings al in die hoofstad plaasgevind.
Die polisie het Woensdag ook sowat 1 500 mense in Budapest ontruim nadat ʼn bom tydens bouwerk by ʼn woonstelblok naby Buda Castle ontdek is.
Tot dusver is al die bomme beveilig sonder enige skade of beserings.