Organiseerders van die Olimpiese Spele in Londen het ʼn beperkte aantal kaartjies te koop aangebied vir die 2012 Spele.
Hierdie kaartjies kom van klante wat vroeër kaartjies gekoop het, maar dit nou vir herverkoop beskikbaar gestel het. Die organiseerders het reeds baie kritiek uitgelok oor die verkoop van kaartjies. Hulle het ʼn ingewikkelde loterystelsel opgestel waar mense blindelings vir kaartjies moes registreer en hul kredietkaartbesonderhede moes indien voordat hulle geweet het watter kaartjies hulle aankoop. Twee derdes van diegene wat kaartjies gesoek het, kon nie tydens die eerste rondte wat in April geëindig het, kaartjies bekom nie. Bykans 22 miljoen versoeke vir kaartjies is ontvang, terwyl daar slegs 6.6 miljoen kaartjies beskikbaar was. ʼn Volgende rondte is deur rekenaarprobleme gekenmerk en Twitter was Vrydag oorstroom deur talle klagtes van persone wat kaartjies gesoek het, maar probleme met die webwerf ondervind het.