Die burgerregte groep, AfriForum, gaan die ANC-jeugligaleier, Julius Malema, en die ANC se aansoek om direkte appèl na die konstitusionele hof oor die sing van die woorde “skiet die boer”, teenstaan.
Hofstukke ter ondersteuning van AfriForum se opposisie teen Malema se aansoek om direkte verlof na die konstitusionele hof, is Vrydag by die hof ingedien en by die prokureurs van Malema, die ANC en TLU-SA afgelewer. Volgens AfriForum vra Malema en die ANC die konstitusionele hof om op ’n dringende basis uitsluitsel oor die status van die haatliedjie te gee omdat ANC ondersteuners skynbaar van plan is om die liedjie in Januarie volgende jaar tydens die ANC se 100-jarige feesvieringe te sing. Die jongste gebeure volg kort ná ’n voorval verlede week waar ’n Malema-ondersteuner en ANC jeugliga-lid Tokelo Nhlapo, wat pas tot die studenteraad van die Universiteit van die Witwatersrand verkies is, die lied met nuwe woorde “dubula lekgoa (skiet die wit mense)” op die Universiteit se kampus gesing het. AfriForum sal die week besluit oor stappe teen Nhlapo.