ʼn Bejaarde egpaar is op ʼn plaas in Rustenburg in Noordwes vermoor.
ʼn Polisiewoordvoerder, kapt. Elsabe Augustides, sê Don du Plessis (72) en sy vrou Jackie (68) is omstreeks 2:00 Woensdagoggend in hulle huis aangeval. Augustides sê ʼn besoeker het die Du Plessis’ se liggame sowat twee uur later in aparte slaapkamers in die huis gevind. Sy sê die egpaar is met ʼn onbekende voorwerp aangerand. Mev. du Plessis is ook in die kop geskiet. ʼn Onbekende bedrag geld, ʼn kamera en ʼn skootrekenaar word vermis. Augustides sê die polisie is op soek na ʼn Zimbabwiese egpaar wat vir die Du Plessis’ gewerk het. Sy sê die egpaar word met die misdaad verbind aangesien hulle verdwyn het ʼn dag voor die liggame gevind is. Die polisie ondersoek ʼn saak van moord en huisbraak.