Curriebekerkompetisie kry prysgeld

Die WP-span vier hulle oorwinning in die Curriebeker-eindstryd in 2012. Foto: Rogan Ward/SAPA

Vir die eerste keer in die 122-jarige geskiedenis van die Curriebekerkompetisie sal spanne finansiële voordeel uit hul prestasie kan kry.

Die wenspan van die Premierliga sal ‘n tjekkie van R1,8 miljoen kan gaan bank. Die kompetisie het ‘n yslike gesigsontrimpeling ondergaan met R5 miljoen se prysgeld wat tussen die twee afdelings verdeel sal word. Jurie Roux, hoofbeampte van SA Rugby het die kompetisie as die bakermat van plaaslike rugby bestempel. “Die kompetisie is van ‘n reusagtige belang vir die provinsies, spelers, afrigters en borge en deur vir die eerste in sy geskiedenis prysgeld uit te loof, onderstreep ons die huidige status van die Absa Curriebeker en sy geskiedkundige belang,” hetRoux gesê.

Roux het aangekondig dat die prysgeld soos volg verdeel sal word:
Premierafdeling kampioen R1,8 miljoen
Premierafdeling naaswenner R1,2 miljoen
Eerstedivisie-kampioen R1,2 miljoen
Eerstedivisie se naaswenner R 1 miljoen
A-divisie se kampioen R200 00
Onder 21 se kampioen R200 000
Onder 21 se naaswenner R50 000

Unies kan die prysgeld aanwend soos hulle goed dink, maar die R1,8 miljoen vir die Premierafdeling se wenner moet ‘n bydrae van R200 000 hap vir ontwikkeling in die wenunie bevat. “Die Absa Curriebeker kompetisie is die oudste plaaslike kompetisie in die wêreld, sover ons weet,” het Roux gesê. “Die wenner het sedert 1891 net een trofee ontvang. Die toekenning van prysgeld is in ooreenstemming met sporttoernooie wêreldwyd wat uitnemendheid en prestasie van spelers vergoed.” “Baie ikone van die Springbokwêreld het die trappie na senior rugby uit die Absa Curriebekerkompetisie gemaak en ek het geen twyfel dat dit die geval met ons huidige groep jong spelers sal wees nie,” het hy bygevoeg.

Curriebeker kry botox

Die Curriebeker staan vanjaar vir die 122ste keer op haar voetstuk en SA Rugby het besluit dat dit nodig is vir ‘n gesigsontrimpeling.’n Eeu en ‘n kwart se vat en los het die tante se plooie vereger en daar is besluit dat die beker ‘n volledige restourasie moet ondergaan. Die trofee is in 1875 vervaardig en dis teruggestuur na Garrard in Londen, die Kroonjuweliers wat dit geskep het. Die verweerde handvatsel is hermoduleer en die hele trofee het ‘n ekstra goue blinklagie bygekry. “Die trofee het na 122 jaar ‘n vernuwingskuur nodig gehad nadat dit deur soveel hande is,’ het Jurie Roux, hoofbeampte van SA Rugby gesê. “Dis nou herstel tot sy oorspronlike glorie en dis nou weer die sentrale fokus van Suid-Afrikaanse rugby. Dit is ‘n ikoniese beker en sal die bron van baie rugbyherinnerings in die toekoms bly.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.