Bulls hou weer rugbypartytjie op Loftus

Kurt-Lee Arendse druk een van die Bulls se drieë teen die Ospreys. (Foto: GB Jordaan)

Die Bulls is weer terug op die wenpad in die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) nadat die Jakarandastad se rugbytrots die Ospreys met 61–24 op Loftus Versfeld getroef het.

Die tuisspan het nege drieë gedruk en beklee tans die derde plek op die amptelike punteleer met 51 punte ná 15 wedstryde.

David Kriel is as die speler van die wedstryd aangewys en die lenige buitesenter het met sy visie en driedrukvernuf op die rugbyveld uitgeblink.

Sy onderskeppoging net voor rustyd – om ʼn vlieënde Canan Moodie oor die doellyn te jaag – was ʼn gevoelige terugslag vir die Ospreys, want hulle het toe voorvoetmomentum geniet.

Dan verdien Willie le Roux ook ʼn klop op die skouer.

ʼn Paar wenkbroue het seker gelig toe Jake White die Springbok-heelagter nadergetrek het, maar die 34-jarige agterspeler laat beslis dinge op die rugbyveld gebeur.

Die tweemalige Wêreldbekerwenner het juis verlede jaar gesê dat hy glad nie in sy dop gaan kruip omdat hy bang is oor wat ondersteuners ná ʼn wedstryd sal sê nie.

Hy gáán dinge op die aanval probeer.

“As ek ʼn geleentheid op die veld sien, gaan ek dit met al twee hande aangryp. As dit uitwerk, gaan almal waarskynlik mal wees oor my en sê die Bulls het uitstekende werk gedoen. Maar as dinge nie volgens plan verloop nie, gaan hulle waarskynlik mor dat ek te oud is,” het hy destyds gesê.

Nou ja, hy het vandag die woord by die daad gevoeg en ʼn goeie wedstryd met ʼn onderskepdrie van sy eie afgerond.

Terselfdertyd het die Bulls se voorspelers weer hul stempel afgedruk, Chris Smith het Johan Goosen se losskakelskoene met gemak vol gestaan en Kurt-Lee Arendse het weer drieë gedruk.

Fort Loftus se mure is weer ná verlede naweek se Munster-neerlaag herbou.

  • Puntemakers:

Bulls: Drieë: Strafdrie, Canan Moodie (2), Kurt-Lee Arendse (2), Johan Grobbelaar, David Kriel, Embrose Papier en Willie le Roux. Doelskoppe: Chris Smith (6) en Jaco van der Walt.

Ospreys: Drieë: Luke Davies, Keiran Williams en Keelan Giles. Doelskoppe: Jack Walsh (3). Strafskop: Walsh.

David Kriel het ’n barshou teen die Ospreys gespeel. (Foto: GB Jordaan)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kuver ·

Al wie die bulle kan wen is verswakte spanne of net gewone swak spanne, net soos die lions, stormers en sharks en natuurlik met die ref se hulp, en wanneer hulle verloor dan blameer hulle ondersteuners die ref……ai

kragaap ·

Bulle looi toe die span wat die windjies op hul tuisveld geklop het. Proper.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.