Van vandag af mag Chinese egpare weer twee kinders hê, mits minstens een van die ouers self ‘n enigste kind is.
Die afgelope 30 jaar geld ‘n streng een kind-beleid om die land se bevolking van 1,35 miljard se groei aan bande te lê. Slegs wanneer beide ouers self enkel kinders was, kon aansoek gedoen word om ‘n tweede kind te kry.
Kommer dat die ekonomie vergrys en dat ekonomiese groei daardeur gedemp kan word, het die verwikkeling genoodsaak.
Die nuwe beleid sal ook verligting bring vir baie ouers wat bekommerd is oor wat van hulle gaan word as hul enigste kind voor hulle sterf. Dit is ‘n ou Chinese tradisie dat kinders vir hul bejaarde ouers sorg. Die staatstoelaes is te min om die oues behoorlik te versorg.