13-jaaroue moord: Polisie op soek na forensiese bewyse

Betty Ketani se identiteitsdokument

Die polisie het Maandag na die huis, in Kenilworth, suid van Johannesburg, waar Betty Ketani glo 13 jaar gelede begrawe is, teruggekeer op soek na forensiese bewyse.

Polisielede het weer Ketani se tydelike graf oopgegrawe om hul moordsaak te steun, berig EWN. Ses mans is vroeër in hegtenis geneem nadat ‘n belydenisbrief onder ‘n mat in dié huis opgespoor is. Die polisie het erken dat hulle net ‘n kans waag.

Die nou, vlak graf se vorm was duidelik sigbaar toe hulle begin grawe het. Die bende het glo Ketani in die graf begrawe, en dit met sement bedek, maar haar liggaam vyf jaar later op ‘n ander plek gaan begrawe.

Speurders hoop om forensiese bewyse te bekom, byvoorbeeld droë bloed of selfs ‘n stukkie materiaal om hul saak te verstewig.

Drie van die verdagtes sal na verwagting Vrydag uitspraak oor hul borgaansoek hoor. Aanklaers in die saak het Donderdag gesê die egtheid van die belydenisbrief kan nie meer in twyfel getrek word nie, aangesien elke besonderheid in die brief reeds onthul is.

Die Staat het verlede week sy “geheime getuie”, Carrington Laughton se eksvrou, bekendgemaak. Sy het Laughton se handskrif uitgeken as die skrywer van die belydenisbrief en sowat 20 foto’s aan die hof oorhandig. Die foto’s was tot dusver in ‘n kluis gebêre en die belydenisbrief het daarvan melding gemaak.

Laughton se eksvrou het gesê dit is haar burgerlike plig om die inligting te oorhandig, maar dat sy vrees vir haar lewe indien Laughton op borgtog vrygelaat word.

Laughton sê enigiemand wat vir hom bang is “leef in ‘n droomwêreld” en hy het ontken dat hy een van sy medebeskuldigdes gedreig het.

Ketani, ‘n ma van drie, het by Cranks-restaurant in Rosebank gewerk voordat sy ontvoer, vermoor en begrawe is.

Klik hier om meer te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.